Eierbedryf spog met deurwinterde leier

Dr. Abongile Balarane. (Foto verskaf)

Die Suid-Afrikaanse Pluimveevereniging (SAPV) het verlede week ʼn nuwe hoofbestuurder vir die Eierorganisasie aangestel. Dr. Abongile Balarane, ʼn landbou-ekonoom, het sy plek as hoof van hierdie bedryfsorganisasie ingeneem.

“Ek is baie opgewonde om in hierdie uitdagende tyd by die pluimveebedryf aan te sluit,” sê Balarane. “Die huidige uitbreking van die hoogs patogeniese voëlgriep (HPAI) het die bedryf op sy hoede en SAPV en sy Eierorganisasie is op ʼn gereedheidsgrondslag en het ’n omvattende reaksieplan sodat alles moontlik gedoen kan word om die impak van die siekte te verminder. Ons neem hierdie krisis baie ernstig op.”

Die Eierorganisasie is ʼn onafhanklike filiaal van SAPV met die doel om die eierbedryf te bevorder, te ontwikkel en leiding aan kommersiële boere te gee. Dié liggaam se prestasie word aan die toename in eierverbruik per kapita in Suid-Afrika gemeet.

“Tydens die vorige HPAI-uitbreking in 2017 is die lêhenbedryf die swaarste deur die siekte getref, en ons hoop dat die waardevolle lesse wat gedurende dié tydperk geleer is, die bedryf in staat sal stel om die huidige impak te verminder.”

As ʼn ekonoom werk Balarane die afgelope dekade in die landbousektor. Hy was voorheen verbonde aan die Nasionale Landboubemarkingsraad (NAMC) en het baie kundigheid in die graan- en oliesadebedryf opgedoen. Hy het vroeër ook by die Landbank en Noordwes se departement van landbou gewerk waar hy ervaring in beleidsvorming en ontwikkeling van landbou-ondernemings opgedoen het. Hy was onder andere getaak om kleinboere in die kommersiële hoofstroom te integreer.

“Die bedryf word in die gesig gestaar deur uitdagings soos die stygende koste in die belangrikste voerkomponente en dit sal ’n gebied wees waaraan ek aandag sal gee. Ek sien ook daarna uit om ’n rol in die huidige ontwikkeling van ’n meesterplan vir die eierbedryf te speel om die mark vir meer produsente reg oor die land oop te maak,” sê Balarane.

Die vermoë om in hul eie taal met boere te praat om inligting oor marktoegang te deel, is nog ’n waardevolle vaardigheid wat Balarane na die tafel bring – hy praat nege van Suid-Afrika se amptelike tale.

Hy het sy doktorsgraad in landbou-ekonomie in 2016 voltooi en het verskeie navorsingsartikels gepubliseer en lesings op plaaslike en internasionale platforms aangebied.

“Dit is vir my ’n voorreg om betrokke te wees in ’n bedryf wat soveel Suid-Afrikaners ’n bekostigbare bron van proteïene bied, en ek hoop om ’n verskil in die sektor te maak deur samewerking tussen rolspelers in die bedryf en die betrokke staatsdepartemente te bevorder.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Stof ·

Daar is seker nie een nasie wat nie hoë agting het vir die eier nie. Sedert die skepping al, is daar al verwyssings na verskillende voëls se eiers wat deur die mens geëet word. Ook is die simbool vir ‘n eier, een van die vroegste om voor te kom in antieke tale soos Sumeries.
My opregte dank aan ons geveerdes, vir die gewaardeerde inset wat hulle in ons fisieke welstand lewer.

Anel ·

Ja, nê. Solank Afrikaanse mense net nie in Afrikaans gehelp word nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.