Landbou loop ook deur onder skroothandel

Die elektriese harnas is uit Bertus van der Westhuizen se stroper gestroop en die kajuit se stoffering, instrumentasie en panele is in die proses verwoes. (Foto: Verskaf)

Fikile Mbalula, minister van vervoer, het gedreig om die strenger op te tree teen skrootmetaalhandelaars wat gesteelde Prasa-materiaal koop. Daar word beraam dat die ekonomie miljarde rande verloor weens kabeldiefstal.

Hy het diefstal en vandalisme van Prasa-infrastruktuur as sabotasie van die ekonomie geklassifiseer.

“In 2021 het die Suid-Afrikaanse Kamer van Koophandel en Nywerheid (SACCI) beraam dat kabeldiefstal die ekonomie tussen R5 miljard en R7 miljard per jaar gekos het,” sê hy. “Kabels wat weg is beteken dat seine onderbreek word, wat veroorsaak dat treine ontspoor of bots, wat onskuldige lewens in gevaar stel.”

TLU SA het die aankondiging verwelkom, maar sê hy hoop Mbalula sal seker maak dat dit nie net gesteelde Prasa-materiaal is wat onder die loep sal kom nie.

“Daar moet veral sterk gefokus word op skroothandelaars wat in koper en aluminium handel dryf. Trekkers en stropers se verkoelers en bedradingsharnasse word teen ’n geweldige tempo agter die koper aan gestroop,” sê Bertus van der Westhuizen, TLU SA se streeksvoorsitter van die Vrystaat.

“Die isolasiemateriaal van die bedradingsharnasse word dan in ’n vuur weggebrand om sodoende die koper te herwin. By my is ’n stroper, ’n leunwa en trekkers se harnasse gesteel. Dit is duisende rande se skade.”

Erika Helm, voorsitter van TLU SA se plaaslike regeringskomitee, sê die publiek gaan reeds vir jare onder die diefstal van infrastruktuur gebuk, wat miljarde rande se verliese vir ondernemings beteken. “Dit is nie net ’n Prasa-probleem nie. Dit is ’n uitdaging vir elke onderneming, waaronder landbou ook val. In ’n tydperk waarin ekonomiese groei ’n prioriteit is, behoort die regering sterk aandag te gee aan die handel van gesteelde goedere.

“Dit is ook belangrik dat die SAPD se stelsel noukeurig nagegaan word met die registrasie van diefstalsake, veral in die lig van kabeldiefstal, sodat die statistieke die werklike stand van sake duidelik uitlig. Ons doen ʼn beroep op die minister om die aanmelding van sake te ondersteun, aangesien dit in baie gevalle gekniehalter word deur ’n gebrekkige polisiediens, wat nie in staat is om aandag te gee waar dit nodig is nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.