Fel kompetisie onder Wes-Kaapse Jongboer-finaliste

Die deelnemers aan vanjaar se Agri Wes-Kaap Santam Landbou Jongboer van die Jaar-kompetisie kom uit ʼn verskeidenheid landbousektore en het hard gewerk om tot hier te kom. Die Wes-Kaapse wenner word Woensdagaand 19 Mei tydens ʼn geleentheid in die Paarl aangekondig en lede van die publiek sal dit aanlyn kan volg.

PF Theron, voorsitter van die Agri Wes-Kaap Jongboerkomitee, sê hulle is opgewonde om vanjaar weer ʼn jongboer-kompetisie te hê nadat dit verlede jaar op nasionale vlak as gevolg van Covid-19 afgestel is. Die provinsiale wenner sal later vanjaar meeding om die nasionale titel van Agri SA Toyota SA Jongboer van die Jaar.

Die finaliste:

Jo-andra Cloete Greegory (34) is alleeneienaar van ʼn hoenderboerdery, Our Poultry Place, op die Joostenbergvlakte. Sy het haar onderneming in 2016 sonder enige lenings of toelaes met 100 hoenders in ʼn informele nedersetting begin. Vandag huur sy vyf hektaar grond en verskaf 10 000 dagoud-kuikens per maand aan opkomende produsente.

Joandra Cloete Greegory. (Foto verskaf)

Sy sê haar visie is om die voorkeur pluimveeplaas te wees waar alle benodigdhede onder een dak is: van dagoud-kuikens tot voer, medisyne en toerusting. Om haar insetkoste te beperk en die omgewing te beskerm, gebruik sy herwinbare materiaal.

Jo-andra is ʼn lid van die Stellenbosch Landbougenootskap en haar medelede is vol lof vir haar deursettingsvermoë. Volgens hulle is sy doelgerig en lewer sy ʼn belangrike produk aan hoofsaaklik die informele mark waar die aanvraag na braaikuikens groot is. Sy is innoverend in haar denke en besluitneming en het deur toewyding ʼn boerdery-onderneming begin wat tot die ekonomiese ontwikkeling van die gebied bydra, meen hulle.

Alexander Gibson (31) boer op Doornkraal Agri in die Witsenbergvallei naby Ceres. Hy boer die afgelope 10 jaar met 300 ha appels en 110 ha pere en sê hy sal graag vertakkings wil byvoeg om sy risiko te versprei.

Alexander Gibson. (Foto verskaf)

Die plaas verkoel, verpak en bemark al die vrugte self en volgens Alexander is dit ʼn groot voordeel omdat die produk in hulle hande bly. Hy probeer ook altyd op hoogte van die nuutste en beste praktyke in die bedryf bly en wil graag ʼn groener benadering begin volg, soos om sonkragstelsels op te rig en meer aandag aan herwinning te gee.

Alexander is lid van die Witsenbergvallei Landbouvereniging waar hy op die dagbestuur dien en in beheer van die landelike veiligheidsportefeulje is. Sy medeboere sê Alexander pas voortdurend by veranderlikes aan en dat hy hom toespits op die implementering van nuwe tegnologie. Volgens hulle het hy besondere leierseienskappe waarmee hy die gemeenskap dien.

Derec Giles (38) boer op Dwarsfontein in die Uniondale-distrik. Hy boer al 20 jaar met groentesaad, volstruise en skape en het ook ʼn vleisbeesvertakking met kruiskoeie wat hy met Sussex-bulle dek. Hy sê sy visie is om elke vertakking optimaal binne goeie bestuur- en bewaringspraktyke te bedryf.

Derec Giles. (Foto verskaf)

Hoewel die voortslepende droogte in die gebied ʼn impak op sy boerdery het, fokus hy op beter waterbenutting en beter keuses op weidingsaanplantings om die droogtetoestande te bestuur. “Ek moes al baie planne maak om te oorleef en kompeterend te bly, maar ek bly optimisties oor die toekoms. Ek is ʼn aanhouer en hardwerkend wat graag my kennis deel en help waar ek kan,” sê hy.

Derec is al as preie-saadkweker en lente-uie-saadkweker van die jaar bekroon. Hy was die afgelope sewe jaar die sekretaris van die Agri Uniondale Landbouvereniging en is ook die voorsitter van die plaasveiligheidskoördineerders. Volgens sy medeboere is Derec ʼn harde werker wat graag die leiding neem waar dit nodig is.

Floris Steenkamp (38) boer al vir 19 jaar en die afgelope sewe jaar op Kromfontein in die Koue Bokkeveld. Hy is die produksiebestuurder en verbou appels en pere. Hy het in 2006 ook sy eie grond by Sutherland gekoop waar hy met basterooie boer.

Floris Steenkamp. (Foto verskaf)

“Daar is twee goed wat ek verstaan, dit is ʼn vrugteboom en ʼn skaap. Albei praat met my en ek verstaan hulle,” sê dié bestuurslid van Bewaringslandbou Wes-Kaap. Sy visie vir die toekoms is juis om bewaringslandbou as deel van ʼn holistiese, volhoubare en winsgewende boerdery-opset tot voordeel van hul werkers, die natuur en sy gesin te bedryf. “Alle take wat ek aanpak, probeer ek op die regte tyd, met die regte hulpbron, op die regte manier te doen,” sê Floris, wat ook lid van die Koue Bokkeveld Veiligheidsgroep is.

Volgens sy medeboere is hy ʼn kenner op sy vakgebied wie se goeie oordeelsvermoë en regte besluite in sy resultate gesien word.

Kleinjan Teubes (30) is al vir 11 jaar bedrywig met droogdruiwe, wyndruiwe, groente en steenvrugte op Versig buite Vredendal. Hy beklee die pos as hoofbestuurder van die plaas. In 2017 het hy ook twee hektaar nektariens aangeplant wat tans baie positief lyk.

Kleinjan Teubes. (Foto verskaf)

Die droogte in die Matzikama-distrik het ʼn impak op sy bedrywighede gehad, maar Kleinjan sê hy gaan alles wat hy in die droogte geleer het, verder toepas. “Ek soek altyd geleenthede waarop ons kan kapitaliseer, soos die grond wat ek in die droogte gekoop het en wat homself ʼn jaar later betaal. As jy die keuse maak om suksesvol te wees, moet jy die wil hê om dinge te maak werk,” sê hy.

Kleinjan, as deel van die Oliphantsherlewing-landbougroep, sê hy wil ʼn 100% volhoubare boerdery bestuur met elke vertakking wat op sy eie bene staan.

“Tegnologie speel ʼn belangrike rol in die boerdery en hoe vinniger jy dit inbring, hoe vinniger gaan jy die waarde sien. Ek wil herlewingslandbou ook ʼn prioriteit maak,” sê hy.

Sy medeboere by die Vredendal Landbouvereniging sê daar is geen beter voorbeeld vir passievol as Kleinjan nie, wat ook ʼn lid van die plaaswag is. Boerdery of gesinsman, hy doen alles altyd tot die beste van sy vermoë, sê sy medeboere.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.