Internasionale rekordprys vir Griekwastad-boerbok

Maserati van Lukas Burger is vir ‘n wêreldrekordprys van R500 000 verkoop. (Foto: Facebook)

ʼn Allemintige bedrag van R500 000 is onlangs vir ʼn boerbok betaal wat in ʼn maklike onderhandeling uit die hand verkoop is. Hierdie wêreldrekordprys is deur Salmon van Huyssteen in Pretoria en Joubert Horn in Vryburg betaal. Die verkoper van die ram, Maserati, is die bekende boerbokteler, Lukas Burger van Griekwastad.

“Dit was vir my baie lekker om te sien hoe entoesiasties hierdie twee jongmanne oor boerbokke is en hoeveel vertroue hulle in die bedryf het,” het Burger aan Maroela Media gesê.

Die plaas Rietfontein naby Griekwastad is die teelgrond van geslagte se uitmuntende boerbokke wat links en regs pryse wen en rekords laat spat. Hierdie prestasies sou egter nie moontlik gewees het sonder die passie en liefde van Lukas Burger en sy gesin vir hierdie geharde en hardkoppige diere nie.

Maserati het in April vanjaar die Suid-Afrikaanse boerbokbedryf op ʼn volgende vlak geplaas toe hy as die grootkampioenram tydens die wêreldskou in Bloemfontein aangewys is. Hy is ook as die kampioen-tweetandram en die senior kampioen aangewys.

Burger sê Maserati se oupa, Lexus, was baie goed geteel en hierdie genetika is verder in sy pa, Ferrari, verfyn, wat noodwendig tot Maserati se voortreflike rekordeienskappe gelei het.

“Ek het gereeld versoeke gekry om die ram uit die hand te verkoop en toe ek die prys vir die twee manne voorstel, het hulle dadelik ja gesê.”

Burger het in 2015 ook die naashoogste prys ter wêreld behaal toe hy sy ram, Tolla, vir R450 000 verkoop het. Dit was ook uit die hand uit.

Die hoogste amptelike veilingsprys is ook deur Burger verower. Hy het verlede jaar sy ram, Klein Booster, vir R375 000 aan Boeram Venter van Kirkwood verkoop.

Sedert 1990 het Burger nog nooit laer as die tweede plek beklee met die aantal punte wat hy op wêreld- en nasionale skoue verwerf het nie. Hy het ook al agt keer die nasionale skoue in Suid-Afrika beoordeel.

Lukas Burger se plaas, Riefontein in die dorre Griekwastad-streek lewer uitmuntende boerbokgenetika. Foto: Maroela Media)

Suksesresep

“My pa het Rietfontein in 1951 gekoop en ek het in ’78 plaas toe gekom. Dit was net toewyding, passie, vasbyt en liefde vir die boerbokke wat ons tot hier gebring het.

“My seun, Abraham, en dogter, Hermien, stel gelukkig ook baie belang in die bokke en my vrou, Riekie, het ook haar eie bokke wat deel is van die gesamentlike stoet,” sê hy.

Burger boer so uitgebreid moontlik en laat sy bokke in 70 ha-kampe loop. Die ooie en lammers loop wel in 90 ha-kampe. “Ek piep nie my bokke op nie en hulle moet so ver moontlik van die veld af leef om gehard te wees en maklik aanpasbaar te wees vir enige plek in Suid-Afrika. Die ooie kry wel ʼn bietjie byvoeding.

“Ek teel so na moontlik aan die rasstandaarde en kyk veral na groeisyfers. My leuse is om die bokke so korrek moontlik te teel, van die neus tot by die stert.”

Volgens Burger lyk die boerbokbedryf baie rooskleurig. “Die boerbok is inheems aan Suid-Afrika en oor die jare het ons hom veredel deur goeie telingspraktyke, wat gelei het tot groot verbeteringe, veral in vleisgehalte. Vandag is daar ʼn groot aanvraag vir Suid-Afrikaanse boerbokke van oor die wêreld. Boonop word boerbokvleis gereken as die beste vleis ter wêreld, selfs gesonder as volstruis.”

Die staat se onvermoë om bek-en-klouseer te bekamp, steek egter ʼn stokkie voor hierdie geleenthede, wat veroorsaak dat uitvoere na die meeste lande verbied word. “Twee, drie jaar gelede kon ons nog na Namibië, Botswana, Thailand, Brasilië, Australië en Indië uitvoer en die aanvraag groei net.”

Hierdie wêreldwye aanvraag en sy kinders se betrokkenheid noop Lukas om sy boerdery deurlopend groter te maak.

Plaaslik is die boerbokmark egter baie vreemd. “Die rede hoekom jy nie boerbokvleis in supermarkte kry nie, is omdat die kettingwinkels vir ons lamsvleis se pryse aanbied, terwyl die Indiër- en swart mark bereid is om 1,5 keer meer te betaal.

“Waar skaapboere nou R36 tot R38 vir ʼn kilogram lamsvleis kry, kry ons R50 tot R52 vir ʼn kilogram bokvleis en tydens hulle geloofsfeestye selfs hoër.

“Daar is ook glad nie genoeg vleis vir die Suid-Afrikaanse mark nie. Al die vleis gaan KwaZulu-Natal toe en as die mark na Amerika en/of Europa dalk sou oopgaan, sal die bedryf nie naastenby kan voorbly nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

alice ·

Wat ‘n indrukwekkende bok – en hy is meer werd as myself.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.