Fendt se nuwe bandtrekkers trap vlak spore

Die Fendt 900 Vario MT (Multi-Tracked) se rusperbande verhoed hom nie om soos wieltrekkers op ‘n tiekie te draai nie. (Foto: Verskaf)

Die Duitse trekkerbouer Fendt, wat bekend is vir sy tegnologies gevorderde kragreuse, het sy nuwe 900- en 1100 Vario-rusperbandtrekkers in Suid-Afrika bekendgestel.

Fendt het meer as 30 jaar se ondervinding in die bou van trekkers wat veral bekend is vir ʼn hoë werkverrigting. Hierdie maatskappy wat in die AGCO-kraal is, het in 2017 amptelik sy buiging in Suid-Afrika gemaak.

Benewens doeltreffendheid en gemak, is grondbeskerming ʼn belangrike faktor wanneer Fendt sy trekkers ontwikkel en dit kom duidelik na vore in die jongste twee modelle.

“Anders as met ander rusperbandtrekkers is die Fendt 900 Vario MT (Multi-Tracked) nie bloot ʼn wieltrekker wat aangepas is nie; dit is as ʼn suiwer rusperbandtrekker ontwikkel,” sê Frans Cronje, streeksverkoopsbestuurder van Fendt, AGCO Afrika.

Die slim ingenieurs by Fendt het dit reggekry deur die asafstand tussen die rusperbande tot 2 565 mm te verleng, wat 130 mm langer is as dié van die vorige modelle.

“Dit beteken meer trekkrag, minder grondverdigting en ʼn optimale gewigsverdeling oor die hele kontakoppervlak, selfs in die geval waar ʼn swaar vrag gesleep of opgetel word. Boonop was optimale rygerief ook een van die ontwerpers se voorwaardes,” sê hy.

Die Fendt 900 Vario MT is as ‘n suiwer rusperbandtrekker ontwerp. (Foto: Verskaf)

Die rusperbande is in drie breedtes beskikbaar. Die totale grondkontakoppervlakte van die 25” breë bande is 3,25 m², die 30” bande is 3,90 m² en die 34” bande is 4,42 m².

Rusperbandtrekkers is berug daarvoor dat hulle ongemaklik ry, maar Fendt se nuwe SmartRide-vering, met twee bykomende opsies om die kajuit se eie vering te verstel, bied verrassende bestuursgemak vir ʼn bandtrekker.

Die bokant van die SmartRide-hardebalk-veringstelsel is gelyk, waarop die raam met behulp van spiraalvere, skokbrekers en geluidlose rubberblokke gemonteer is. Dit maak ʼn beweegafstand van 217 mm moontlik.

Die sentrale drabalk kan 11° na weerskante ossilleer om maksimum grondkontak vir die bande op ongelyke grond te verseker. ʼn Koppelstang (Panhard-staaf) verhoed enige kantbewegings en stabiliseer die bande in hul lengte.

 

Fendt 1100 Vario MT

Die Fendt 1100 Vario MT is die eerste rusperbandtrekker in sy klas wat met ʼn traplose (stepless) ratkas toegerus is, wat die algehele werksverrigting en doeltreffendheid van die trekker aansienlik verhoog.

Daar is vier modelle beskikbaar waaruit ʼn boer kan kies, met enjingroottes wat wissel van 381 kW tot 461 kW. Die drie kleinste modelle, die 1151, 1156 en 1162 is met ʼn 15,2 liter MAN-sessilinder-enjin toegerus en die ouboet, die 1167, spog met 16,2 liter, wat ʼn ongelooflike 502 kW uitsit om in uiterste kragvereistes sy man te staan.

Die Fendt 1100 Vario MT se agterste hyser kan heen en weer swaai, wat help dat sleepwerktuie makliker beheer kan word. (Foto: Verskaf)

Met behulp van ʼn Common rail-brandstoftoevoerstelsel met ʼn inspuitdruk van tot 2 500 bar en ʼn turbo-aanjaer met veranderlike turbine-geometrie (VTG), kan krag egalig en dinamies gelewer word, selfs teen ʼn lae enjinspoed.

Die 1100 se agterste hyser is nou so ver gevorderd dat dit teen 12° in beide rigtings kan swaai. Dit verbeter die stabiliteit en beheer van enige trekwerktuig en as daar byvoorbeeld ʼn hindernis in die veld is wat die werktuig van sy spoor af dwing, kan dit gesystap word sonder dat die trekker sy baan hoef te verlaat.

 

Fendt 900 Vario MT

Die Fendt 900 Vario MT word deur ʼn sewesilinder AGCO Power-enjin met ʼn kapasiteit van 9,8 liter aangedryf, wat tot 317 kW teen ʼn spoed van slegs 1 700 rpm kan lewer. ʼn Maksimum wringkrag van 1 921 Nm teen slegs 1 450 rpm is moontlik, danksy die Fendt iD-laespoed-ontwerp. Die enjinspoed wissel tussen 1 000 en 1 700 rpm, terwyl die enjin se luierspoed slegs 800 rpm is. Twee turbo-aanjaers in serie met ʼn vaste geometrie sorg vir konstante kraglewering.

Die 900 met sy rusperbande is nie bang vir ʼn teerpad nie en kan ʼn padspoed van tot 40 km/h handhaaf, teen ʼn baie lae 1 550 rpm. Saam met die Fendt iD-lae-enjinsnelheid-funksie lei dit tot die laagste moontlike brandstofverbruik.

The Fendt 900 Vario MT is met ‘n kragtige sewesilinder, AGCO-enjin toegerus. (Foto: Verskaf)

Vir die operateur om ook sy beste te gee is dit noodsaaklik dat die kajuit en kontroles ergonomies en maklik is om te gebruik en Fendt laat sy operateurs nie in die steek nie. Die 900 en 1100 se kajuite is ruim en bied uitstekende sigbaarheid en gebruiksgemak op die klassieke Fendt-manier.

Dit is verspotmaklik om die werking van die masjien op die Varioterminal met sy groot, 10.4” raakskerm te monitor en keuses uit te oefen. Die multifunksionele armleuning en ingeboude beheerstuk stel die operateur in staat om vinnig en maklik die reusemasjien te tem en laat doen presies wat hy wil hê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

VaalDonkie ·

Jy weet daar kom moeilikheid as jy na die handelaar se webtuiste gaan en in plaas van ‘n prys is daar net ‘n “please contact us for a quote”.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.