Graan SA: Behendige boere gaan uitblink

Graan SA se raadslede tydens sy jaarkongres by Nampo Park in Bothaville. (Foto: Du Preez de Villiers)

Tydens Graan SA se kongres wat vroeër die week by Nampo Park buite Bothaville gehou is, is daar ʼn sug van verligting geslaak oor die herstel van dié organisasie se finansiële posisie. Ná twee lang jare se afwesigheid kon Graan SA ʼn suksesvolle Nampo Oesdag, Nampo Kaap en ander noodsaaklike geleenthede aanbied, wat sake weer op koers gebring het. Die nuweling, Nampo Alfa, het verder bygedra tot ʼn meer rooskleurige jaar.

Daar was egter eenstemmigheid by die kongres dat daar steeds konserwatief met die geld omgegaan moet word omdat daar, soos in die afgelope paar jaar, maklik weer ʼn ongewenste verrassing kan uitspring.

Dr. Pieter Taljaard, uitvoerende hoof van Graan SA, sê die finansiële resultate wys daarop dat geld weer eens optimaal in elke departement van Graan SA aangewend is ter bevordering van die belange van die organisasie se lede en in lyn met die strategiese doelwitte.

 

Dr Pieter Taljaard, uitvoerende hoof van Graan SA sê sy organisasie is vanjaar van plan om nouer met ander rolspelers in landbou saam te werk. (Foto: Du Preez de Villiers)

 

Ten spyte van die Covid-19-regulasies wat nagekom moes word, het Nampo Oesdag goeie ondersteuning met ʼn besoekerstal van 73 000 geniet. Nampo Kaap het ook sy sukses bewys met ʼn besoekerstal van 32 640 terwyl Nampo Alfa vir die eerste keer sy penne by Nampo Park ingeslaan het. Die gewilde Nampo Kersmark by Bothaville het gesorg vir die grootste bywoning in drie jaar.

“Gedurende die jaar onder oorsig moes die wêreld die uitdaging aanpak om vanuit ʼn geïsoleerde Covid-19-omgewing te herkalibreer en te hergroepeer ten einde ʼn nuwe normaliteit in ons daaglikse bestaan daar te stel,” sê Taljaard. “Terselfdertyd het die impak van die voortslepende oorlog in Oekraïne die speelveld vir graanprodusente wêreldwyd en in Suid-Afrika beïnvloed.”

Graanboere het egter vasgebyt en uitmuntende oeste gelewer.

Ten spyte van uitdagings soos die oorstromings van die afgelope paar maande in belangrike produksiegebiede, is ʼn gerealiseerde mielieoes van 15,3 miljoen ton volgens die negende oesskatting aangeteken – die derde grootste oes nóg.

Sonneblom het ook goed presteer met 845 550 ton – die grootste tonnemaat sedert die 2017/2018-seisoen.

Die 2021/2022-produksieseisoen sal ook onthou word as ʼn rekordseisoen vir sojabone met ʼn opbrengs van 2,2 miljoen ton. Droër toestande in die Wes-Kaap het egter wintergraanproduksie negatief beïnvloed, maar goeie reën in die binneland dui op belowende wintergraanopbrengste.

“Onder dié omstandighede was dit dus ʼn geseënde jaar en produsente behoort hulle self meer dikwels erkenning te gee met ʼn klop op die skouer vir die suksesse wat hulle, ten spyte van ʼn uiters uitdagende landbou-omgewing, behaal het,” sê hy.

Graan SA het ʼn paar mikpunte vir die jaar wat voorlê, gestel.

Taljaard sê hulle wil nouer met ander rolspelers in die waardeketting saamwerk om onderlinge vertroue en konsensus te bevorder. Daarmee saam moet daar ten opsigte van oorvleuelende raakpunte ook met ander landbou-organisasies saamgewerk word.

“Sonder ʼn gees van eengesindheid sal kommersiële landbou nie sy invloed optimaal kan laat geld om as ʼn verenigde front toekomstige uitdagings die hoof te bied nie,” sê hy.

 

Graanboere uit al die verskillende graanproduserende streke en ander belanghebbendes het vroeër die week by Nampo Park bymekaargekom om uit te vind wat hul bedryfsorganisasie se planne vir die jaar is. (Foto: Du Preez de Villiers)

 

Graan SA onderneem om die negatiewe veranderinge wat die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) aan die dieselrabat aangebring het te beveg.

