‘Kennis ontbreek oor eksogene ensieme in dierediëte,’ sê AFMA skryfkampioen

Foto ter illustrasie. (Foto: Maroela Media)

Zarinah Skippers van die Universiteit Stellenbosch (US) is as die 2021-AFMA Intervarsity Skrywersbekerkampioen aangewys.

Die Veevoervervaardigersvereniging (AFMA) bied jaarliks ​​die Intervarsity Skrywersbekerkompetisie aan om universiteite, studentepromotors en studente aan te moedig om toepaslike navorsingsinligting in die kwartaallikse AFMA Matrix-tydskrif bekend te maak.

Die kompetisie vind oor vier rondes plaas, waar ’n paneel van bedryfskenners die artikels wat as óf “eie navorsing” óf “literatuurresensies” ingeskryf word, beoordeel.

Die artikels wat die hoogste punte in elke kategorie behaal, word in die AFMA Matrix gepubliseer.

Die algehele wenner in elke kategorie kry die geleentheid om sy of haar navorsing by die jaarlikse AFMA-simposium aan te bied. Die wenner in die eie navorsingskategorie verdien vir sy of haar universiteit die spogregte as die AFMA Intervarsity Skrywersbekerkampioen.

Tydens die indiening van haar artikel in die kategorie “eie navorsing”, het Zarinah MScAgric Dierewetenskappe (Dierevoeding) onder die promotorskap van proff. Brink van Zyl en Christiaan Cruywagen by die Departement Veekundige Wetenskappe aan die US studeer.

Zarinah Skippers. (Foto: Verskaf)

Haar artikel beskryf haar navorsing oor die voedingswaarde van ensiemtoediening in veevoer as ’n sleutelfaktor in die optimalisering van veselverteerbaarheid. Sy sê ten spyte van baie berigte oor die positiewe resultate van die gebruik van eksogene ensieme in dierediëte, moet daar nog baie geleer word, spesifiek in die Suid-Afrikaanse konteks.

“Ek voel werklik geëerd om ’n ontvanger van hierdie toekenning te wees. Om ’n paar resultate te sien spruit uit die harde werk wat in die navorsing vir my MSc ingegaan het, is opwindend, maar terselfdertyd voel ek nederig.

“Ek is so dankbaar vir elke druppel ondersteuning en aanmoediging wat ek van die mense rondom my ontvang. Hulle is my familie, vriende, akademiese personeel en my studieleiers,” het Zarinah gesê.

Sedert die indiening van die artikel het Zarinah haar MSc-graad voltooi en suksesvol gegradueer. Sy is tans as ’n junior operasionele voedingkundige in diens van Afgri Animal Feeds.

Hierdie gesogte toekenning is van die Universiteit van Pretoria, wat die 2020-spogregte gehou het vir Amelia du Preez se artikel getiteld “Uitwerking van verskillende voedingstelsels op skrotumvetakkumulasie en semengehalte van Merino-tipe skape”.

Prof. Edward Webb by die Departement Vee- en Wildwetenskappe van UP was haar promotor.

“Hierdie is een van verskeie jaarlikse projekte wat deur AFMA geïmplementeer word om studente, universiteite en uiteindelik die veevoerbedryf te ontwikkel, te versterk en te bevorder, om veilige voer vir veilige voedsel te verseker,” sê De Wet Boshoff, uitvoerende direkteur van AFMA.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.