Landboujeug wil pronk by Nampo Kaap

Kinders leer noodsaaklike vaardighede aan as hulle aan jeugskoukompetisies deelneem. (Foto: Du Preez de Villiers)

Nampo Kaap vind oor presies ʼn maand plaas en een van die hoogtepunte is die Overberg-streekjeugskou wat met ʼn strawwe kompetisie gepaard gaan.

Madeline Kriel, koördineerder van die Overberg-streekjeugskou, sê Nampo Kaap skep geleenthede vir die jeug om nie net die toekoms van landbou raak te sien nie, maar om ook by wyse van die jeugskou aktief betrokke te wees. “Leerders kry die kans om landbou eerstehands te ervaar. Om met diere te werk is ʼn voorreg, want dit leer verantwoordelikheid en bevorder emosionele groei. Kinders se veiligheid en gevoel van onafhanklikheid word albei verhoog deur die band wat tussen mens en dier ontwikkel,” sê sy.

Die Overberg-streekjeugskoukompetisie wat op Saterdag 16 September plaasvind, is een van agt streekkompetisies in die Wes-Kaap waaraan leerders deelneem om vir die Wes-Kaapse jeugskoukampioenskap te kwalifiseer. Tydens die WP-kampioenskap word ʼn span gekies om aan die nasionale jeugskou-kampioenskap deel te neem.

Seuns en meisies tot die ouderdom van 17 kan aktief aan die jeugskou-kompetisies deelneem. Die drie ouderdomskategorieë is: Junior-juniors wat vyf tot tien jaar oud is, juniors wat 11 tot 14 jaar oud is en seniors wat 15 tot 17 jaar oud is. Die 14 klasse waarvoor ingeskryf kan word, sluit in melk- en vleisbeeste, wol- en vleisskape, angora-, vleis- en melkbokke, pluimvee, perde, wedvlug- en sierduiwe, konyne, jong afslaers, kulinêre kuns en suiwelbereiding.

Pierre Human, ondervoorsitter van die Wes-Kaapse jeugskouvereniging en ʼn jeugskouafrigter, sê dit is belangrik om veral van jongs af die jeug by landbou te betrek. “Ons het gevind dat jeugskou baie gewild is, veral onder leerders wat nie gereeld toegang tot landbou het nie. Dit is van kardinale belang om hul blootstelling en deelname aan landbou te ontwikkel en aan te moedig vir ʼn volhoubare toekoms.

“Die twee jaar tydens die Covid-19-pandemie waarin daar nie jeugskou-aktiwiteite plaasgevind het nie, het ʼn nadelige uitwerking op die deelname van jonger leerders gehad. Ons het ʼn afname in die aantal inskrywings van jong en nuwe deelnemers gesien.”

Human sê met die steun van Agri Expo is hulle nou in staat om vir deelnemers in die ouderdomsgroep vyf tot 13 jaar wat vir die eerste keer deelneem, ʼn opleidingsessie in alle klasse by die Overberg-streekjeugskou aan te bied.

Kriel voeg by dat deelnemers belangrike vaardighede sal aanleer om hul jeugskou-loopbane van stapel te stuur.

“Jeugskou behoort ʼn groter rol in die Suid-Afrikaanse landbousektor te speel,” sê sy. “Dit is ʼn bron van toekomstige landbouleiers, en dit kan gesien word in die prestasies van voormalige jeugskou-mededingers in tersiêre opleiding en die professionele wêreld.”

Breyton Milford, voorsitter van die Wes-Kaapse Jeugskouvereniging, sê hulle verwelkom hierdie geleentheid om ook leerders met gestremdhede en leerders uit benadeelde agtergronde aan die voordele van jeugskou bloot te stel.

Kriel sê ʼn kompetisie soos hierdie sou nie moontlik gewees het sonder die steun van borge nie. “Ons is dankbaar vir die borgskappe van Neptun, BKB, Hollard, die Wes-Kaapse departement van landbou, Voermol, ARDS, Agri Expo en Varsmark Bredasdorp vir hul ondersteuning. Hulle is deurslaggewende vennote van Overberg‑jeugskou en deel ons liefde vir landbou.”

Kry hier meer inligting en hier kan kaartjies gekoop word.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.