Koster en Swartruggens: Politieke inmenging en die pad vorentoe

KDS het ‘n reuse verantwoordelikheid op hulle skouers geneem om dié haglike situasie in KPM die hoof te bied. (Foto: Facebook)

Die Suid-Afrikaanse administratiefreg is op sy kop gedraai toe regter Festus Gura op 18 Desember in die Mafikeng-hooggeregshof in Noordwes grondwetlike bepalings geïgnoreer het in sy uitspraak teen die Kgetlengrivier- plaaslike munisipaliteit (KPM). In plaas daarvan om die saakwaarneming van dié disfunksionele munisipaliteit se riool en waterwerke in die provinsiale raad se hande te laat, het hy dit aan die Kgetlengrivier Besorgde Inwoners, in kort KDS, wat nie wettig verkies is nie, en geen munisipale wetlike gesag het nie, oorhandig. 

Boonop is die munisipale bestuurder, Joseph Mogale, ʼn opgeskorte vonnis van 90 dae tronkstraf opgelê op voorwaarde dat hy sorg dat die vloei van riool in die Elandsrivier én die Kosterrivier binne tien dae stopgesit moet word.

Dit het nie gebeur nie en die KDS het uiteindelik die onmoontlike reggekry deur die bestuur van hulle riool- en waterwerke in Swartruggens en Koster oor te neem. Carel van Heerden, voorsitter van KDS, het reeds sedert 2013 soveel as 31 hofgedinge, wat elkeen met koste gewen is, agter die blad.

KDS en die Koster-gemeenskap het hulle eie gereedskap en hulpmiddele ingespan om die munisipaliteit se waterwerke weer in ‘n werkende toestand te kry. (Foto: Facebook)

Volgens die hofbevel moes KPM ʼn diensverskaffer aanstel en hulle het toe na bewering die pasvoltooide rioolwerke se implementeringsagent, Magalies Water, aangestel. Dit is dieselfde diensverskaffer wat in 2013 die kontrak met KPM vir die bedryf van hulle waterwerk gekanselleer het omdat KPM hulle reeds R3 miljoen geskuld het.

Honderde vragte slik moes uit Koster-waterwerke se opgaardamme gehaal word om die stelsel weer doeltreffend te laat werk. (Foto: Facebook)

ʼn Gedugte span

Die persone wat voor gevat het in hierdie omstrede taak was Willie Jones, ʼn sakeman in die voeraanlegbedryf; Andreas Peens, ʼn prokureur wat reeds sy staal teen Eskom gewys het wat verskeie gemeenskappe se krag wou afsit; Cobus Raubenheimer, ʼn meganiese ingenieur uit die Vaaldriehoek; Carel van Heerden, sakeman en voorsitter van KDS; Wilhelm Rochér, voorsitter van die TLU SA se Swartruggens Distrikslandbou-unie en adv. Danie Wijnbeek, wat dié organisasies in die hooggeregshof verteenwoordig het.

Willie Jones en sy span het oneindig baie ure ingesit en laat nagte gewerk om die KPM se water- en rioolwerke weer in ‘n werkende toestand te kry. (Foto: Willie Jones)

Hierdie persone het merendeels die vermoë om hulself teen munisipale verval te verskans met hulle eie sonkrag en boorgate, maar ʼn verantwoordelikheidsgevoel en ʼn onblusbare liefde vir hulle gemeenskap en reg en geregtigheid het hulle gedwing om in te gryp. “Ons kon net nie meer toekyk hoe riool in die strate afloop en langs die huise van die armstes van die armes in die gemeenskap spoel nie. Daar is kinders en vroue wat elke dag met kruiwaens ver moes stap om te gaan water haal. Baie van hulle moes later die gebrekkige vuil water uit hulle krane drink en daarmee was en kook,” sê Jones.

En daar was water

Die middag van 8 Januarie 2020 om 13:00 het die inwoners van Koster vir die eerste keer in baie jare skoon drinkwater gehad wat uit hul krane gevloei het en die rioolwerke is weer in bedryf gestel. Die E.coli-vlakke in Koster se water is nou nie meer 40 keer bo die aanvaarbare telling nie.

Die riooltoevoernetwerk het die verantwoordelikheid van KPM gebly, maar riool het steeds deur Koster se strate gevloei.

Koster se inwoners is baie dankbaar dat hulle skoon drinkwater deur hulle huise se krane ontvang het, kort nadat KDS die munisipaliteit se water- en rioolwerke oorgeneem het.

