John Deere betree e-handel

‘n Boer kan nou ‘n onderdeel die volgende oggend by sy handelaar gaan afhaal nadat hy dit op John Deere se aanlynwinkel bestel het. (Foto: Verskaf)

John Deere het ʼn nuwe e-handelsplatform bekendgestel waarop boere en ander kliënte met die minste moeite onderdele kan bestel. Dit sal boere in Afrika en die Midde-Ooste in staat stel om 24 uur per dag onderdele te koop.

Volgens John Deere is die hoofdoelwitte van die platform om koste te verlaag en werkverrigting op die plaas te optimaliseer. Dit bied ʼn volledige stelsel met ʼn soekfunksie, volkleurfoto’s, ʼn wenslys, inkopietrollie, betaalpunt en aflewering- of afhaalopsies.

“Met die nuwe platform kan boere gedurende die seisoen vir onderdele inkopies doen, wat staantyd tot die minimum sal beperk,” sê Janalize van Buuren, direkteur van naverkope en kliëntediens.

“Sou ʼn masjien laat in die aand onklaar raak, hoef ʼn boer nie tot die volgende dag te wag om die onderdeel deur hul naaste handelaar te gaan bestel nie. Nou kan hulle dit regstreeks deur hul selfoon of rekenaar doen. Die handelaar sal die onderdeel die volgende oggend gereed hê vir afhaal of aflewering.

“Die doel is nie om ons winkels te vervang nie, maar om ons kliënte vinniger weer aan die werk te kry en boonop koste te verlaag,” sê sy.

“Voorheen kon kliënte slegs by 96 Suid-Afrikaanse handelaars koop, maar die aanlyn winkel vervang ook nie ons handelaarsnetwerk nie, dit versterk eerder hul hand deur aan hulle ʼn bykomende verkoops- en bemarkingskanaal te voorsien.”

‘n Blik op John Deere se e-handelsplatform. (Foto: Verskaf)

John Deere sê oor die afgelope 24 maande het statistieke getoon dat die e-handelsbedryf vinnig gegroei het, wat deels aangevuur is deur Covid-19, met al hoe meer kliënte wat oorgeskakel het na aanlyn inkopies. Hulle wil derhalwe steeds hul kliënte tot diens wees, sonder dat hulle hul inkopiegedrag hoef te verander.

Vir hierdie veteraanwerktuigvervaardiger wat al 140 jaar oud is, gaan dit alles oor die gerief van moderne aanlyn inkopies. “Ons wil ons boere ondersteun en inkopies vir onderdele ʼn foutlose ervaring maak, maak nie saak watter tyd van die dag of nag nie,” sê Jaco Beyers, John Deere se direkteur van verkope en bemarking.

“Ons John Deere-gebruiksartikels, wat baie gewild onder die jonger geslag is, sal ook op die nuwe platform verkoop word.”

Die e-winkel bied ʼn maklik verstaanbare koppelvlak en werk soos volg:

  • Kliënte sal deur die webwerf kan blaai en aanmeld wanneer hulle gereed is om te koop.
  • Dan word die naaste handelaarstak gekies.
  • Onderdele word bestel, die aflewerings- of afhaalopsie word gekies en aanlyn betaal deur die volledige aanlyn uitboekproses.
  • Die John Deere-handelaar voer die kliënt se bestellings uit.
  • ʼn Koerier word gereël wat spesifiek gerat is vir plaasaflewerings, om die pakkie by die handelaar af te haal en op die plaas af te lewer.
  • Kliënte sal in kennis gestel word sodra hul bestelling afgehaal is. Sodra die aflewering uitgevoer is, sal die bestelling as voltooid gelys word.

“Wat hierdie konsep so wonderlik maak, is dat ons bydra tot ʼn groeiende sektor en nie een vervang wat reeds floreer nie. Ons groei, skep bewustheid en bou ons handelsmerk, terwyl ons ook meer kliënte in die stad insluit,” sê Van Buuren.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Eclectus ·

…en in Amerika veg boere tans in die hof teen John Deere vir die reg om self hulle masjiene te herstel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.