Eksotiese truffelverbouing nou oop vir SA boere

Truffels wat Miros pas uit die grond gehaal het. Foto: Rodger Bosch/AFP)

Die dorre Koue Bokkeveld is gepas benoem as een van die koudste plekke in Suid-Afrika en sneeu in die winter is ʼn gegewe. Hierdie pragtige streek in die Sederbergreeks staan ook bekend as “Klein Switserland”.

Hierdie Europese verbintenis het verder heel toepaslik geword toe die eerste truffelplaas hier tot stand gekom het. Volgens die boer, Volker Miros (81), stem die klimaat baie ooreen met dié in Europa waar truffels al langer as 2 000 jaar gesoek en geëet word.

Hy was vasbeslote om hierdie sensitiewe maar peperduur swam op hulle familieplaas in die Sederbergreeks te verbou, waar die klimaat soortgelyk aan Mediterreense Europa is.

“Ons het gekyk waar truffels in die res van die wêreld verbou word en dit is in die Noordelike Halfrond, ongeveer op die breedtelyn van 32 tot 35 grade,” sê hy.

“Dieselfde geld vir 35 grade suid”, waar hulle familieplaas ongeveer 1 100 m bo seespieël lê.

Miros sê hy is gek oor sampioene en het as kind saam met sy oupa in die Swartwoud in Duitsland sampioene gepluk. Hy het probeer om sampioene op die plaas in Suid-Afrika te kweek, maar was nie suksesvol nie. Later het hy ʼn kosfotograaf geword.

Vandag is hy ʼn baanbreker in die ontluikende truffelbedryf in Suid-Afrika. Sy onderneming, Woodford Truffels SA, het ook sy eie medium gepatenteer waarmee die swamme gekweek word.

In 2009 het hy spore van die Franse Perigord-variëteit ingevoer, wat as die “swart diamant” van die kookkuns beskou word. Daarmee het hy die wortels van eikeboompies ingeënt wat dan op die plaas en in die omgewing aangeplant word.

Ná tien jaar van eksperimentering en foute maak, asook tonne kalkstrooiery om die suurheid van die grond teë te werk, is die eerste truffels uiteindelik uitgegrawe.

“Afgesien van die koue speel die pH van die grond ʼn baie belangrike rol. Die meeste landbougrond in Suid-Afrika het ʼn lae alkaliniteit en moet aangepas word deur byvoorbeeld groot hoeveelhede kalk by te voeg.

“Ons produksietegnieke is gevorderd en gegrond op wetenskaplike metodes wat tans internasionaal gebruik word. Wat ook baie belangrik is, is die hegte verhoudings wat ek met die wetenskaplike gemeenskap oor die hele wêreld gebou het en wat ons dus kan raadpleeg. Soos met enige boerdery wat na sukses streef, word Woodford Truffels SA se boompies deeglik gemonitor, wat derhalwe tot suksesvolle oeste lei.”

Volker Miros inspekteer die wortels van die eikeboompies om te kyk of die truffel begin groei het. (Foto: Rodger Bosch/AFP)

Vir 18 maande word die boompies dopgehou om te sien of die truffel “gevat” het, voor dit uitgeplant kan word. Die “vrugbare” boompies word dan vir kontrakboere oor die hele land, met ʼn soortgelyke klimaat as die plato’s van die ruwe Sederbergreeks, gestuur. Tans is daar al 100 ha onder truffel aangeplant. Sommige van hierdie boorde produseer reeds vir restaurante en privaat kopers.

Die vrugbaarste bome lewer elke seisoen nagenoeg 10 kg truffels per hektaar, wat strek oor die koudste maande vanaf Junie tot Augustus. Truffel is ʼn seisoensproduk en is in hierdie kort tydjie slegs in restaurante beskikbaar.

Een van Woodford Truffels se werknemers is ʼn hond wat geleer is om die truffels uit te ruik. Dit maak die oestaak aansienlik makliker aangesien slegs die regte eikebome se wortels oopgegrawe hoef te word.

Die Woodford-truffel word beskou as ʼn hoëgehalteproduk en word tans teen R20 000 per kilogram, amper gelykstaande aan Europese markkoerse, verkoop. Die meeste kopers is plaaslike, luukse restaurante wat eers onlangs begin het om die eksotiese lekkerny in hulle geregte te sit.

Die Black Winter ‘Perigord’ Truffle, Tuber Melanosporum. (Foto: woodfordtruffles.co.za)

“Suid-Afrikaners het nie so iets soos truffels geken nie,” sê Paul, Volker se seun. “Een van ons grootste uitdagings was om mense te oortuig om vars truffels te koop en op die proef te stel, want dit hou net ongeveer drie weke sodra dit uit die grond gehaal is.” Hy vergelyk die smaak met die reuk van ʼn nat woudbodem.

“Dit sit ook nie in elke sjef se broek om daarmee te kan kook nie,” sê hy.

Paul is self lief om met truffels in die kombuis te eksperimenteer. “Ek hou van vanieljeroomys met ʼn bietjie truffel daarin. Die romerige tekstuur dra die truffelsmaak regtig uitstekend.”

Mense wat belangstel om ook truffelboere te word, kan met Woodford Truffels SA kontak maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
Elinette

Eh ….. nee dankie, ek bly maar by my gewone ou knopie-sampioene. Daai tros …e… swamme lyk werklik nie aangenaam nie.

Tanniepetoors

Ek is baie lief om vir ons pragtige woude, maar het regtig nog nie die heerlike reuk van ‘n woudbodem as eetbaar oorweeg nie. Pas sekerlik ook nie my beursie nie.

Swerwer

Lyk baie snaaks………….maar sal enetjie probeer vir die smaak. Ouma het geglo hoe leliker/snaakser
‘n ding lyk hoe lekkerder smaak hy!