Koring nou deel van Groei vir Goud-kompetisie

Foto ter illustrasie. (Foto: Couleur, Pixabay)

Graan SA het aangekondig dat koringboere ook nou welkom is om vir hulle Groei vir Goud-kompetisie in te skryf. Dié kompetisie, wat verlede jaar deur Graan SA van stapel gestuur is, is enig in sy soort. Dit het die produksie van mielies, koring, sonneblom en sojabone ingesluit.

Dié bedryfsorganisasie het besluit dat die tyd egter aangebreek het om koring ook deel van hierdie opbrengskompetisie te maak.

Graan SA nooi koringboere in die winterreënvalstreek, die noordelike droëlandstreke asook besproeiingsboere om vir hierdie seisoen in te skryf. Boere kan regstreeks op die webblad of deur hulle saadmaatskappye inskryf.

Na die sukses van die eerste Groei vir Goud- nasionale opbrengskompetisie wat Graan SA verlede jaar aangebied het, het die organisasie reeds die 2021-kompetisie vir somergrane aangekondig.

ʼn Opbrengskompetisie bied boere die geleentheid om die opbrengspotensiaal onder soortgelyke produksie-omstandighede, vir spesifieke streke, met mekaar te vergelyk en om mee te ding. In ʼn poging om kategorieë so vergelykbaar moontlik te maak, het Graan SA, in samewerking met GeoTerra Image, saadmaatskappye en ander kundiges, verskeie kategorieë vir koring opgestel, waaronder: Vrystaat Oos‑ en Wes‑reënstreke; besproeiing noordelike streek; besproeiing suidelike streek; Wes-Kaap-hoëreënvalstreek; Wes-Kaap-laereënvalstreek en Wes-Kaap gemiddelde reënvalstreek.

Die gebruik van wettige insette en/of produksiepraktyke wat die opbrengs kan verhoog, word toegelaat.

Insette is onderworpe aan die volgende regulasies:

  • kultivars geregistreer onder die Plantverbeteringswet;
  • GMO’s geregistreer vir algemene gebruik in Suid-Afrika;
  • landbouchemikalieë en kunsmis geregistreer onder Wet 36 van 1947; en
  • SANSOR-gesertifiseerde saad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.