Derby se gemeenskap het darem toegang tot boorgate en hulle is nie so erg geraak deur die hele krisis nie, hoewel hulle ook kort-kort wateronderbrekings ervaar. Die Swartruggens-gemeenskap het ook self hulle waterwerke reggeruk en in stand gehou, maar dit was ʼn onbegonne taak met die rioolplaas wat reeds ver heen was.

Die boere in die Swartruggens-distrik het ʼn riool-krisis van ʼn ander kleur gehad. “Riool uit Swartruggens se rioolplaas vloei regstreeks in die Elandsrivier, wat die Lindleyspoortdam-besproeiingskema van water voorsien. Daar is 1 060 ha besproeibare grond wat gemiddeld R100 000 per hektaar werd is. Nou het die waarde effektief na R10 000 gedaal omdat ons nie meer kan besproei nie,” sê Rochér. Die boere het intussen opgehou om groente, koring en mielies daar te verbou, maar probeer kyk of hulle moontlik weiding onder die spilpunte kan aanplant.

Dit het KDS baie ure se werk geneem om ʼn afgetekende projek van R144 miljoen, wat nog nie ses maande oud is nie, weer aan die gang te kry, alles met geld wat uit die manne en die gemeenskap se sakke gekom het. Boonop het hulle nie aan die munisipale heffings en belastings geraak wat sekere inwoners sedert ʼn vorige hofsaak in ʼn trustrekening betaal het nie.

Gelukkig het die hooggeregshof beveel dat KPM wel KDS vir hulle dienste moet vergoed. Dit gaan ʼn administratiewe oefening op sy eie wees, maar die organisasie is vasbeslote om die geld terug te kry en elkeen vir sy werk te beloon. “Ons gaan al die mense se hulp, van die persoon wat met sy bossiekapper die ruigtes by die waterwerke help tem het, tot die vervoerkontrakteur wat honderde vragte slik weggery het, se arbeid en verbruikbares kwantifiseer en ʼn faktuur vir die staat stuur om ons almal te vergoed. Gelukkig is die betaling van dienste deel van die hofuitspraak,” sê Jones.

Koster se rioolplaas werk vandag weer soos dit moet. (Foto: Willie Jones)

Raubenheimer sê: “As ek nie my geld terugkry nie, maar die projek slaag, sal dit my ten minste die vrymoedigheid gee om ʼn soortgelyke aksie in die disfunksionele munisipaliteite om my in die Vaaldriehoek te dryf.”

Wat nou?

Die vraag is wat gaan nou vorentoe gebeur? Hierdie samaritane het ander verpligtinge en ondernemings wat veronderstel is om al hulle aandag te verg.

“Ons is nou besig om te besluit oor die toekoms,” sê Peens. “Die hofbevel stipuleer dat ons nie die dienste vir ewig kan bestuur nie. Ons moet ʼn oorhandigingsplan uitwerk wat tot voordeel van almal is.”

ʼn Openbare-private vennootskap (PPP) was onder bespreking, maar dit sal te lank duur om te implementeer en ʼn ander idee het ontstaan.

“Ons is nou besig om na ʼn koöperatiewe benadering te kyk waarmee ʼn samewerkingsooreenkoms met KPM en Magalies Water opgestel word,” sê Peens. “Ons wil ʼn raad stig waarop twee lede van KPM, twee lede van Magalies Water en drie van ons lede gaan dien. Ons kan dan een keer per week vergader en gesamentlik besluite neem en sake as ʼn span hanteer.”

Die stryd duur egter voort

Daar is egter ʼn rits ander probleme wat die KDS-span moet trotseer terwyl hulle onverpoosd werk om te verseker dat hul gemeenskap deurlopend skoon drinkwater in die toekoms sal hê. Die kontrakteur wat vroeër vir die munisipaliteit ʼn reservoir gebou het, is nog nie ten volle betaal nie en om druk op die munisipaliteit uit te oefen, verwyder hy deurlopend meters en krane. Jones moes Sondagaand ʼn saak van opsetlike saakbeskadiging en sabotasie teen die kontrakteur gaan maak wat weer ʼn kraan en ʼn filter onder die reservoirs wat die Reagile-woonbuurt, uitbreiding 4, en Sentimule in Koster van water moet voorsien, verwyder het.

Munisipale werkers draai ook voortdurend krane toe en lewer onderbroke kragtoevoer na die twee pompstasies vir geen bepaalde rede nie. Dit het die KDS-span gedwing om twee kragopwekkers te huur om skoon water aan die gemeenskap te voorsien. KDS het ook sekuriteitswagte op al ses die dienspunte uitgeplaas.

