Kaderontplooiing knou grondhervorming

Skatryk ANC-kaders het tot dusver ‘n baie negatiewe invloed op grondhervorming gehad. (Foto: JamesDeMers, Pixabay)

Gwede Mantashe, minister van minerale en energiesake, het verlede week tydens ʼn galadinee van die Energieberaad gewaarsku dat die Zondo-staatskapingsverslag hewige aanvalle op kaderontplooiing kan loods, veral wat betref transformasie en demokrasie. Die dinee is deur die Suid-Afrikaanse Jeug-Ekonomiese Raad aangebied,

Regter Raymond Zondo het in die eerste deel van sy verslag reeds uitgewys hoe korrupte kaders die basis vorm vir staatsfunksies wat in duie stort en selfs ook in geprivatiseerde dienslewering.

Saai sê hy is onthuts en bitter teleurgesteld in Mantashe se definisie van hervorming waarin kaderontplooiing ʼn rol speel.

“Die gevolg van sy uitgangspunt is dat slegs kaderontplooiing sinvolle hervorming verteenwoordig en dat alle swart ekonomiese bemagtiging in landbou en die vennootskapmodel vir landbou-ontwikkeling, soos wat in hoofstuk ses van die nasionale ontwikkelingsplan beskryf word, ANC-goedgekeurde kaders moet betrek,” sê dr. Theo de Jager, direksievoorsitter van Saai.

“Mantashe het geen poging in sy verklaring aangewend om uit te wys waar die eerlike, eerbare of doeltreffende kaders vir transformasie-aanstellings gesoek kan word nie.

“Dit verduidelik ook waarom die staat nooit deur ’n behoorlike begroting in die hoofstuk ses-model vir grondhervorming belê het nie, dit was nie vir hulle genoeg dat wit boere met swart boere of swart werkers vennootskappe sluit nie, want hulle wil spesifiek ANC-kaders laat voordeel trek.

De Jager glo nie daarin dat individuele boere en sakelui op grond van rasgebaseerde kriteria die koste van ’n nasionale verantwoordelikheid moet dra nie en sê die uitvoering van die kaderontplooiingsbeleid van die ANC het ’n duidelike misdadige ondertoon.

“Boere verkeer onder enorme druk om op groot risiko en koste die rekening vir die transformasie van die sektor op te tel.”

Hy sê wanneer dit kom by die skepping van ʼn klas winsgewende en suksesvolle swart boere en by landbouontwikkeling en -opleiding, is Saai, as ʼn netwerk van familieboere, nie toeskouers nie. “Ons dien die belang van familieboere van alle groottes, rasse, geslagte en produsentelyne en Mantashe se beskouing van hervorming hou ’n eksistensiële bedreiging in vir klein en mediumgrootte boerderye.

“Saai het ’n trotse baanrekord van landbou-opleiding en -ontwikkeling waaruit duisende swart boere, wat onder die staat se afskeping ly, ’n voordeel trek. Saai werk aktief onder alle vlakke van swart beheerde boerderye, kommunaal, voorstedelik, kleinskaal, kommersiële en grondhervormingsboerderye. Rand vir rand is Saai waarskynlik meer as ’n duisend keer doeltreffender as die staat se pogings.”

De Jager sê in teenstelling met die ANC se ontoereikende hervormingspogings het Saai reeds heelwat om te wys:

  • Saai is intens saam met Agri All Africa, AfriForum en Pioneer Saad betrokke by die kommersialisering en modernisering van die boerdery-aktiwiteite van die Barolong Boo Seleka-gemeenskap in die Oos-Vrystaat en adviseer deur hul lede ’n groot aantal kommunale gemeenskappe wat boer.

 

  • Die organisasie het ook namens begunstigdes van die staat se herverdelingsprogram in Transkei, Mpumalanga, die Wes-Kaap en Limpopo met die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling swaarde gekruis toe hulle ten gunste van ontplooide kaders en tenderpreneurs onregmatig van hulle plase afgeskop is en sommige van daardie sake is steeds in ’n litigasieproses.

 

  • Saai help tans so ’n begunstigde in Limpopo om die grond wat hy op ’n onsekere grondslag by die staat huur, te koop sodat hy sonder vrees van afsetting in die plaas kan belê.

 

  • In 2020 en 2021 het Saai aan duisende swart boere op alle vlakke ramphulp en kospakkies verskaf toe die staat versuim het om dit te doen en toe staatshulpbronne wat daarvoor geoormerk is, gesteel of vermors is.

“Transformasie mag nooit beteken dat ANC-lojaliste betrokke moet wees, of noodwendig ʼn voordeel moet trek by ontwikkelingsprogramme nie en as Mantashe se definisie van hervorming as kaderontplooiing deurgaan is Saai nie bereid om sy samewerking te gee nie,” sê De Jager.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

SlinkseKoljander ·

BEE se gat, en hulle sal alles doen om dit te verdedig.

Tubac ·

M, Skerm vir homself en hy weet sy streke gaan aan die lig kom.

Frederik C ·

Dit kom dus neer op xenophobia tussen hul eie mense. Verstaanbaar dat grondhervorming misluk het.

Sterling ·

Vat hulle vas en wys hulle Oom Theo!

Saai het al meer vermag as wat die staat in die afgelope 28 jaar kon en hulle sit met eier op hul gesig as gevolg daarvan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.