Kaas gemaak uit GM-sojabone

Foto ter illustrasie. (Foto: lee_2, Pixabay)

Beleggers het $75 miljoen (R1,09 miljard) in ʼn onderneming se tweede fondsinsameling gestort om ʼn volhoubare plaasvervanger vir kaas te vind. Nobell Foods is vier jaar gelede in die lewe geroep deur ʼn 28-jarige Libanese vrou, Magi Richani, wat agtergekom het dat sy laktose-onverdraagsaam was. Sy kon egter nie kaas afsweer nie en het besluit om aan die werk te spring en ʼn plaasvervanger vir hierdie lekkerny te vind.

Daar is reeds heelwat navorsingsmaatskappye soos Remilk en Perfect Day wat maniere navors om alternatiewe melkproteïene te vervaardig. Hulle gebruik mikrobiese fermentasie wat soortgelyk is aan die proses wat in bierbrouery gebruik word.

In plaas daarvan om dié gebaande roete te volg, het Richani begin om sojabone geneties te manipuleer om kaseïen te vervaardig. Hierdie proteïen kom in melk voor en bevat die “kaaseienskappe” en daarmee kan kaas gemaak word wat proe, ruik, smelt, strek en selfs verouder soos dié wat van koei‑ en bokmelk gemaak word.

Richani het reeds $25 miljoen (R360 miljoen) ingesamel, maar met die onlangse amptelike bekendmaking van haar resultate is sy toegegooi deur beleggers soos Andreessen Horowitz, Breakthrough Energy wat deur Bill Gates geborg word, Footprint Coalition wat ook deur Robert Downey jr. ondersteun word, asook ander beleggers soos AgFunder, Germin8, Fifty Years en Pear VC.

Nobell Foods werk saam met bestaande sojanavorsers vanweë die lae produksiekoste en omdat al die gereedskap om sojabone geneties te manipuleer reeds ontwikkel is en tot hulle beskikking is. “Na meer as vier jaar se navorsing het ons span ’n manier ontdek om kaseïen uit sojabone te maak wat dieselfde smaak en tekstuur is as in suiwel – soos ons almal daarvan hou,” sê Richani.

Sojabone is een van die min gewasse wat ’n volledige proteïen lewer, aangesien dit al agt aminosure bevat wat noodsaaklik is vir menslike behoeftes.

Magi Richani, stigter en hoofuitvoerene beampte van Nobell Foods. (Foto: LinkedIn)

Oor die afgelope twee jaar het Nobell Foods nege patente ingedien en hulle sojaboonkaas kom nie net nader en nader aan die smaak van regte suiwelkaas nie, dit kan ook uiteindelik met die prys van laasgenoemde meeding en selfs sojaboonboere se wins verhoog.

“Die volgende fase, wat oor die volgende 18 tot 24 maande gaan plaasvind, is om ons plante te vermeerder om uit die kweekhuise na die landerye te skuif. Die vervaardiging van die kaas moet ook van ʼn loodsprojekfase na grootskaalse produksie uitgebrei word.

“Ons kaas sal teen einde 2022 of vroeg in 2023 in die mark beskikbaar wees. Ja, ons kan enige kaas maak, maar ons fokus tans op mozzarella en cheddar, aangesien dit 60% van die kaas uitmaak wat in die VSA verbruik word. Om die grootste impak te hê sal ons dus die beste markgeleenthede moet volg.”

Richani sê sy wil nie die stelsel verander deur mense te vra om twee, drie, vyf of tien keer meer vir die alternatief te betaal nie. “Plante bied die goedkoopste manier om proteïene te maak, en as ons hul genetiese profiel kan verander sodat hulle proteïene maak wat ons vir meer toepassings kan gebruik, kan ons met bestaande produkte meeding.

“Genetiese ingenieurswese is ’n kragtige hulpmiddel wat ons moet benut om ons van die grootste krisis wat die mensdom in die gesig staar te bevry – klimaatsverandering,” sê sy.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

5 Kommentare

jongste oudste gewildste
Andre

Hou verby. Maar dis seker goeie nuus vir mense wat gekies het om nou self GMO produkte te wees.

Jack

Wonderlike nuus. Sou graag daarvan wil proe.

annie

Laktose-onverdraagsaam maar gm-verdraagsaam is ons New Age-generasie se nuwe genetiese samestelling. Het ons al ‘n teenvoeter vir kanker gevind? Miskien kan ons covid-entstofvervaardigers noudat die pandemie taan werk aan kankerentstof want ons in SA is verslaaf aan gm-produkte.