Landbou-ondernemings optimisties oor toekoms

Landbou-ondernemings is gretig om sekondêre landbou tot nuwe hoogtes te voer. (Foto: Maroela Media)

Die Landbousakekamer (Agbiz) het hul jongste vooruitskouings en statistieke bekendgemaak en sake lyk besonder goed vir boerderye en landbou-ondernemings.

Nadat Agbiz se landbousakevertrouensindeks (ACI) in vanjaar se derde kwartaal na 67 punte teruggesak het, het dit in die vierde kwartaal herstel en tot 74 punte gestyg.

Dit is die tweede hoogste vlak sedert die ontstaan van die ACI in 2001. In vanjaar se tweede kwartaal het dit tot ʼn rekordvlak van 75 punte gestyg.

Die landbousakevertrouensindeks het in 2021 noemenswaardig gestyg. Die grys blokke dui die tydperke aan waar die reënval regoor Suid-Afrika laer as die gemiddeld van 500 mm was. (Bron: Agbiz Navorsing en die Suid-Afrikaanse Weerdiens)

Volgens Agbiz impliseer ʼn punt bo die neutrale 50-merk dat landbou-ondernemings optimisties oor bedryfstoestande in Suid-Afrika is.

Die ACI bestaan uit tien subindekse en het almal sedert die derde kwartaal van vanjaar verbeter. Die omset- en die netto bedryfsinkomste-subindekse het met 10 punte en een punt tot onderskeidelik 92 en 85 verbeter. Dit weerspieël verbeterde plaasinkomste op die rug van ʼn uitstekende oes vir saaigewasse, vrugte, groente en wyndruiwe in die 2020‑’21-seisoen. Daarmee saam was hoër kommoditeitspryse, veral vir grane en oliesade, die kersie op die koek.

“Die een groot uitdaging wat die meeste respondente uitgelig het, is hoër insetkoste, wat die winste vir die meeste boerderye wegkalwe. Tog, die gunstige produksie-vooruitsigte vir die 2021‑’22-seisoen en kommoditeitspryse wat deurlopend styg, dui daarop dat die meeste boerderye winsgewend kan bly,” sê Wandile Sihlobo, hoofekonoom van Agbiz.

Wandile Sihlobo, hoofekonoom van Agbiz. (Foto: LinkedIn)

“Daarmee saam is uitstekende weervooruitsigte, weens die La Niña-verskynsel, bevorderlik vir landbou-aktiwiteite en dit kan boere help om die hoër insetkoste, wat hulle aan die begin van die seisoen aangegaan het, te verreken.”

Hierdie opname is oor die laaste twee weke van November gedoen en het landbou-ondernemings, wat in alle landbousubsektore reg oor Suid-Afrika bedrywig is, gedek. Dit weerspieël die persepsies van besluitnemers se keuses in 25 landbou-ondernemings.

Vrae oor die 10 belangrikste aspekte wat ʼn onderneming in die landbousektor beïnvloed, is gevra. Dit sluit vrae in oor omset, netto bedryfsinkomste, markaandeel, indiensneming, kapitaalinvestering, uitvoervolumes, ekonomiese groei, algemene landboutoestande, debiteurevoorsiening vir slegte skuld en finansieringskoste.

Hierdie indeks word deur landbou-ondernemings se bestuurders, beleidmakers en ekonome gebruik om die persepsies van die landbousakesektor te verstaan en dien ook as ʼn aanwyser van die waarde van die landbou-uitsette, terwyl dit ʼn basis verskaf vir landbou-ondernemings waarop hulle hul sakebesluite kan steun.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.