Hou vee dop na reën

Saam met mildelike reën kom daar ook parasiete soos bosluise en bytende insekte. (Foto: Maroela Media)

Die Herkouerveterinêre Vereniging van Suid-Afrika (Ruvasa) het ʼn waarskuwing uitgereik dat die wydverspreide reën heelwat gevare vir vee inhou.

“Die reën wat in baie dele van die land geval het, beteken bosluise, insekte en wurms.

“Verslae van siektes wat deur bosluise oorgedra word, waaronder Afrika‑ en Asiatiese rooiwater, anaplasmose, hartwater, knoppiesvelsiekte en sweetsiekte en bytende insekte soos anaplasmose, bloutong, efemere koors, knoppiesvelsiekte en Afrika-perdesiekte, is ontvang,” sê dr. Faffa Malan, bestuurder van Ruvasa.

“Skade deur bosluise, wat veral aan die uiers van koeie aangerig word, kan groot ekonomiese verliese vir boere beteken.”

Volgens die siektekaarte wat Ruvasa elke maand publiseer, is die dodelike slenkdalkoors, vir mense en diere, nog nie aangemeld nie, maar boere moet uiters waaksaam wees.

Haarwurm-uitbrekings is deur al nege provinsies aangemeld. Hy doen ʼn beroep op boere om hul bestuursprogramme met hul veeartse te bespreek, aangesien hierdie dodelike inwendige parasiet weerstand teen sekere medisynegroepe kan opbou en groot verliese kan veroorsaak.

“’n Plaas waar die haarwurmstam bestand is teen alle aktiewe ontwurmingsmedisynegroepe is gevind. Inspekteer weekliks ʼn groep skape in alle troppe se oë. Oogslymvliese wat bleek is en bottelkake is ʼn aanduiding dat sterftes net om die draai is.

“Praat ook met jou plaaslike veearts om jou risiko’s te bepaal, werk jou inentingsbestuursprogram by en werk ʼn holistiese parasietbestuursprogram uit.

Doen betyds die nodige stappe aangesien uit ondervinding geleer is dat die beskikbaarheid van entstowwe tydens ʼn uitbreking ʼn groot probleem kan wees. Indien entstowwe nie beskikbaar is nie, is insek- en bosluisbeheer van uiterste belang.

Siektes wat elke maand aangemeld word, is brusellose, trigomoniase, vibriose, kriptosporidiose, papulêre stomatitis, pasteurellose, E. coli en bloednier.

Boere kan Ruvasa hier besoek en op “disease reporting” klik om te sien watter siektes in hul omgewing voorkom.

*Die artikel is aangepas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Francois ·

Die gebruik van die term Draadwurm met verwysing na ‘n rondewurm spesie is foutief en ‘n direkte vertaling van die Engelse “Wireworm”. Die Afrikaanse benaming vir Wireworm (Haemonchus) is Haarwurm. Die term “draadwurm” word gebruik om te verwys na die larfstadium van seker kewer soorte.

Du Preez de Villiers ·

Baie dankie vir die reghelp Francois, ek maak reg.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.