Jong boere lei Kalahari Reds in bloeitydperk

Die hoogste prys vir ʼn ram op vanjaar se Kalahari Reds- veiling was R130 000. Die verkoper was Albie Horn van die plaas Hartebeeshoek in De Aar en die koper was Carlos en Jenny Caroto van Jenny Kalahari Reds in Pietersburg. (Foto: Du Preez de Villiers)

Die SA Kalahari Reds se nasionale klub se jaarlikse skou en veiling het telers en belangstellendes van regoor die land en kopers van regoor die wêreld gelok.

Die Kalahari Reds sorteer as klub saam met die Boerbokke en Savannas onder die oorkoepelende Suid-Afrikaanse Boerboktelersvereniging (SABTV).

Die bokbedryf gaan tans deur ʼn bloeitydperk en Maroela Media het die geleentheid, wat oor ʼn paar dae net oos van Pretoria gehou is, bygewoon om met die mense te gesels wat die drywers agter hierdie jong ras is. Wat verstommend is, is dat al die raadslede jonger as 40 jaar oud is. “Ons moet die besluitneming aan die jonger geslag oorgee wat dinge op ʼn nuwe manier doen,” het Albie Horn, een van die eerste raadslede van dié klub vir Maroela Media gesê.

Die Kalahari Reds se jeugdige bestuur bestaan uit Jaco van der Merwe, bestuurslid, Ivan van Heerden, voorsitter, Alida Dreyer, sekretaresse, CW Dreyer, bestuurslid en Douw Dry, ondervoorsitter. Faheem Kala, die sosiale mediabestuurder vanuit Botswana, was nie teenwoordig nie. (Foto: Du Preez de Villiers)

Hierdie ras is amper ʼn kwarteeu oud en Horn was een van die stigterslede wat die proses om die naam te erken, gedryf het. Deur sy toedoen het die Kalahari Reds in 1998 rasstatus ontvang. Vandag is daar 79 aktiewe telers wat regoor die land versprei is, met die grootste konsentrasie in die Bosveld.

“Suid-Afrikaanse boere het van die beste kleinveegenetika ter wêreld, veral hul bokke. Gegewe die pryse wat ons kry, is daar ʼn sterk aanvraag van regoor die wêreld,” sê Horn.

“Dit is ongelooflik om te dink vanwaar ons in so ʼn kort tydjie gekom het, plaaslik en internasionaal. Vandag word daar Kalahari Reds in Kanada, Brasilië, Argentinië, Saoedi-Arabië, die Verenigde Arabiese Emirate, al die Afrika-lande, Maleisië, Thailand en Australië geboer.”

Hy sê die Kalahari Reds word vir gehardheid en goeie moedereienskappe geteel, en natuurlik vir die kenmerkende kleur van die Kalahari se sand.

Louwan Horn, Josef Kangan (hanteerder) en Louwan se pa, Albie, het die toekenning vir die grootkampioenooi tydens die Kalahari Reds klub se skou ontvang. Hulle boer op Hartebeeshoek buite De Aar. (Foto: Du Preez de Villiers)

Horn het klem daarop gelê dat die heel belangrikste is dat hierdie ʼn vleisbok is wat gesonde vleis produseer. “Bokvleis is cholesterolvry en het 40% minder versadigde vette as beesvleis.”

Hy sê daar is ʼn persepsie dat bokke se vleis stink, maar dit is nie waar nie, die ramme het wel ʼn skerp, kenmerkende reuk. Hy sê bokvleis het dieselfde tekstuur as skaapvleis en hulle werk tans saam met die Landbounavorsingsraad aan ʼn projek om die eienskappe van bokvleis aan Suid-Afrikaanse huisvroue te bemark.

Hy voeg by dat daar tans wel ʼn tekort van 1,7 miljoen bokke in Suid-Afrika is, want alle beskikbare voorraad word deur die informele mark opgeraap. Die bedryf groei egter baie vinnig en dit is voor die hand liggend dat hulle hulself solank reg posisioneer.

Die grootkampioenram, slegs sewe maande oud, kom van Marinaspruit naby Vivo waar die Bothmas boer. Agter die ram hurk Rikus Bothma en Sipho Mkalakame (hanteerder) en Rikus se pa, Anton. (Foto: Du Preez de Villiers)

Ivan van Heerden, die voorsitter van die Kalahari Reds het vir Maroela Media gesê ʼn ander voordeel van hierdie geharde diere is dat jy dit op grond kan boer wat ongeskik is vir die meeste landboubedrywe. Daarbenewens kan jy dit saam met beeste boer, wat gras verkies, terwyl bokke bome se blare vreet. Hul waterverbruik is tussen drie en vyf liter per dag.

Hulle vreet ook indringerplante soos sekelbos, wat dus help met ontbossing, sodat grasgroei gestimuleer kan word.

Hierdie diere kan intensief en ekstensief geboer word, maar verkies om uit voerkrale te bly omdat hulle baie aktief is, ʼn hoër metabolisme het en sit dus nie so geredelik gewig aan soos skape nie.

Die raad sê hulle werk in ʼn rigting om groter ramme te teel om meer vleis aan te sit, “maar daar moet ʼn balans wees, want kleiner diere se onderhoud is laer, terwyl kleiner ooie steeds dieselfde aantal lammers as groter ooie kan produseer,” sê Antoinette Dry, ʼn teler. “Kalahari Reds gee maklik twee- en drielinge en jy kan werk op lampersentasie van 200%.”

Die afgelope skou was die grootste nog, met ʼn rekord van 28 vertoners wat 706 diere ingeskryf het. Daar was 150 bokke meer as verlede jaar.

Die verbod op die uitvoer van vee na Botswana het egter ʼn demper op die veiling gesit, want ʼn groot gedeelte van die bieërs kom van dié buurland. Vanjaar se veilingstotaal was R2 560 000, terwyl verlede jaar sʼn R4 161 500 was. Op albei veilings is 122 diere opgeveil.

Die duurste ooi is vir R70 000 deur Tollie Jordaan en seuns van die plaas Grootvlakte in Somerset-Oos verkoop en die koper was Rule en MJ Ernst van Bonisa Kalahari Reds in Wolmaransstad. Die afslaer en hoofuitvoerende beampte was Corne du Plessis van CdP-afslaers. (Foto: Verskaf)

Dit was ook opmerklik dat 47% van die totale omset van vanjaar se veiling aanlyn verhandel is.

Die Kalahari Reds hou ook die rekord vir die duurste ooi wat al op ʼn bokveiling verkoop is. Tydens die Innibos-veiling verlede jaar in Pietersburg is twee groot, dragtige ooie reg na mekaar vir R350 000 en R180 000 verkoop.

Die rekordprys wat vir ‘n Kalahari Reds-ooi betaal is, was R350 000. Sy is deur die Bothmas van Marinaspruit aan Bushra Stud – Kalahari Reds and Boer goats in Gaborone verkoop. (Foto: Verskaf)

“Dit was ʼn gebeurtenis enig in sy soort en sal nie sommer weer gebeur nie. Jy verkoop nie sulke diere nie, jy hou dit om daarmee te teel,” sê Van Heerden. “Die eienaar het egter gevoel hy wil iets aan die bedryf teruggee en vir ons keurders gevra om sy twee mooiste ooie uit sy kudde te kies en hulle op die veiling te sit.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.