#Gaanjagdag gooi reddingsboei vir wildboere

Francois Rossouw, uitvoerende hoof van Saai; Richard York, uitvoerende hoof van WRSA; Gerhard Heyneke, voorsitter van WRSA; dr. Theo de Jager, direksievoorsitter van Saai; Ro’an van Tonder, eienaar van Meerkat Veilings, Meyer le Roux, eienaar van die Buffelsfontein Beesboerdery-restaurant; Iné Bester, projek- en bemarkingskoördineerder van Saai en Adam Tas, sanger en direksielid van Saai, is vasberade om Suid-Afrikaanse wildboere uit hul verknorsing te help.

Hoewel landbou besonders goed presteer ten spyte van die ekonomiese uitdagings tydens die nasionale inperking, is daar ʼn handvol bedrywe, insluitend wyn-, tabak- en wildboere, wat sukkel om kop bo water te hou. Die nagevolge gaan nog lank met hulle wees en vindingryke planne moet beraam word om hierdie bedrywe weer op koers te kry.

“Die nood onder wildboere is groot omdat buitelandse jagters hulle nie tydens die inperkingstyd van ʼn inkomste kon voorsien nie,” sê dr. Theo de Jager, direksievoorsitter van Saai (Suid-Afrikaanse Agri Inisiatief). “’n Wesenlike deel van die meer as R16 miljard wat dié bedryf jaarliks tot die ekonomie bydra, is van buitelandse trofeejagters afhanklik en hulle kon verlede jaar nie in Suid-Afrika kom jag nie. Vanjaar gaan dit nie veel beter nie en wildboere het ál die hulp nodig wat hulle kan kry.”

Daarom het Saai, WRSA (Wildbedryf Suid-Afrika), Meerkat Veilings en Buffelsfontein Beesboerdery se restaurant in Pretoria, kragte saamgesnoer en ʼn omvattende veldtog, #gaanjagdag, van stapel gestuur wat gisteraand by die Buffelsfontein-restaurant bekendgestel is. Wildsvleis is op verskeie en vindingryke maniere aan gaste voorgesit, wat voorste kleinhandel-vleisverspreiders, restaurant- en hotelgroepe ingesluit het, om die vraag na wildsvleis ’n hupstoot te gee.

Plaaslike jagters kan ook mildelik bydra om die kritieke gate toe te stop wat buitelandse jagters laat. “Daardie biltongjagters wat dalk nie elke jaar in die veld kom nie moet gemotiveer en bygestaan word om dit vanjaar te doen, want elke plaaslike jagter wat hierdie seisoen op ’n wildsplaas gaan skiet of kuier, beteken ’n tree nader aan oorlewing vir daardie wildboer,” sê De Jager.

“Soos met enige ander landboukommoditeit word daar met wild geboer en geteel om ‘n inkomste te verdien,” sê Gerhard Heyneke, voorsitter van WRSA. “Dit stel wildboere in staat om finansieel te oorleef, spesies te bevorder en dus habitatbeskerming van hierdie spesies te doen. Die oor en weer verkoop van wild verbeter ook die diere se genetika. Die majestueuse gehalte van die diere van weleer word hierdeur herstel, wat ‘n groot bydrae aan die jagmark en ekotoerisme lewer en gesogte handelsprodukte bied.”

“Die gehalte van Suid-Afrikaanse wild begin ook toenemend ‘n groter rol speel wanneer veral internasionale jagters Suid-Afrika as ʼn belangrike bestemming kies weens die uitstaande trofeë wat hier te vinde is. Selfs die jag van kleurvariante, wat ‘n groter verskeidenheid aan die jagter bied, bring welkome inkomste aan die wildboer, asook bykomende jaggeleenthede vir jagters. Ons moet ook onthou dat die Suid-Afrikaanse internasionale jagmark oor ‘n 10 jaar periode konstant teen 10% per jaar gegroei het, tot voor die inperkingstydperk in Maart 2020.”

“Hoewel wildboere uiters uitdagende tye beleef, is die bedryf ook in ‘n baie belangrike ontwikkelingsfase. Die mark behoort nou weens die nodige wêreldwye inentings stelselmatig te herstel,” sê Heyneke.

As deel van die #gaanjagdag-veldtog word jagpakkette op die nuwe digitale landbouveilingplatform, Meerkat, verkoop, met ’n fasiliteit vir elke wildboer in Suid-Afrika om sy pakkette op te laai.

Jagters met Android-slimfone, wat uitgehonger is vir ʼn stukkie biltong, kan hier die Meerkat-app aflaai om op die jagpakkette bie en iPhone-eienaars kan hierdie skakel volg. Vir meer inligting kan Meerkat-aanlynveilings hier en hier besoek word.

“In hierdie grootse poging om reddingsboeie vir familiegebaseerde wildboere uit te gooi, het Saai en WRSA elke helpende hand wat uitgesteek word baie nodig. Dit gaan oor veel meer as jag, biltong, braai of saam kuier. Dit gaan oor ’n gesin op ’n familieplaas waar hulle naam aan die hekpaal hang, en wat jou deelname nou nodig het,” sê De Jager.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

9 Kommentare

jongste oudste gewildste
Ou Baardbek

Dankie vir die poging om te help. Ongelukkig is daar deesdae bitter min JAGTERS; meestal “skieters”, wat nie kans sien om die huislike geriewe waaraan hul gewoond is te ontbeer nie. Hulle wil sogenaamd JAG, maar eintlik wil hulle bloot na die diere skiet. Die plaaseienaar moet daarna ALLES vir hulle doen; die dier herwin, die dier ontwei, die karkas koel hou, en dikwels sorg dat daar genoeg koelfasiliteite is vir al die drank wat hulle saam karwei. Dis nou die “nuwe” jag! :-(:-(

Neushoringvoel

Ek het baie simpatie met die jagboere… Dit is net toe ek by hiedie buitelandse jagplase wou gaan jag, is daar botweg gese “jammer maar ons laat nie biltong jagters op ons plase toe nie”. Nou is ons welkom? Jammer, maar ek gaan hierdie jaar weer by daai biltong plaas jag wat my altyd vriendelik ontvang en waar ek altyd welkom is. En dalk daar my trofee bokkie jag.

offshore

ja die binnelandse jagters moes net hoor van al die reels en beperkings en hoe kostes toe net die buitelanders welkom was. Die wiel draai. Laat die wildsplaas dan nou maar eers uit sy spaarbussie haal wat hy als die jare gemaak het, net soos ons normale besighede en werkers nou moet doen.

Stofdonkie

Die jagplase het buitelanders uitgebuit. Hulle was ook heel grootbek om te vertel hoe hulle nie plaaslike jagters wil hê nie. Nou is die plaslike jagters weer goed genoeg om hulle te moet red? Ag nee wat, ek dink die plaaslike outjies kan maar nog so seisoen uithou, dan kan ons volgende jaar gaan jag by boere wat teen redelike pryse hulle wild vir die plaaslike mark wil aanbied.

Rudolph

Ek sal geen ondersteuning gee aan enige bedryf wat diere eksploiteer, mishandel, op teiken skiet nie