“Sommige mense sien hierdie aksie as ʼn swart en wit ding maar dit is nie so nie. Ons het die hele gemeenskap betrek en almal wat kan, is betrokke,” sê Jones. “Ons wil politiek ook hieruit hou, want ons het gesien hoe vernietig politiek dienslewering.”

Boonop wil die politieke inmenging ook nie ʼn einde se kant toe staan nie. Op KPM se webwerf is daar steeds ʼn aankondiging van ʼn onwettige oorname van die munisipaliteit se bates, wetend dat daar ʼn hofbevel is waarna die partye toegestem het.

ʼn Skermskoot van KPM se webwerf waarop ʼn publieke nota verskyn van die onwettige oorname van die munisipaliteit se bates.

“Magalies Water is skynbaar in Januarie as die implementeringsagent aangestel, hoewel KDS die nuwe R144 miljoen gedeelte van Koster se rioolwerke aan die gang gekry het. Magalies Water het boonop nie veel gedoen aan die onderste gedeelte van die rioolwerke, waar riool steeds in die Elandsrivier vloei nie,” sê Jones.

Wanneer lekplekke geïdentifiseer en gerapporteer word, word dit nie noodwendig herstel nie. Daar loop ook ʼn storie in die dorp rond dat die wit mense gif in die water gegooi het en daarom moet die munisipale werkers die water toedraai. Nou trap werkers van departement waterwese hulle drumpels deur om te kla dat die water ondrinkbaar is. Eskom het ook ʼn paar keer die krag na die rioolplaas afgesit weens munisipale wanbetaling. “Die hooggeregshof het beveel dat KPM die kontrakteurs binne 30 dae moet betaal en ons wag steeds in spanning,” sê Peens.

Nadat daar ʼn foto onder kwaadwilliges versprei is oor hoe vuil die drinkwater was nadat die KDS-span die waterwerke oorgeneem het, kon hulle ʼn foto by Koster se waterwerke se inspeksiekanale neem om die teendeel te bewys.

Jones sê: “KPM skuld Eskom tans seker R180 miljoen en nou gebruik hulle die geld wat die voorafbetaalmeters se kontrakteurs aan hulle oorbetaal, wat hulle weer aan Eskom moet oorbetaal, op andere dergelike dinge.”

Rochér is ook ʼn ruk gelede deur ʼn persoon by die departement waterwese gedreig dat hy toegesluit gaan word. “Ons het ʼn saak teen die kontrakteur gemaak wat Swartruggens se rioolwerke opgradeer het,” sê Rochér. “Hy het R19 miljoen ontvang waarvan daar baie min is om te wys. Ons het ʼn kwotasie vir R6 miljoen gekry om dieselfde werk te doen.” Om alles te kroon het die rioolplaas intussen onder vandale deurgeloop waartydens al die koperkomponente uit die elektriese paneel  gesteel is.

Die KDS-span laat hulle egter nie van stryk bring nie en het onlangs ʼn groot gat in Koster se 10 miljoen liter reservoir laat herstel omdat die water ook vir maande net in die strate afgespoel het.

Die herstelproses aan een van Koster se reservoirs. (Fotos: Willie Jones)

Regoor Suid-Afrika is daar reeds heelwat organisasies en bewegings wat uit eie inisiatief hulle munisipaliteite se gebreklike dienste herstel, maar dit is nie volhoubaar nie. Gelukkig het regter Gura se uitspraak ʼn verreikende presedent geskep wat sake baie makliker vir moedelose plattelanders sal maak.

Enige persoon wat ʼn bydrae wil maak om KDS te help kan Willie Jones by 083 627 6026 of Andreas Peens by 063 603 6948 skakel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Kokerboom ·

Vraag is: Waar is betrokke minister?!!!!Hul afwesigheid toon absolute minagting vir land se mense!!

Groen Ghoen ·

Geluk aan al die betrokkenes vir hul onbaatsugtige werk! Eerder as om te ween, derms uitryg en te kerm op sosiale media het hulle iets gedoen. ‘n Mens wonder tog waar is al die Rme heen vir die arme plekke om so in die ellende te kon verval? Om Zuma te blameer help nie meer nie….

Kobus ·

Is die Burgemeester tronk toe? Hy is 90 dae opgeskorte vonnis opgele maar het nie presteer nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.