Laat jou stem hoor by Saai se Nampo-stalletjie

Nampopark. (Foto: Maroela Media)

Die familieboerenetwerk Saai gaan die Nampo-oesdag gebruik om by boere self te hoor wat hul uitdagings en bedreigings is.

Boere word gevra wat die vyf belangrikste faktore is wat sou kon veroorsaak dat hulle en hul gesinne dalk in 2032 nie meer op hulle plase sal boer nie.

By Saai se stalletjie in die Nampo-saal kan boere in ’n vraelys met veelvuldige keusevrae aandui watter van die volgende bedreigings of kwessies vir hulle die grootste gevare inhou:

  • Die beskikbaarheid van en toegang tot finansiering
  • Veiligheid
  • Stabiliteit en orde in Suid-Afrika/radikale politiek
  • Grondhervorming en grondonteiening
  • Uitbreidingsmoontlikhede
  • Familiedinamika/opvolging/ouers of kinders se keuses
  • Water
  • Winsgewendheid
  • Arbeid, lone, vakbonde en stakings
  • Infrastruktuur: paaie, elektrisiteit en konnektiwiteit

Francois Rossouw, uitvoerende hoof van Saai, sê daar is geen groter geleentheid op die landboukalender waar meer boere op een plek en tyd saamkom as by Nampo nie.

“Ons kan nie die geleentheid misloop nie om die outentieke menings, persepsies, besorgdhede en vooruitsigte van familieboere in alle bedrywe en oor die hele land te toets.

“Dit is belangrik dat ons beleidsontwikkeling, standpunte, aksies en veldtogte in pas bly met dit wat in die harte en gedagtes van ons boere aangaan. Nampo bied ’n unieke geleentheid om dít eerstehands te bepaal.”

Dr. Theo de Jager, uitvoerende voorsitter van Saai, glo boere op grondvlak se insette is noodsaaklik om georganiseerde landbou se aksies en standpunte te rig. “Dit gebeur te dikwels dat ’n landbou-unie verwyderd raak van die realiteite op plaasvlak. Ons het iets daarvan gesien met die reaksie op die agentskap vir uitvoersertifisering van bederfbare produkte (PPECB) se eise dat SEB-sertifikate saam met aansoeke vir uitvoerlisensies ingedien moet word.”

Besoekers aan Nampo kan by Saai se stalletjie aan dié blitsopname deelneem en staan dan die kans om een van drie groot pryse te wen. Boere wat Nampo nie vanjaar gaan bywoon nie, kan die vraelys op Saai se webwerf invul.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

annie ·

Hoe lyk dit met minder gm-produkte en gif? Hou op droom, boere.

Andre ·

Baie min mense weet iets van GMO produkte, behalwe van die beter opbrengs en wins.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.