Gesamentlike landbouontwikkelingsprojek stroop eerste oes

Jantjies Joseph, Barend Uys, Richard Hlalele, Vinoliah Koro, Alina Seoela, Jemina Mbali en Jan van der Merwe.

Die stroop van die eerste mielie-oes van ʼn gesamentlike landbouontwikkelingsprojek het gister begin.

AfriForum, Pioneer, Saai, Agri All Africa (AaA), die Boiphitlhelelo Koöperatief en Purposely Ignited het in 2020 hande gevat het om die Noga’s Post-gemeenskap met dié ontwikkelingsprojek te ondersteun nadat die gemeenskap suksesvol mielies en groente tydens die vorige plantseisoen geproduseer het.

Die Boiphitlhelelo Koöperatief is in 2017 gevorm om voordeel te trek uit die een-huishouding-een-hektaar-program van die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling. Altesaam 36 gesinne het oorspronklik by die koöperatief aangesluit en onder leiding van Kgosatsana (Prinses) Gabo Moroka, tradisionele leier van Noga’s Post, daarin geslaag om naas die mielies wat deur die regering aangeplant is, ’n verdere 20 ha mielies en groente op eie inisiatief aan te plant tydens die 2019/2020-plantseisoen.

“Ons dank eerstens die Here vir dié oes omdat dit deur Hom moontlik was om suksesvol te wees ten spyte van die uitdagings wat ons beleef het. Ek waardeer en gee graag erkenning aan al die rolspelers wat betrokke is,” het Kgosatsana Gabo Moroka, woordvoerder van die Boiphitlhelelo Koöperatief en tradisionele leier van die gemeenskap, gesê.

“Dit was ’n gesamentlike poging. Ek glo dat ons van hier af van krag tot krag sal gaan. Wat ek verseker weet is dat die visie van ontwikkeling en selfstandigheid wat ek vir die gemeenskap het, bereik sal word deur vennootskappe soos dié.”

Charles Matlou, kleinboerontwikkelingsbestuurder by Pioneer Seed RSA, het gesê dit was vir Pioneer ’n voorreg om deel van die projek te wees. “Die passie en toewyding van die gemeenskap is inspirerend. Ons is bly dat die saadskenking tot die oes kon bydra. Die gemeenskap het groot drome vir die toekoms en dit is baie vervullend om as mentor op te tree vir sulke passievolle mense.”

Hier by Noga’s Post is daar families wat wil boer en dit is waarom ons saam met ons implementeringsvennoot Agri All Africa betrokke is, het Francois Rossouw, uitvoerende hoof van Saai, gesê.

“Saai is ’n familieboernetwerk wat bydra tot die ondersteuning van mense wat kommersiële boere wil wees sodat hulle tot volwaardige landbouers kan ontwikkel wat vir hulself welvaart skep en ook tot voedselsekerheid bydra.”

Agri All Africa is verantwoordelik vir die operasionele bestuur van die projek en koördineer ook die ondersteuning wat deur plaaslike kommersiële boere gelewer word wat as mentors vir die gemeenskap optree, asook help met die verskaffing en aanwending van toerusting.

Dirk Hanekom, uitvoerende hoof van Agri All Africa, sê hy dink aan Psalm 65:9-13 as hy oor hierdie projek nadink: “U het die land besoek en oorvloed gegee; U verryk dit grootliks; die stroom van God is vol water. U berei hulle koring; ja, so berei U die land. U maak sy vore nat, sy kluite gelyk; deur reënbuie maak U dit week; U seën sy uitspruitsel. U kroon die jaar van u goedheid, en u voetspore drup van vettigheid. Die weivelde van die woestyn drup, en die heuwels gord hulleself met gejuig.

“Verbeel jou hoe ’n klein oes in kommersiële terme soveel gemeenskappe kan inspireer. Agri All Africa is bevoorreg om deel te wees van só ’n wenspan,” sê Hanekom.

Barend Uys, hoof van Interkulturele Samewerking by AfriForum, het gesê dit is met dankbaarheid dat daar met die stroop van die mielies begin is. “Ons het baie uitdagings beleef, maar met genade van Bo en die toewyding van die gemeenskap, plaaslike kommersiële boere en die projekvennote het ons elke uitdaging te bowe gekom.

“Dié projek bring hoop in ’n tyd wat dit baie nodig is en dien as ’n bewys van die sukses wat moontlik is as verskillende kultuurgemeenskappe en rolspelers uit die burgerlike samelewing en sakesektor op ’n grondslag van wedersydse erkenning en respek saamwerk.”

Gerda Kotzé van Purposely Ignited verleen bystand met die koördinering van die verskillende rolspelers, terwyl Mike Bosch van Boschveld Free Range Chickens hoenders aan die koöperatief geskenk het. Laeveld Agrochem het saadpakke geskenk vir die aanplant van groentetuine in die lede van die gemeenskap se erwe en steun ook die groter landbouprojek met ander middele. Die plaaslike Agrico-tak in Bloemfontein het tot die projek bygedra deur die ontwerp van die waterverspreiding- en besproeiingstelsel vir die beplande uitbreiding van die projek.

“Die gemeenskap en die projekvennote het toewyding gewys en sukses behaal. Ons nooi graag individue, organisasies en maatskappye wat deur dié projek geïnspireer word en wat graag betrokke sal wil raak om kontak te maak sodat die projek kan groei en hoop verwek kan word,” het Uys gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Andries ·

Wat ‘n pragtige stukkie goeie nuus na die gemors van verlede week.

B-Man ·

Sleutel to sukses? Hou die regering totaal-en-al uit enige projek uit.

annie ·

… Nie alle huwelike eindig as ‘n sprokiesverhaal nie. In 1994 het DeK&M se ogies ook geblink. Een handevat-oes maak nie ‘n somer nie? Tevredenheid en dankbaarheid in Afrika?

Jaco ·

Die wit boere wat by dié projek betrokke is, sal nog steeds onteien word sonder vergoeding.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.