Daar sal ook meer erns met nuwe tegnologie gemaak word. ʼn Voorbeeld is in die graangraderingstelsel wat sedert die graanbedryf gedereguleer is, in gebruik is. Etlike knelpunte het sedertdien kop uitgesteek, waaroor daar tans nog onderhandel word om konsensus te bereik. In dié verband sal daar ook wegbeweeg moet word van visuele gradering, deur dit met ʼn tegnologies gedrewe proses te vervang, ten einde konsekwente gradering te verseker.

ʼn Verdere voordeel is dat tegnologie dit ook moontlik sal maak om in die nabye toekoms genetiese onderskeid te kan bepaal in gewasse soos sojabone en gars as voorbeeld.

Hy het sy kommer uitgespreek oor die stadige tempo waarteen nuwe insetmiddele, soos saadkultivars en gewasbeskermingsprodukte, gedereguleer en geregistreer word. “Die huidige proses neem eenvoudig net te lank tot nadeel van produsente wat die gevaar loop om onmededingend te raak.”

Tydens die kongres is Derek Mathews en Richard Krige eenparig onderskeidelik as voorsitter en ondervoorsitter herkies.

 

Derek Mathews, herverkose voorsitter van Graan SA sê hy is uiters trots op die boere wat die afgelope paar jaar steeds uitgeblink het. (Foto: Du Preez de Villiers)

 

Mathews sê te midde van gunstige weerstoestande moes graanprodusente buitensporige insetkoste trotseer en voedselinflasie het die hoogte ingeskiet. “Dit was ʼn wisselvallige jaar wat ons vernuf en uithouvermoë getoets het.

“Deur genade het hoë uitsetpryse meegebring dat boere die skaal kon balanseer en kon landbou saam met mynbou die ekonomie deurtrek. In hierdie abnormale tyd het die regering en verbruikers ook tot ʼn dieper besef gekom van die waarde van ʼn bedryf wat voedselsekerheid verskaf. Dit was in baie opsigte ʼn geseënde jaar.

“Die vasberadenheid en nuutskeppende ingesteldheid van die Suid-Afrikaanse boer is welbekend en dit vra ons respek.”

Hy het daarop gewys dat hoewel die regering begin het om fokus op die landbou- en landbouverwerkingsmeesterplan (AAMP) te verloor, moontlik weens die kragkrisis, is boere en die bedryf volstoom aan die gang om die mikpunte van dié plan na te volg en te implementeer.

“Om ons onwrikbare ondersteuning aan Graan SA-lede voort te sit, het ons die afgelope jaar die strategiese rol wat hierdie organisasie moet speel herevalueer, om optimale ondersteuning en sukses vir ons lede te verseker, asook die strategiese doelwitte waarna ons in hierdie verband moet streef.”

 

Richard Krige, ondervoorsitter van Graan SA spog met sy Nampo Oesdag-sokkies toe dit bekendgemaak is dat hy eenparig as ondervoorsitter herverkies is. (Foto: Du Preez de Villiers)

 

Matthews sê van besondere belang is die voortsetting van die Graan SA-program wat ontwikkelende boere ondersteun om onafhanklike, kommersiële graanprodusente te word. “Deur hierdie program kan die regering bygestaan word in sy behoefte dat hierdie deel van die sektor wesenlik tot die toekomstige voedselsekerheid van die land moet bydra.

“Ons het ook ʼn verantwoordelikheid teenoor ons jong graanprodusente. Ons het geen ander keuse as om die kwessies op die tafel die hoof te bied wat hul toekoms bedreig nie, aangesien enige bedryf wat geen opvolgplan gereed het nie, ʼn beperkte lewensduur het.

“Dit is ook belangrik vir graanprodusente wat nie deel van die Graan SA-familie is nie om hul posisie te heroorweeg aangesien die suksesse van hierdie organisasie voordelig is vir al die graanboere in hierdie land. Dit sal ons hand deur getalle versterk, aangesien graanprodusente in Suid-Afrika as ʼn verenigde en formidabele mag moet funksioneer.

“My boodskap aan die Suid-Afrikaanse graanprodusente is om moed te skep in die wete dat hierdie organisasie die wil en vasberadenheid het om standvastig in die loopgrawe te staan om ʼn lewensvatbare toekoms vir graanproduksie in ons land te verseker.

“Dit sal produsente in staat stel om te fokus op dit wat hulle die beste doen – om die nasie te voed,” voeg Mathews by.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.