Kry dié entstowwe by OBP

Foto ter illustrasie. (Argieffoto)

Onderstepoort Biologiese Produkte (OBP) het in ʼn verklaring aangedui dat hy ʼn handvol entstowwe vervaardig het wat beskikbaar is, of binnekort beskikbaar gestel sal word.

“Ons is bewus is van ons kliënte se kommer oor die beskikbaarheid van sekere kritieke entstowwe vir die naderende inentingseisoen, maar met behulp van die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) het ons weerpatrone waargeneem wat tot aanhoudende reën in sekere dele van die land lei,” sê dr. Bethuel Nthangeni, tussentydse uitvoerende hoof van OBP. “Dié oorvloed reën verhoog die waarskynlik van siekte-uitbrekings.”

Die entstowwe wat derhalwe vervaardig en beskikbaar gestel is, is:

  • Afrika-perdesiekte-entstof, wat reeds gehaltebeheertoetsing ondergaan wat sewe dae duur en dan binne dae daarna beskikbaar sal wees.
  • Bloutong-entstof sal voor 20 Desember vanjaar beskikbaar wees.
  • Entstof vir knopvelsiekte is in voorraad.
  • Afrika-rooiwater, Asiatiese rooiwater, bosluisgedraagde galsiekte en Hartwater-entstowwe is hierdie week beskikbaar gestel.
  • Slenkdalkoors (lewendig) is beskikbaar en daar word tans nog voorraad vervaardig wat einde Januarie volgende jaar beskikbaar sal wees.

Hierdie semi-staatsinstelling is berug daarvoor dat daar oor die afgelope jare heelwat ongerymdhede onder sy dak plaasgevind het met geld wat onreëlmatig bestee is, verouderde masjiene wat nie vervang of herstel is nie en ʼn onvermoë om aan sy mandaat te voldoen. Daar is derhalwe heelwat druk deur verskeie belanghebbendes op OBP toegepas om ten goede te verander.

Nthangeni sê as sake-onderneming werk hy aan sy instandhoudingprogram en die herstel van toerusting, terwyl volhoubare kontinuïteitstrategieë ingestel word. “OBP se strategie bestaan ​​uit kort-, medium- en langtermyn-herstelwerk, vervangings en aanvullings.

“Hierdie strategie is nodig om toekomstige produksie-onderbrekings te voorkom. OBP is trots daarop dat die beskikbaarheid van entstowwe sal help om te verseker dat uitbrekings van siektes voorkom word. OBP moedig boere aan om dadelik in te ent wanneer die entstowwe beskikbaar word.”

OBP het onderneem om sy kliënte op die hoogte te hou van vordering in hierdie verband.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.