Katoenvolumes probleem; pryse hoogste in meer as dekade

Daar is wêreldwye tekort aan katoen. (Foto: Maroela Media)

Die vraag na plaaslike katoen neem toe namate plaaslike kleinhandelaars in die tekstielbedryf hulle haas om aan die regering se meesterplan vir landbou-en-landbouverwerkingsmeesterplan (AAMP) se vereistes te voldoen. Dié plan het onlangs begin vorm aanneem en die katoenbedryf se teiken is om teen 2030 altesame 65% van sy katoen plaaslik te bekom.

“Baie is gedoen om op die positiewe verhouding met ons kleinhandelaars voort te bou en hulle bly daartoe verbind om plaaslike katoen te verkry,” sê Hennie Bruwer, uitvoerende hoof van Katoen SA.

“Die fokus is om katoen op ʼn volhoubare wyse te produseer en een van die fokuspunte van die bedryf om sy koolstofvoetspoor te verlaag. Hoewel dit goeie nuus vir ons produsente is, sal dit ʼn rimpeleffek hê op wat kleinhandelaars – en uiteindelik die verbruiker – vir katoenprodukte moet betaal.”

Bruwer sê plaaslike en internasionale volumes bly egter ʼn probleem, want boere in Noordwes het byna die helfte van die geskatte oes weens die swaar reën verloor, terwyl verskeie streke, waaronder die Noord-Kaap, haelskade ondervind het. Limpopo en Mpumalanga ondervind sedert Januarie vanjaar droogte, wat hul oes beïnvloed. Die hoop is nou dat daar geen verdere skade sal wees nie en dat die reën ʼn positiewe uitwerking op opbrengste sal hê.

In die VSA gaan dit ook beroerd aan die produksiekant. Die reënval in die noordwestelike deel van Texas was sedert vroeg in Januarie baie laag, waar sowat 40% van alle Amerikaanse katoen verbou word. ʼn Ander beperkende faktor is die stygende koste van plaagdoders, wat kan meebring dat kleiner oppervlaktes in die VSA beplant gaan word.

Dit het die gevolg dat katoentermynkontrakte op ʼn 11-jaar-hoogtepunt staan, wat verder veroorsaak word weens ʼn hoër aanvraag na dié gewas.

Wêreldwyd word die katoenprys van die New York Features (NYF) en die Cotlook-indekse afgelei. Die situasie in die VSA het dus ʼn beduidende uitwerking op die basislynprys van dié kommoditeit.

Volgens die derde oesskatting sal die plaaslike katoenoes vanjaar sowat 13% laer as die vorige seisoen wees, met ʼn raming van net meer as 68 000 bale lint. Die geskatte aanplantings word op 14 000 ha gestel. Ongeag die hoër kommoditeitsprys, het die oesskattings nie vanaf die vorige seisoen toegeneem nie.

Die verwagte opbrengs vir die huidige seisoen onder besproeiing is 4 140 kg saadkatoen per hektaar, vergeleke met die vorige seisoen se 4 515 kg per hektaar. Die verwagte opbrengs is 1,5 ton per hektaar op droëland, vergeleke met die vorige seisoen se 1 468 kg per hektaar.

Bruwer het aangevoer dat nuwe tegnologie steeds deurslaggewend is vir ʼn winsgewende bedryf.

“Toegang tot nuwe saadtegnologie waarmee korter produksietye behaal kan word, bly ʼn prioriteit en gesprekke vind voortdurend met verskeie rolspelers in die bedryf plaas om dié verlangde uitkomste te bestuur.

“Katoen SA ondersoek verskeie geleenthede om te help met bykomende finansiering om voort te gaan om ʼn volhoubare diens aan die bedryf te lewer,” sê hy.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.