Genootskapstatus vir jong beesras

Die PinZ2yl-klub gaan binnekort volwaardige genootskapstatus geniet. (PinZ2yl Facebook)

Ná 22 jaar se noukeurige teling het die PinZ2yl-klub toestemming gekry om aansoek te doen om die status van ʼn genootskap te geniet. Op aanbeveling van die registrateur van veeverbetering is dit onlangs in die Staatskoerant afgekondig nadat die Landbounavorsingsraad (LNR) die nodige navorsing en toetse gedoen het om te bepaal of dit ʼn volhoubare en nodige ras is.

Cecilia van der Linde-Prinsloo, president van PinZ2yl’s, het aan Maroela Media gesê haar span is nou druk besig om die verslae en administrasie agter mekaar te kry sodat dit gereed is vir hul jaarvergadering wat op 11 Maart plaasvind, sodat die proses vir amptelike registrasie voltooi kan word.

“Dit was die droom van wyle oom Bertie van Zyl, eienaar van ZZ2 om ʼn plaaslike ras te teel vir die ekstensiewe toestande in die Mooketsi-streek,” sê sy.

Volgens haar wou hy ʼn Afrika-ras vir gehardheid en aanpasbaarheid met die vleis- en die melkproduksie van ʼn Europese ras saamvoeg. “Hy het toe die beste van twee baie verskillende wêrelde saamgevoeg, die oudste inheemse suiwer ras in Suid-Afrika, die Nguni, en een van die oudste Europese suiwer rasse, die Pinzgauer. Laasgenoemde is ook een van die oudste rasse ter wêreld waarvan daar noukeurige teelaantekening gemaak is.”

Dit het alles in 2000 by die ZZ2 Mathomo PinZ²yl-stoetery in Mooketsi begin, waar Nguni-moederlyne met Pinzgauer-vaderlyne gekruis is, om uiteindelik in ʼn 50:50-verhouding dié nuwe ras voort te bring. Volgens ZZ2 is hierdie samevoeging die ideale “boerbees” vir uitdagende omgewingsomstandighede.

Die stoet is vir bosluis- en hittebestandheid, kalfgemak, lae kalfvrektes, funksionele en doeltreffende fisiologiese bouvorm en goeie moedereienskappe geselekteer. Spesiale klem is gelê op die teel van ʼn koei wat ʼn speenkalf sal lewer wat premiepryse by die voerkraal sal behaal. Die resultaat is ʼn mediumraambees wat op die veld afgerond kan word.

“Boonop bied die bont beeste met horings ʼn sekondêre afset in die tradisionele lobola- en begrafnismark. Die bont velle is ook ʼn gesogte item vir versiering,” sê Van der Linde-Prinsloo.

Daar is verskeie maniere toegepas om die genetiese voordele van die PinZ²yl-beesras te verbeter en uit te brei deur verskeie nuwe bloedlyne van totaal onverwante vader- en moederlyne van Pinzgauers vanuit die buiteland in te bring, deur wederkerige kruistelingbeginsels in te stel.

ZZ2 is bekend vir sy die natuurboerdery-beginsels wat hy op sy groente- en vrugteplase aanwend, wat ook in sy beesboerdery toegepas word om by volhoubare beesboerderypraktyke by te bly. ʼn Osvleisprogram is van stapel gestuur waarin die bergagtige streke op die plase gebruik is om geharde diere op natuurlike weiding te teel, om sodoende hormoonvrye vleis te produseer.

Van der Linde-Prinsloo sê hulle het nou tien stoettelers wat sterk behoort te groei omdat hulle van klub- na genootskapstatus bevorder word. Daar is ook baie kommersiële kuddes wat oorwegend slegs PinZ2yl’s op mekaar gebruik.

“Die stoettelers kom oor die algemeen in die noordelike provinsies en die Vrystaat voor en die diere doen goed. Hulle is aangepas vir Suid-Afrikaanse ekonomiese- en omgewingsomstandighede. Ek het nog nie gehoor van ʼn PinZ2yl wat minder as 52% uitgeslag het nie,” voeg sy by.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.