Grootste, beste Nampo Kaap nóg

Met 500 bevestigde stalletjies gaan Nampo Kaap sy grootste skou nóg aanbied. (Foto: Verskaf)

Nampo Kaap is druk besig om voor te berei vir die derde en grootste skou wat nóg aangebied is. Vir dié skou, wat van 14 tot 17 September plaasvind, het daar reeds meer as 500 uitstallers bevestig en daar is ʼn waglys.

Volgens Henk Aggenbach, voorsitter van die Bredasdorp Park se direksie, is daar heelwat veranderinge oor die afgelope twee jaar op die perseel aangebring. “Nie net is daar 72 bykomende uitstalruimtes en nog vier hektaar se besoekersparkering ingeruim nie, die ou perdestalle is omskep in die BKB-vee-afdeling waar die BKB Merino Classic en die Overberg-jeugskou sal plaasvind,” sê hy.

Die Overberg is ʼn winterreënvalstreek en die belangrikste landboubedrywighede wat op die skou verteenwoordig gaan word, is kleingraanverbouing soos gars en koring, wat navorsing en masjinerie insluit. Kleinvee is ook belangrik en natuurlik sagtevrugte en druiwe. “Omdat hierdie ʼn landbouskou is, gaan ons op die primêre verbouing van druiwe fokus, voordat dit na die wynkelder gaan,” het hy aan Maroela Media gesê.

Ná die sukses van Nampo Bothaville voorsien Aggenbach dat Nampo Kaap dieselfde patroon gaan volg. “Ná twee jaar se inperkings is die mense in die Wes-Kaap lus om uit te gaan en die belangstelling is groot. Hulle wil sake doen en soek na geleenthede.”

Ander trekpleisters is die Nasie in Gesprek-besprekings, die Omnia boerepatente-kompetisie en Toyota SA se jongafslaerskompetisie.

Daar sal ook verskeie demonstrasies soos skaapskeer, wolverwerking en taksidermie wees en metodes van grondlose produksie soos hidroponika en akwaponika gaan gedemonstreer word.

Vir die jongspan wat landbou as ʼn beroep oorweeg, bied Nampo Kaap ʼn skoleprogram in samewerking met die Wes-Kaapse departement van landbou aan. Die program sluit onder meer vertikale produksiesisteme, akkerbouproewe, diereproduksie, graanbemarking en blootstelling aan loopbane in landbou in.

Boere het aangedui dat hulle baie uitsien na die Nampo Kaap skou wat vir twee jaar onderbreek was. (Foto: Verskaf)

Die Engen 4 x 4-baan is ook in 2021 uitgebrei om ʼn ekstreme 4 x 4-afdeling in te sluit. Besoekers sal hier onder die bekwame leiding van Terrain Tamers die jongste 4 x 4-voertuie van verskillende fabrikate in aksie kan sien.

Vir die vroue word daar ʼn skoonheidsalon ingerig en blommeliefhebbers kan die Nedbank-blommerangskikkinguitstallings onder leiding van die wêreldbekende Marjolijn Malan of die Elim-fynbosuitstalling gaan besigtig.

Nampo Kaap bied geleentheid vir plaaslike skole en nie-regeringsorganisasies om geld in te samel. Alle kosstalletjies word óf self deur die organisasies óf privaatondernemings bedryf.

Hoewel Bredasdorp ver van groot stede en ʼn klipgooi van die suidelikste punt van Afrika geleë is, sê Aggenbach dat besoekers nie bekommerd moet wees oor verblyf nie. “Swellendam, Hermanus Riviersonderend, Caledon en Napier is binne ʼn driekwartuur se ry van hier af.”

Oestyd is feestyd en soos besoekers deur die Overberg na Bredasdorp ry, gaan die kanola-velde se geel blommetjies begin oorgaan, sodat dit twee weke ná die skou geoes kan word.

Toegangskaartjies is van 1 Julie slegs aanlyn beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Gerra ·

Gaan NAMPO hier ook vra vir daai inspuitings-sertifikaat alvorens mense mag bywoon?
Of het julle tot insig gekom en laat besoekers vrylik beweeg soos hul goeddink?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.