Hugenoot SA spog nou ook met GBLUP-stelsel

Die Hugenoot SA rasgenootskap gebruik ook nou die GBLUP-stelsel om hulle kuddes se teling te versnel en te vergemaklik.

Veeteling het oor die jare tot ʼn fyn wetenskap ontwikkel en behels vandag baie meer as om net na ʼn bul en koei met die blote oog te kyk en te besluit dat hulle afstammelinge voordelig vir jou kudde sal wees.

Om teeldiere se keuringsproses te verfyn is BLUP (Best linear unbiased prediction)-waardes ontwikkel. Dit druk al die berekende en gemete syfers van jou teeldiere wat toepaslik vir teling is, oftewel teelwaardes, relatief tot die gemiddelde waardes van ʼn wye verskeidenheid ander diere (verwysingspopulasie) in ʼn sekere jaar uit.

Met dié waardes in die hand kan jy dan bepaal watter van jou teeldiere se eienskappe betekenisvol is en dus die regte ouers bymekaarsit om jou nageslag se eienskappe te verbeter. BLUP-waardes sluit geboortegewig, speengewig, jaaroudgewig, 18 maande- gewig, skouerhoogte, liggaamslengte, gemiddelde daaglikse toename, voeromsetverhouding, kleiberverhouding, skrotumomtrek en kalftempo in.

Dit is belangrik om te let dat die diere in die verwysingspopulasie so ver moontlik aan eenvormige omstandighede, soos bestuur en voeding, blootgestel is om so veel moontlik veranderlikes uit te skakel.

Deesdae word rekenaarprogramme ingespan om hierdie waardes, asook die verwantskappe tussen diere (wat uiteraard belangrik is in teling) te verwerk en beskikbaar te stel.

Met die insluiting van genomiese inligting, soos die DNS-profiel van individuele diere, kan ʼn boer nou die genomiese BLUP (GBLUP)-waardes van sy diere bekom om die akkuraatheid in die voorspelling van sy teelwaardes te verhoog.

Die daarstelling van ʼn toepaslike verwysingspopulasie voor die implementering van GBLUP is noodsaaklik. Kortom, so ʼn verwysingspopulasie moet uit diere bestaan wat die variasie in die ras verteenwoordig en diere met groot invloed as ouers. Hoe groter so ʼn verwysingspopulasie is, hoe beter. Die populasiegrootte van ʼn ras, sowel as die genetiese diversiteit, is ook bepalende faktore vir die grootte van so ʼn verwysingspopulasie.

“SA Stamboek het die leiding in Suid-Afrika geneem om hierdie metodologie deur die sogenaamde enkel-stap GBLUP-metode toe te pas, wat telers in staat stel om vroeë telingsbesluite te neem,” sê dr. Japie van der Westhuizen, hoofbestuurder van SA Stamboek.

“Toepaslike genomiese verwysingspopulasies is geskep deur die versiendheid van die lede van Stamboek (vleis-, melkbees- en kleinveetelersgenootskappe) wat hul eie geld, tyd en beplanning belê het, en ook deelgeneem het aan die Beef- en Dairy Genomics-programme, asook verskeie ander navorsingsprojekte. Dit het Stamboek in staat gestel om die nodige tegnologie en infrastruktuur te ontwikkel om die bedryf van genomies verrykte BLUP-teelwaardes (GEBVs) te voorsien.”

‘n Hugenoot SA bul met ‘n uitstekende konformasie, of bouvorm. (Foto: hugenootsa.co.za)

Die Hugenoot SA-vleisbeesras is in 1961 tot stand gebring ná intensiewe ontwikkelingswerk. Deur toegewyde teling, seleksie en noukeurige aantekening is die Hugenoot SA-vleisbeesras onlangs volgens die Wet op Diereverbetering as “gevestigde ras” deur die rasregistrateur erken.

“Verskeie Hugenoot SA-beeste is onlangs gegenotipeer, vanweë SA Stamboek se vermoë om genomiese dienste, insluitend GBLUP-waardes te lewer,” sê Mary Lochner, president van Hugenoot SA. “Dit stel hulle in staat om diere se status te bepaal wat moontlik draers is van spesifieke merkers van sekere gene met ʼn invloed op winsgewendheid. Op grond van die grootte van die populasie en ander wetenskaplike faktore, vorm hierdie genotipes nou die kern vir die implementering van die eerste GBLUP-dienste vir die Hugenoot SA-rasgenootskap en sy lede.

“Die Hugenoot SA Telersgenootskap en SA Stamboek is trots daarop dat hierdie belangrike mylpaal bereik word,” sê Lochner.

SA Stamboek brei ook sy dienste uit om maandelikse genetiese voorspellings en toepaslike opdatering van die genetiese koeiwaarde-indeks vir Hugenoot SA-beeste in te sluit. Hierdie nuwe dienste sal telers en kommersiële kopers help om die teelprestasie deur genetiese seleksie te versnel.

“Die eerste ras in Suid-Afrika wat SA Stamboek se GBLUP-waardes (GEBV’s) ontvang het, was die Bonsmara, as deel van die internasionale genetiese meriete-voorspellings. Dit is gevolg deur die Beefmaster- en Drakensbergerras. Al drie die melkbeesrasse, Holstein, Jersey en Ayrshire, ontvang ook GEBV’s, wat gekoppel is aan omvattende plaaslik ontwikkelde seleksiewaardes,” sê Van der Westhuizen.

Die navorsingspan by Stamboek is ook tans besig om GBLUP vir Merino-skape in samewerking met die Genootskap te implementeer.

“Vanweë die vinnige uitbreiding van genomiese dienste het SA Stamboek, Unistel en die vervaardiger van die genomiese SNP (Single Nucleotide Polymorphisms), uitgespreek ‘snip’, hande gevat om ʼn unieke stel merkers op te stel vir gebruik in die Suid-Afrikaanse vleisbeespopulasie.

“Die plaaslike genomiese toetse op hierdie eg Suid-Afrikaanse SNP-skyfies gee dus aandag aan die variasie in die plaaslike vleisbeespopulasie, en toets addisioneel ook vir bekende genetiese merkers van enkelgeen-eienskappe. Dit is ook geskik vir genomiese profiele, terwyl ouerskappe en rassuiwerheid terselfdertyd bevestig kan word,” sê Van der Westhuizen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.