Jongste verslag oor sprinkaanplaag

‘n Swerm sprinkane kan binne minute ‘n oes vernietig (Foto: Sven Torfinn, AP)

Meer as R80 miljoen is tot dusver bestee en 1 200 mense in grondspanne in drie provinsies aangestel om die huidige sprinkaanplaag hok te slaan. Dié plaag het reeds na meer as 50 distrikte in die land versprei en word beskou as een van die felste wat Suid-Afrika in dekades gesien het.

Thoko Didiza, minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, het Donderdag verslag gelewer oor hoe die operasie vorder om die plaag te bekamp. Haar departement het ook ʼn lys saamgestel van die streke en dorpe wat reeds deur die huidige sprinkaanplaag geraak is.

Die uitbreking is in drie provinsies, die Oos-Kaap, Noord-Kaap en Wes-Kaap, aangemeld. Weens die mildelike, aanhoudende reën wat oor groot dele van dié provinsies geval het, kon daaropvolgende geslagte sprinkane ook ontwikkel en uitbroei.

Maroela Media het die krisis deurlopend gevolg soos dit oor die suidelike deel van die land ontvou het.

Die wind speel ook ʼn rol in die migrasie van die swerms na die gebiede waar dit nog nooit voorheen gesien is nie, soos die Tuinroete-gebied in die Wes-Kaap en op sitrusplase in Kirkwood en Patensie in die Oos-Kaap.

Dit tas natuurlike veld, weiveld en gewasse aan en skep selfs ʼn gevaar op paaie en spoorlyne. Verder is dit ook in dorpe en woongebiede aangemeld.

Benewens die grondspanne, doen twee helikopters tans lugbespuiting, meestal in ontoeganklike gebiede en waar daar groot sprinkaan-uitbrekings is.

Die meeste van die geld wat tot dusver bestee is, is gebruik in die verkryging van insekdoder, waaronder spuitpompe, beskermende klere, vergoeding vir grondspanne en lugbespuiting.

 

Gebiede wat deur sprinkaan-uitbreking geraak is

In die Noord-Kaap is 33 distrikte geraak, wat Britstown, Carnarvon, De Aar, Griekwastad, Groblershoop, Hopetown, Kenhardt, Netherlea, Loxton, Marydale, Kakamas, Petrusville, Prieska, Upington, Victoria-Wes, Vosburg, Phillipstown, Hanover, Niekerkshoop, Douglas, Richmond , Springbok, Aggeneys, Pofadder, Pella, Witbank, Askham, Bladgrond, Calvinia-Wes, Dwaalhoek, Kakamas, Koupan, Langklip, Noenieput, Olifantshoek en Sutherland insluit.

In die Oos-Kaap is 13 distrikte geraak wat Aberdeen, Graaff-Reinet, Somerset-Oos, Pearston, Willowmore, Jansenville, Rietbron, Steytlerville, Cradock en Middelburg insluit. Nuwe geraakte gebiede sluit Kirkwood, Uitenhage en Patensie in.

In die Wes-Kaap is ses distrikte geraak, wat Murraysburg, Beaufort-Wes, Prins Albert, Merweville en Laingsburg insluit, asook nuwe geraakte gebiede soos Calitzdorp, Ladismith en Oudtshoorn.

Die stand van sake met die verskillende bekampingsmetodes lyk soos volg:

Lugbespuiting

Die groot swerms vlieënde sprinkane kom tans in die oostelike distrikte van al drie provinsies voor, waar lugbespuiting tans uitgevoer word.

In die Noord-Kaap is 15 000 ha in Britstown, Loxton, Kenhardt, Groblershoop, Upington en Kakamas bespuit.

In die Oos-Kaap is 11 581 ha in Middelburg, Aberdeen, Steytlerville, Jansenville, Patensie en Wolwefontein bespuit en in die Wes-Kaap is 8 000 ha in Murraysburg, Prins Albert en Merweville bespuit.

Daar is ook 6 000 ha buite die drie provinsies bespuit.

 

Grondspanne

Die grondspanne gaan voort om in alle gebiede van die drie provinsies beheer toe te pas, aangesien voetgangersprinkane in verskeie stadia, asook vlieënde swerms steeds voorkom.

In die Noord-Kaap word 375 290 ha, in die Wes-Kaap 16 000 ha en in die Oos-Kaap 22 000 ha gemonitor en beheer.

Die minister sê sy doen ʼn beroep op lede van die publiek om die naaste distrikskantore van die provinsiale departemente van landbou in kennis te stel indien hulle hierdie sprinkane gewaar.

Bel Vuyokazi Jongwana by 084 760 8176 en Mulalo Matodzi by 083 326 7773 vir inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.