Inkrimping van landbousektor ‘net tydelik’

Foto ter illustrasie (Foto: Pixabay)

Die inkrimping van Suid-Afrika se landbou-ekonomie was ʼn verrassing, maar sal nie die voorspelde algehele groei van dié sektor in 2021 belemmer nie.

Só sê ekonome nadat Statistieke Suid-Afrika die syfers vir die derde kwartaal se bruto binnelandse produk (BBP) vrygestel het. Die syfers dui op ʼn ekonomiese inkrimping van 13,6% kwartaal-tot-kwartaal (seisoenaal aangepas) in die landbousektor, die grootste daling van al die sektore.

Die res van die ekonomie het met 1,5% gekrimp. Enoch Godongwana, die minister van finansies, het Dinsdag in sy toespraak aan die nasionale raad van provinsies gesê die ekonomie is onder druk en dat baie meer gedoen moet word om die ekonomie reg te ruk.

Wandile Sihlobo, die hoofekonoom van die landbousakekamer (Agbiz), sê die skerp daling in die landbou-ekonomie is ʼn verrassing vir hulle, maar dat dit verstaanbaar is. “Die meeste hoëfrekwensiedata wat oor die afgelope paar maande verwerk is, het ʼn positiewe prentjie van Suid-Afrika se landbou-ekonomie geskets. Oor die algemeen is die derde kwartaal ʼn relatief stil tydperk in landbou omdat oeste merendeels gedurende die ander drie kwartale afgehaal word.

“Verder word hierdie afswaai ook weerspieël in landbou-arbeidsdata, wat in die derde kwartaal met 4%, kwartaal-tot-kwartaal, gedaal het. Daar moet wel daarop gelet word dat indiensneming op ʼn jaargrondslag met 3% toegeneem het.”

Sihlobo sê dit is ook belangrik om in ag te neem dat die kwartaallikse bruto waardetoegevoegde data vir landbou geneig is om wisselvallig te vertoon. “Ons is egter steeds vol vertroue dat die groeisyfers vir die jaar baie goed sal lyk. Ons verwag dat die laaste kwartaal se syfers weer mooi sal herstel, wat tot ʼn gesonde prestasie vir 2021 sal lei.”

Die Buro vir Voedsel- en Landboubeleid (BFAP) voorspel dat landbou se groei vir 2021 op 7,6% jaar-tot-jaar sal realiseer. Dit ná ʼn uitstekende 13,4% in 2020.

“Dit oortref ons aanvanklike projeksie van 6,0%-groei vir die jaar. Die nasionale oessyfers wat ons oor die afgelope paar maande gesien het, dui daarop dat BFAP se voorspelling reg kan wees.”

Hy sê die kern hiervan is die gunstige weerstoestande wat oesopbrengste verhoog en weiveld verbeter het, tesame met ʼn toename in oppervlaktes wat aangeplant is.

ʼn Voorbeeld hiervan is graansoorte soos mielies en sojabone wat onderskeidelik ʼn tonnemaat van 16,2 en 1,9 miljoen ton gelewer het. Dit is die naasgrootste mielie-oes ooit en ʼn rekordoes vir sojabone.

Ander gewasse het ook hoë opbrengste in die 2020-’21-seisoen behaal, vergeleke met verlede jaar.

Die Suid-Afrikaanse Wynbedryfinligting en -stelsels (Sawis) voorspel dat die 2021-wyndruifoes op 1,5 miljoen ton gaan realiseer, wat 9,0% hoër is as verlede jaar.

Die Sitruskwekersvereniging het ʼn rekorduitvoersyfer van 162 miljoen kartonne vir 2021 bekendgemaak, wat ʼn toename van ʼn indrukwekkende 19 miljoen kartonne vanaf verlede jaar is. Dít danksy ʼn goeie oes. Dieselfde geld vir ʼn noemenswaardige jaarlikse toename van 9% in appel- en peeruitvoere.

“Die veesektor is wel benadeel deur biosekerheidsprobleme, soos ʼn ernstige bek-en-klouseer-uitbreking en hoë voerkoste. Tog vaar dié subsektor ook relatief goed,” sê Sihlobo.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

casper ·

Ek het my twyfel oor die analise.
Inset kostes het verskriklik gestyg en die pryse nie – Dit meen dat vele produseerders nie meer ‘n volhoubare boerdery kan bedryf nie.

Anoniem ·

Die Landbou sektor is een van min sektore wat nog groei toon desondanks die feit dat alles teen hulle tel. Boere se veiligheid is gedurig in gedrag, inset koste verhoog, arbeidsonrus, boere neem al die risiko en dra al die kostes totdat die produk geproduseer is sonder enige waarborg van opbrengs. Dan wil die bose regering nog boonop hulle grond onteien. Bie dankie aan ons SA boere en ondersteuningsdienste.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.