Daar is deesdae ʼn sterk neiging onder saad- en gewasbeskermingsmaatskappye om ʼn komplementerende maat te vind en dan saam te smelt. In ʼn hoogs mededingende bedryf maak dit sin om kragte saam te snoer en om saam-saam nuwe produkte uit planttegnologie, wat by die dag meer gevorderd en ingewikkeld raak, te ontwikkel.
Daarbenewens bly die uitdaging steeds om winsgewende produkte op die mark te sit nadat ondenkbare hoeveelhede geld op navorsing en ontwikkeling spandeer is.
In die afgelope paar jaar het Bayer vir Monsanto oorgekoop en DuPont, Dow AgroSciences, Pioneer en Pannar sorteer nou almal in die Corteva Agriscience-kraal.
In Augustus verlede jaar is dit amptelik bekendgemaak dat Syngenta vir Sensako bekom het. Sensako is ʼn plaaslike maatskappy wat al 60 jaar oud is en baie bekend is vir hulle navorsing op koringsaad. Hulle het ʼn perseel in Bethlehem en Napier.
Die samesmelting hou noemenswaardige voordele vir albei maatskappye in. Syngenta het nou toegang tot die kiemplasma en markaandeel van ’n gevestigde, plaaslike handelsmerk en hoef nie ’n teelprogram in Suid-Afrika van meet af te begin nie. Met saamgestelde kanale en kennisbasis kan die tyd om nuwe produkte op die mark te sit, ook verkort word.
Sensako het nou toegang tot Syngenta se breë internasionale kiemplasma-bank en sal ’n enorme waarde-inspuiting in hul bestaande, plaaslike teelprogramme kry.
Sensako het nou regstreekse toegang tot vooraanstaande tegnologieë soos Viptera vir insekweerstandigheid in mielies, AIR-tegnologie vir onkruiddoderweerstandigheid asook sonneblom- en koringtegnologie.
Die samesmelting gaan Sensako ook geleentheid gee om hulle fasiliteite uit te brei en heelwat nuwe navorsers aan te stel.
Boere kan opgewonde raak oor die volgende wendings en nuutskeppings:
Sojaboon
Syngenta het toegang tot die beste sojaboonkiemplasma in die wêreld bekom toe hulle drie jaar gelede Nidera Seeds in Argentinië by COFCO oorgekoop het. Maar die sojaboonmark bestaan reeds uit 23 rolspelers en is baie mededingend. Sensako se strategie is om enkele, baie gespesialiseerde kultivars te ontwikkel.
“In die 1990’s was die Roundup Ready 1-geen die eerste poging om aan sojabone glusofaatweerstandigheid te bied. Daar was egter opbrengsprobleme, maar met die volgende generasie gaan die probleem reggestel word. Roundup Ready 2 is nou in sy ontwikkelingsfase,” sê Andries Wessels, produkontwikkelingsbestuurder vir saad by Sensako.
Suid-Afrikaanse boere gaan baie baat vind by ʼn geen vir droogteweerstandigheid en die HB4 is die volgende tegnologiese deurbraak wat in sojabone gemaak is. “Hierdie geen is snaaks genoeg uit sonneblom onttrek, ontwikkel en deur genetiese manipulasie in ʼn sojaboon ingeplant,” sê hy.
“Die HB4-geen reguleer plante se vermoë om beter in stresomstandighede te presteer. Dit werk vir kultivars met ʼn lae-opbrengspotensiaal wat in lae-opbrengsomstandighede geplant word. Dit gaan nie ʼn beduidende invloed op hoë-opbrengskultivars hê nie.”
Sonneblom
Syngenta is bekend vir hulle sonneblom-kiemplasma met ʼn besonders hoë oliekonsentrasie en nou kan Sensako dié mark ook betree.
“In die verlede is boere vergoed vir die aantal tonne wat hulle geproduseer het en dus het sojaboonpersers aan die agterspeen gesuig, want hulle het olie nodig, nie tonne nie. Boonop kon hulle ten beste 38% olie onttrek,” sê Wessels.
“Ons probeer die mark draai sodat daar eerder vir oliepersentasie, as opbrengs geteel word. Ons het die proses begin deur kontrakte met geselekteerde boere, wat sonneblom ken, te teken. Hulle gaan die eksklusiewe kultivar SY3970CL plant wat die potensiaal het om 50% olie uit te pars.
“Verder gaan ons ʼn derde party inkontrakteer om die boere te help om die regte plantprosedures te volg en toe te sien dat die geoeste graan nie in die stelsel wegraak nie.
“Die kontrakteurs gaan ook met die logistiek help om die graan by die verwerkers af te lewer. Dan word die waardeketting voltooi deur ʼn hoë premie aan die boere op grond van hulle olie-opbrengs te betaal. Dit werk min of meer uit op R2 000 per hektaar, as ʼn boer twee ton per hektaar stroop.
“Volgende seisoen word hierdie loodsprojek ʼn kommersiële projek,” sê Wessels.
Mielies
In 1993 kom een van Syngenta se navorsers, Greg Warren, na ʼn vakansie van twee weke by die huis. Toe hy sy yskas oopgemaak, sien hy dat sy melk baie suur geword het. Hy neem toe ʼn monster laboratorium toe en vind dat die AB88-bakterie in die suur melk voorkom. Dit produseer ʼn proteïen wat baie aktief teen ʼn wye verskeidenheid insekte optree en word derhalwe as ʼn vegetatiewe, insekdodende proteïene geklassifiseer. Dié proteïene is mettertyd ontwikkel in ʼn produk wat vandag bekendstaan as Viptera 3 wat die eerste in sy soort is om snywurm te beheer.
Syngenta het derhalwe die stapelgeen, Agrisure Viptera ontwikkel om ʼn klomp gereedskapstukke in een kultivar saam te voeg. Ou tegnologie soos Mon89 en Mon810 is ingesluit om steeds stronkboorders te beheer. ʼn Bykomende voordeel is dat Agrisure Viptera ook kommandowurm kan beheer. Vir die boere wat glusofaatweerstandigheid wil hê, is daar hibriede wat ook met die Roundup Ready-geen toegerus sal word.