Kunsmistekort dreig

Boere word aangeraai om so gou moontlik hul kunsmis vir die plantseisoen te koop. (Foto: Du Preez de Villiers)

Duur bestaande voorraad en logistieke probleme kan beteken dat kunsmis vanjaar baie skaars gaan wees.

Invoere van kunsmis in vergelyking met vorige jare het ingrypend afgeneem. Hierdie situasie, tesame met logistieke uitdagings, kan moontlik tot die tekort van sekere kunsmisvoorrade in Suid-Afrika lei, wat produsente vroegtydig op hulle hoede behoort te maak.

“Die daling in internasionale kunsmispryse het veroorsaak dat daar minder voorraad ingevoer is met die hoop dat pryse nóg verder sou daal,” sê Kevin Smit, bestuurder van insetvoorraad by Hinterland. “Invoerders wou ook nie onnodig met ʼn oorskot duur voorraad sit nie,” verduidelik hy.

Omdat Rusland en Oekraïne groot kunsmisprodusente is, het die konflik in Oekraïne en gepaardgaande sanksies teen Rusland veroorsaak dat daar ʼn wêreldwye tekort ontstaan het. Dit het daartoe gelei dat pryse twee jaar gelede die hoogte ingeskiet het.

Hinterland, wat deel is van die Senwes-groep, het  ʼn ooreenkoms met MacroSource, voorheen Gavilon Fertilizer, aangegaan waar dié kunsmisgroothandelaar, met sy hoofkantoor in die VSA, voortaan ʼn voorkeurverskaffer van kunsmis aan Hinterland sal wees.

Wayne Edwards, uitvoerende hoof van Hinterland, sê MacroSource se geriewe in Durban gee Hinterland die geleentheid om ʼn beter diens aan sy kliënte te lewer.

Francois de Kock, uitvoerende bestuurder van Agri Credit Solutions (ACS), ʼn kredietverskaffer binne die Senwes-groep, het beklemtoon dat hulle verskeie finansieringsopsies beskikbaar het om ACS se kliënte in die aankoop van kunsmis te ondersteun.

Graan SA en die Kunsmisvereniging van Suid-Afrika (Fertasa), het ook na die dalende invoere verwys – hul invoersyfers staan op 78 867 ton in Junie teenoor 219 934 ton verlede jaar.

“Ons doen ʼn ernstige beroep op produsente om betyds hul kunsmis te bestel en sodoende gemoedsrus te kry dat potensiële tekorte nie hul planttydplanne in die wiele ry nie,” maan Smit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

TrueMan ·

Hulle moet gaan oes by WGO en brics vergaderings. Tonne regte mis

Hans ·

Russiese federasie se uitvoere na die Vsa het trippel soveel geword in 2023, as in 2022.
Waarom nie direk vanaf die Russiese Federasie kunsmis invoer nie en die Duur Vsa kunsmis vir westerse lande los nie? SA is BRICS vennoot en nou doen wit Suid-Afrikaners skynbaar alles deur te klou aan geykte Vsa?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.