Gemengde gevoelens oor eerste veselveilings

Skaapwol (Foto: Annie Spratt, Unsplash)

Die eerste sybokhaarveiling en die eerste wolveiling vir die 2023‑’24-seisoen is vroeër die week aangebied en in albei gevalle het die markte swakker gesluit.

Sybokhaar verkoop beter

Te midde van die dollar, euro, pond en yuan wat onderskeidelik op ʼn skrikwekkende R19,18, R20,97, R24,40 en R2,63 gestaan het, was daar ʼn 4,8%-afname in die mark, maar verwagtinge is oortref toe 80% van die sybokhaar wat aangebied is, verkoop is.

Die gemiddelde markaanwyser vir bokhaar wat volgens die verantwoordelike sybokhaarstandaard (RMS) geproduseer is, het met 5,8% geval en die nie-RMS‑wyser het met 3,8% gestyg.

House of Fibre (HF) se bemarkingspan sê hy was aanvanklik skrikkerig dat die verkoopkoers baie laer sou wees weens swak oorsese aanvraag, veral uit China, wat weens sy onlangse ekonomiese probleme geen bokhaar gekoop het nie.

Daarbenewens veroorsaak die voortdurende konflik tussen Rusland en Oekraïne ekonomiese ontwrigting in Europa, wat belegging in die sektor ontmoedig.

Ten spyte van dié uitdagings het HF die hoogste prys behaal toe sy beste lot vir R757/kg aan Vitale Barberis Canonico van Italië verkoop het. Dit was vir kleinbokkiehaar met ʼn superstyl, B-lengte, 24,8 mikron met ʼn skoonopbrengs van 88,5%.

Samil, Stucken en Mosenthals was die drie vernaamste kopers wat onderskeidelik 41,4%, 31,9% en 19,37% van die verkoopte haar opgeraap het.

Daar word verwag dat die volgende veiling op 5 September baie groter sal wees, met die hoop dat dieselfde aanvraag en verkoopkoers behaal sal word.

Wol trek swaar

Die eerste wolveiling se aanbieding het uit 8 003 bale bestaan nadat 2 125 bale voor die aanvang van die veiling onttrek is. Die algehele verkooppersentasie was 90,55%.

Volgens Cape Wools SA het die versterkende rand teenoor die Amerikaanse dollar op die tweede dag van die veiling, asook onsekerheid in die Australiese mark, verhandeling bemoeilik.

Gesertifiseerde wol het uit sowat 58% van die merino-aanbod bestaan en die mark mooi ondersteun. Die totale verkooppersentasie was 90,55%.

Die nie-gesertifiseerde volhoubare wolaanwyser het met 4,5% gedaal tot R158,08/kg en die gesertifiseerde volhoubare wolaanwyser het met 3,5% gedaal tot R172,79/kg.

Die Australiese mark het met 1,1% (AUS$) gedaal teenoor die vorige plaaslike veiling wat op 9 Augustus plaasgevind het. Die Ooste se markaanwyser (EMI) is 1,8% laer teenoor die laaste markverslag wat op 7 Junie vanjaar uitgereik is.

Die vernaamste kopers op die veiling was: G Modiano SA met 2,283 bale, Tianyu SA met 1,631, Standard Wool SA met 1,084 en Lempriere SA met 579.

Die volgende wolveiling is vir 29 Augustus geskeduleer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.