Foto’s: Nampo begin met ʼn glinster in die oog

EV Global bou en giet bakwerke te kies en te keur en monteer dit op golfkarretjies se onderstelle. Heinrich du Preez, die eienaar, sê omdat dié elektriese voertuie so stil is, is dit baie gewild op wildplase vir wildbesigtigingritte, maar ook om renosterstropers te verras en hulle aan te keer. In die Jeep sit sy kollega Reinhardt Mynhardt.

Ná twee Nampo-lose jare het die dag uiteindelik aangebreek waarop Nampo Park, buite Bothaville, weer lewe gekry het.

“Ons was nou moeg om ingehok te wees,” het een man die algemene gevoel oor OFM so mooi verwoord, wat ook ʼn stalletjie op die skouterrein gehad het. “Dit werk nie aanlyn nie, ons wil dit in lewende lywe ervaar,” het hy bygevoeg.

ʼn Mens kan inderwaarheid die sug van verligting hoor en ook ʼn afwagtende opgewondenheid aanvoel as jy met die uitstallers en besoekers op die skou gesels. Ongelukkig het die bek-en-klouseer-uitbreking wat onlangs, tot so naby as Viljoenskroon voorgekom het, ʼn demper op die vee-uitstalling geplaas.

Maroela Media het by verskeie uitstallers ʼn draai gemaak om te hoor wat hulle vanjaar vir boere kan bied en hoe hulle die skou tot dusver ervaar.

Die Wagyu-telergenootkap het weens die bek-en-klouseer-uitbreking besluit om nie enige diere na die skou te bring nie, maar hul span het ingespring om 6 000 patties by die NG kerk Vierfontein se stalletjie gebraai. As jy graag wil proe hoe hierdie eksotiese vleis smaak, kan jy ʼn hamburger teen ʼn fraksie van die gewone prys daar gaan koop.

 

Toyota se Hilux’e wys hul staal op die Toyota Urban Trax se hoë en steil rybaan.

 

Jan Swart, tegniese raadgewer van DanBred wat genetika uit Denemarke invoer om plaaslike varkgenetika te bevorder, wys hoe lyk die bere van die drie lyne waarmee hulle teel. Voor is ʼn duroc, ʼn groot wit en agter is ʼn landras. Links van hom staan Wayne Coetzee, verkoopsman by Big Dutchman, wat varkboertoerusting verskaf.

 

Met die plattelandse paaie wat so dramaties verswak en boere wat moet inspring om dit self te herstel, kry Van Zyl Staalwerke baie navrae na hul smal skraper. Hierdie V200 is 3,4 m breed. Proppie van Deventer en Tiaan Kloppers is verkoopsmanne en Niel Marais is ʼn direkteur.

 

Al 11 van die Landbounavorsingsraad se afdelings het in die LNR-saal uitgestal en die personeel met hul wit laboratoriumjasse moes uithaal en wys wat hulle vir landbou doen.

 

 

Jacqui van Emmenes, bemarkingsbestuurder, en Fanie le Roux, streeksbestuurder van Brasuda, wys wat het die Brasiliane in die 1950’s, slegs deur natuurlike seleksie, met Suid-Afrikaanse bloubuffelsgras uitgerig. Links van haar is ʼn plaaslike kultivar aangeplant en in die ry tussen haar en Fanie, asook in die een regs van hom staan kultivars wat in Brasilië veredel is. “Vir die meeste kultivars wat terug van Brasilië af kom, is die volume, asook die proteïen-inhoud 1,5 tot 2 keer meer as die Suid-Afrikaanse eweknie.”

 

Die Nasionale Wolkwekersvereniging bied daagliks wolskeerdemonstrasies aan. ʼn Skaap sit geduldig en wag dat Kain Notsi van Trompsburg in die Vrystaat hom klaar skeer.

 

CW Dreyer, boer en bestuurslid van die Kalahari Reds, sy vrou Alida, sekretaresse en Kallie Lingenvelder van CMLW Kalahari Reds-boerdery tussen Nylstroom en Vaalwater glimlag breed in hul stalletjie tussen hul diere.

 

Martiens de Jager, boer en waarnemende president van die Simmentaler-genootskap, sê dié ras is al 130 jaar in die land, baie goed op die veld aangepas en bied uitstekende melk vir kalfgroei. “Weens sy goeie voeromset noem ek hom die braaikuiken van die vleisbedryf,” sê hy. Chantel Viljoen is ʼn administratiewe beampte by dié genootskap.  Die diere saam met hulle in die vertoonkamp kom van die plaas River Valley naby Vereeniging.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Pieter ·

Ek sal graag wil weet hoeveel besoekers hulle op die eerste dag gekry het?

Manie ·

Die kostes daaraan verbonde om te kan uitstal, kos ook ‘n arm en ‘n been, sonder die versekering dat jy enige besigheid daaruit gaan kry.

Gerra ·

Media kan maar fotos plaas tot oorlopens toe. Ons het elke jaar Nampo toe gegaan, maar weier om hierdie gifsertifikaat te ondersteun.
Kyk maar na die fotos….. daar is geen mense in die agtergrond. Wanneer ons jaarliks, in die koue, in rye staan en almal die dag sien breek alvorens ons by die hekke kon in, het mense hulself gehaas na stalletjies. Vroeg afgeneem of nie, daar was altyd al vroeg oggend n stormloop van besoekers om soveel as moontlik te doen en te sien in n dag.
By Toyota se trajek het mense elke jaar oral om daai area gestaan om te kyk!
Nee wat Nampo….. ons weet daar gaan geen besoekersrekords gebreek word hierdie jaar!
Maar gelukkig het die Royal Agricultural Show besluit om nie julle aanslag na te volg!

Misky ·

Jammer Nampo, miskien volgende jaar en die inenting nonsens tot ‘n einde. Ons hoop van harte so.

Nettie ·

Hahahahahahahaha….. hulle het bietjie propaganda nodig, sien ek. ;-) Kom kom, vertel eerder die waarheid aan die lesers, toe? Is dit nie waarvoor die media daar is nie? Om beide kante van die storie te vertel?

Jan ·

Ek sien daar’s meer vliegtuie en helikopters in die parkeerarea as motors

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.