John Deere stel sy grootste, sterkste trekker bekend

John Deere se nuutopgeknapte 9R-reeks belowe om landbou in Suid-Afrika ‘n hupstoot te gee. (Foto: Verskaf)

Die jongste kandidaat om die grootste, sterkste en mees tegnologies gevorderde trekker op die mark te plaas is John Deere. Sy nuwe 9R-reeks, waarvan die spesifikasies volgens streeksbehoeftes aangepas is, beplan ook om die speelveld in Afrika en die Midde-Ooste te verander.

Hierdie bul van ʼn trekker sal boere in staat stel om meer grond in minder tyd, met groter akkuraatheid en doeltreffendheid te bewerk en sodoende hul bedryfskoste te verlaag, terwyl hulle ʼn groter en gemakliker kajuit kan geniet.

Die opgeknapte 9R-reeks is toegerus met al die oorspronklike 9R-spesifikasies, en is die enigste trekkerreeks op die mark wat ʼn gewone wiel- (9R), twee rusperband- (9RT) en vier rusperband- (9RX) konfigurasie bied. Tussen hierdie opsies kan ʼn boer op bykans enige soort grond op sy plaas vastrap met die minste wielglip.

As dit kom by enjinkrag het John Deere nie teruggehou nie. Die 9R-reeks is toegerus met die splinternuwe John Deere PowerTech™-13,6 l-enjin. Dit is ontwerp vir verbeterde werkverrigting en betroubaarheid, optimale brandstofdoeltreffendheid en robuustheid, selfs in uitdagende omstandighede, en kan tussen 291 kW en 440 kW lewer.

Die 13,6 l-enjin bied 13,5% meer krag as die 13,5 l-enjin, 50% minder geraas, ʼn 27%-verbetering in herstelbaarheid en ʼn 13%-vermindering in onderhoudskoste.

John Deere weet van die strawwe uitdagings wat ʼn boer daagliks kan teëkom en die lang ure wat agter ʼn trekker se stuur deurgebring word. Die 9R-reeks is daarmee in gedagte ontwerp en bied nou gerief en gemak waar dit die nodigste is, met groter kopruimte, groter inklimruimte, ‘n groter geïntegreerde yskas, nuwe sitplekverstelopsies, ʼn aanraakskermradio en voetstutte.

ʼn Boer kan inderwaarheid kies tussen ʼn Select-, Premium- of Ultimate-kajuitpakket.

Op ʼn plaas word daar voor sonop begin en dikwels lank ná sononder klaargemaak. Om te verhoed dat donkerwerk konkelwerk word, bied die 9R-reeks nuwe sigbaarheidspakkette. Dit bestaan uit drie pakkette wat bykomende beligting en kamera-opsies bied en vir die dae wanneer die son genadeloos kan neerbrand, ook bykomende sonskerms.

ʼn Gemaklike drywer beteken gehalte werk en John Deere sorg weereens dat die persoon agter die stuur optimaal kan presteer tydens lang werksure, ongeag dag of nag.

Om die drywer op koers te hou, word alle nuwe 9R-trekkers met die vierdegenerasie-CommandCenter™, AutoTrac-aktivering, JDLink™ en ʼn splinternuwe StarFire 6000- geïntegreerde ontvanger toegerus.

Met die JDLink™-verbinding is ʼn 9R gereed vir die landerye sodra dit die fabriek verlaat. Dit bied John Deere Connected Support™ wat foute en ongerymdhede op die trekker vroegtydig kan opspoor en slim waarskuwings aan boere stuur om te verseker dat staantyd tot die minimum beperk word.

Die StarFire™ 6000- geïntegreerde ontvanger is ontwerp om instellingstyd te verminder deur die kalibrering van die terreinkompensasiemodules (TCM’s) uit te skakel.

Boonop is dit ook nie meer nodig om geheuestokkies met nuwe plantdata en oeskaarte uit te trek en af te laai nie.

Alle ontvangers is volledig diensbaar en kan na nuwer generasies bygewerk en aangepas word. Die vierdegenerasie- 4600 CommandCenter™ en Automation Activation 4,0 is sterk aan te beveel.

Die 9R-reeks word ook toegerus met dié jongste presisielandboutoepassings:

  • AutoTrac™-draai-outomatisering maak voorsiening vir akkurate en herhaalbare draaie op elke wenakker.
  • AutoTrac™-werktuigleiding (passiewe geleiding) hou die werktuig op die geleidingspoor indien die trekker teen byvoorbeeld ʼn skuins draai van die spoor afbeweeg.
  • AutoPath versamel data vanaf die eerste rit oor ʼn land en gebruik dit om presiese rybegeleiding vir alle daaropvolgende passasies vas te stel, ongeag die masjientipe of breedte van die toerusting.
  • Gen 4 Machine Sync™ skep ʼn seinverbinding tussen die trekker (met sy tapkar) en ʼn stroper om die uitlaai, wegry en aflaai van graan te sinchroniseer. Dit verseker dat die trekker betyds by die stroper aankom en dit outomaties volg terwyl die graan oorgelaai word.
  • Section Control is ʼn toepassing wat werktuie soos spuite en kunsmisstrooiers se seksies outomaties aan- en afskakel om die oorvleueling van insette se plasings in die lande te verhoed.
  • In-Field Data Sharing is nog ʼn presisie-toepassing waarmee kaarte en begeleidingslyne gedeel word en die werkverrigting van masjiene in dieselfde land gemonitor kan word.

John Deere verstaan ​​dat doeltreffendheid, produktiwiteit en uiteindelik winsgewendheid die kern van elke volhoubare boerdery is. Die opgeknapte 9R-reeks bring boonop gemak na die aanbieding.

Kyk hier hoe lyk die nuwe John Deere 9R-reeks.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Kobus ·

Het ek die prys mis gelees? Of beteken die 9R eintlik R9miljoen?

Gato ·

Indrukwekkend maar lyk my jy benodig n graad in Rekenaar wetenskap om die trekker te ry. Weet nie of dit byval sal vind in donker Afrika nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.