Landbou spartel as gevolg van sukkelende Kaapstad hawe

Kaapstad-hawe. (Foto: Jean van der Meulen, Pixabay)

Ivan Meyer, Wes-Kaapse LUR vir landbou, en Justin Chadwick, hoofuitvoerende bestuurder van die Sitruskwekersvereniging (CGA), het onlangs ʼn vergadering belê om die swak toestand van die Kaapstad-hawe te bespreek en die invloed wat dit op die uitvoere van landbouprodukte het.

Tydens die gesprek het dit aan die lig gekom dat 50% van die toerusting verouderd is en dat die bestuur en mannekrag onvoldoende is om die volume te hanteer.

“Na afloop van my onlangse vergadering met die Sitruskwekersvereniging (CGA), wil ek my kommer oor die huidige dienslewering in die Kaapstad-hawe uitspreek,” sê Meyer. “Dit kan ʼn ernstige negatiewe invloed op die uitvoer van landbouprodukte hê.

“Die tekort aan, en verouderde toerusting wys op die onvermoë van die hawe-owerheid om die Kaapstad-terminale doeltreffend te bestuur. Dit ondermyn die kritieke rol wat die hawe moet speel om uitvoere en ekonomiese groei te steun,” sê Meyer.

Chadwick het aangedui dat sitrusuitvoerders tans na ander hawens gaan om hul produkte landuit te kry, want Kaapstad-hawe bly ʼn risiko.

Die sterk winde wat hierdie tyd van die jaar waai veroorsaak ook dat die verouderde hyskrane nie gebruik kan word nie. Daarbenewens is daar ook ʼn tekort aan behoueringskratte.

“Omdat die Wes-Kaap verantwoordelik is vir 50% van die Suid-Afrikaanse landbou-uitvoere, is Kaapstad-hawe ʼn belangrike rat in die ekonomie van dié provinsie en Suid-Afrika,” sê Meyer.

Maroela Media het vroeër berig dat die personeelvermindering tydens die inperking groot probleme vir verskeie vrugte-uitvoerders veroorsaak het.

“Om in te haal op die agterstand wat die inperking veroorsaak het, het die Kaapstad-hawe personeel van Durban gekry, maar dié is nou weer terug,” sê Daniel Johnson, Meyer se woordvoerder.

Soos die nasionale spoorweë is al die hawens onder die bestuur van die nasionale regering. “Die Wes-Kaap se regering kan nie veel daar uitrig nie. Ons kan maar net elke keer mooi praat sodat sake beter verloop,” sê Johnson.

Meyer sê die Wes-Kaapse departement van ekonomiese ontwikkeling en toerisme, onder leiding van David Maynier, LUR vir finansies en ekonomiese geleenthede, het ‘n hawetaakspan saamgestel wat belanghebbendes regoor die hawe se logistieke waardeketting byeengebring het om oplossings te vind vir die uitdagings waarvoor die Kaapstad-hawe te staan ​​kom.

“Hoewel hierdie taakspan tot dusver ʼn paar suksesse behaal het, sal die doeltreffendheid van die hawe uiteindelik ʼn ingryping van die nasionale regering verg, daarom het ons ʼn beroep op pres. Cyril Ramaphosa gedoen om die Kaapstad-hawe dringend te besoek.

“Ek ondersteun die CGA se besware en sal dus die Kaapstad-hawe besoek om ons bekommernisse met die senior bestuur van Transnet Hawe Terminale (TPT) te bespreek. Dan sal ek dit ook aan die Wes-Kaapse permanente komitee vir finansies en ekonomiese ontwikkeling en toerisme oordra.”

Meyer sê volgens hulle navorsing sal ʼn 5%-groei in uitvoere oor die volgende vyf jaar ongeveer 19 000 nuwe werkgeleenthede in die Wes-Kaap skep.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Barend ·

Dis hoekom ‘n nuwe hawe vir Gordonsbaai beplan is. Nuwe een is beter as ‘n ou een wat vergaan agv swak onderhoud en vooruitbeplanning.

Jaco ·

Die hawe ressorteer onder die nasionale regering, wat ANC is, maar die hawe is in die Wes-Kaap, waar, volgens die ANC, “die rassistiese DA” in beheer is. So is dit enigsins vreemd dat die hawe nie in stand gehou word nie? Dis net ‘n manier om die DA te “straf”. Goeie regering is blykbaar ‘n skending van menseregte en ‘n misdaad teen die mensdom.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.