Koringoes dalk grootste in twee dekades

‘n Uitstekende koringoes lê voor die deur. (Foto: Couleur, Pixabay)

Die Oesskattingskomitee (CEC) van die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling (DALRRD) het verlede week sy sesde produksieskatting vir die 2021/’22-wintergraanseisoen saam met die oppervlakteskatting van die somergraanseisoen bekend gemaak.

Sedert die vorige opdatering einde Desember verlede jaar was daar noemenswaardige veranderings, met ʼn nuwe voorspelling dat koringproduksie met 3% tot 2,21 miljoen ton kan styg, wat die grootste verwagte koringoes sedert 2002 is, toe dit 2,43 miljoen ton was.

Die oestyd vir wintergraan staan einde se kant toe en Wandile Sihlobe, hoofekonoom by Agbiz, het aan Maroela Media gesê dat hulle nie veel veranderinge aan die finale syfer verwag nie.

Hy sê daar is in totaal 523 000 ha koring aangeplant met ʼn verwagte opbrengs van 4,2 ton per ha.

Die kanolaproduksieskatting is ook in Desember met 4% verhoog tot 197 000 ton, die grootste kanola-oes wat nog aangeteken is.

Intussen is gars- en hawerproduksievoorspellings in Desember met onderskeidelik 3% en 13% gesny tot 331 100 ton en 69 950 ton.

Die Wes-Kaap, wat meer as twee derdes van Suid-Afrika se wintergewasse verbou, het sedert die begin van die 2021/’22-seisoen goeie reënval gekry, wat opbrengste weldra opgestoot het. Dit het boere aangemoedig om meer koring en kanola aan te plant.

Sihlobe sê die toename in die Wes-Kaap se koringproduksie het die jaarlikse afname in die Noord-Kaap, Vrystaat en die Oos-Kaap oorskadu. Die ander provinsies wat ʼn jaarlikse toename in produksie aangeteken het, is Limpopo en Gauteng. Tog is daar aanduidings van relatief swak gehalte in sommige streke van die land, weens swaar reën tydens die oestydperk.

“Hoewel dit die grootste oes sedert 2002 is, sal Suid-Afrika ʼn invoerder van koring bly. Die invoervereistes vir die 2021/’22-bemarkingsjaar, wat op 1 Oktober 2021 begin het, is 1,53 miljoen ton. Dit is 1% hoër as die 2020/’21-bemarkingsjaar weens ʼn marginale toename in binnelandse verbruik.”

Die sewende oesskattings sal op 28 Februarie bekendgemaak word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.