Koringstrooi, mangoskille ingespan vir voedselverpakking  

Foto ter illustrasie. (Foto: Elizabeth Ekman, Pixabay)

Regoor die wêreld werk navorsers onverpoos om oplossings vir die afvalkrisis te vind en dit lyk of koringstrooi en mangoskille baie daarmee kan help. Dié deurbraak is reg onder ons neuse deur dr. Lindleen Mugwagwa, ’n postdoktorale genoot in die Departement Prosesingenieurswese aan die Universiteit Stellenbosch, gemaak. Sy het onlangs haar doktorsgraad in Chemiese Ingenieurswese aan US behaal.

“Daar word in ‘n rigting beweeg om weg te doen met niehernubare en niebioafbreekbare petroleumgebaseerde verpakkingsmateriale,” sê sy. “Ons moet die gebruik van landbouafvalstowwe soos koringstrooi en mangoskille as alternatiewe roumateriale oorweeg, aangesien dit ryk aan bio- of natuurlike polimere en antioksidante is.”

Hierdie afvalstowwe beland gewoonlik op stortingsterreine of dit word as kompos en dierevoer gebruik, maar dit blyk dat dit moontlik in die ontwikkeling van hernubare, bioafbreekbare en niegiftige aktiewe (die vermoë om op temperatuur- en tydsveranderinge in voedselberging te reageer) voedselverpakking gebruik kan word wat sal help om produkte langer vars te hou.

Mugwagwa se navorsingstudie was die eerste om metodes te ontwikkel om die nodige bio- of natuurlike polimere en antioksidante te onttrek uit koringstrooi sowel as mangoskille wat eienskappe bevat wat geskik is vir die ontwikkeling van aktiewe voedselverpakkingsmateriaal. Dit was ook die eerste keer dat hierdie produkte geïntegreer is om ’n biokomposietfilm (’n materiaalsamestelling bestaande uit bioafbreekbare polimere en ʼn biogebaseerde versterkingsagent) in ’n voedselomgewing te toets.

Mugwagwa het as deel van haar navorsing prosesse ontwikkel en geoptimeer om hierdie polimere en antioksidante te onttrek. Daarna het sy die polimere en antioksidante gekombineer om ’n voedselverpakkingsmateriaal te maak en toe die stabiliteit van die biokomposietfilm getoets wanneer dit met voedsel in aanraking kom. Sy het ook die potensiaal getoets om oor tyd antioksidante in verpakte voedsel vry te stel. Laedigtheids-polietileenfilm, ’n tipe plastiek wat algemeen gebruik word, is as standaard gebruik.

Volgens Mugwagwa het haar studie getoon dat die eienskappe van polimere en antioksidante wat in koringstrooi en mangoskille voorkom tydens die onttrekkingsproses pasgemaak kan word sodat dit geskik vir aanwending in voedselverpakking is. Die polimere en antioksidante kan gelyktydig uit dieselfde voermateriaal onttrek word sonder om hul gebruik in voedselverpakking te beïnvloed.

“Die biogebaseerde films wat ek ontwikkel het, kon meer antioksidante oor ’n kort tyd in voedsel vrystel, in vergeleke met laedigtheids-poliëtileen plastiek. Dit dui daarop dat dit as ’n plaasvervanger vir die verpakking van bederfbare produkte gebruik kan word.

“Verpakkingsmateriaal se vermoë om antioksidante in voedsel vry te stel is besig om ’n belangrike oorweging in die keuse van verpakkingsmateriale te word. Dié produkte se reaksie op bergingstoestande het die potensiaal om die rakleeftyd van produkte te verleng, want die antioksidante werk onversadigde radikale en mikro-organismes teë wat kan ontwikkel indien voedsel nie behoorlik geberg word nie of vir langer tydperke geberg word.”

“My navorsing bied goedkoop, volhoubare en bioafbreekbare polimere wat in die ontwikkeling van voedselverpakking gebruik kan word en bied ook metodes om natuurlike antioksidante te herwin en vir aanwending as byvoegings tot voedselverpakkingsmateriaal. Hierdie natuurlike antioksidante het die potensiaal om kunsmatige antioksidante wat kanker kan veroorsaak in verpakkingsmateriaal te vervang.”

Sy voeg by dat biosuiweringsaanlegte, die voedselverpakkingsbedryf asook boere en verbruikers by haar navorsing sal baat.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.