Landbouleiers vol lof oor studiefonds

Hannes Noëth, uitvoerende direkteur van Helpende Hand; Danie Bester, 2020 se TLU Jongboer van die jaar; Francois Rossouw, hoof uitvoerende beampte van Saai; Corné Liebenberg, bemarkingsdirekteur van Laeveld Agrochem en Zander Botha, Solidariteit Helpende Hand se fondsbestuurder van die “Hier sal ek boer”-veldtog, is baie opgewonde oor die moontlikhede wat dié fonds inhou. (Foto: Du Preez de Villiers)

Solidariteit Helpende Hand se “Hier sal ek boer”-studiefonds is amptelik in Pretoria bekendgestel om studente wat in landbou en natuurbewaring wil gaan studeer, by te staan. Tydens die geleentheid is landbouleiers genooi om hul stuiwer in die armbeurs te gooi oor hoe hulle geleerdheid se rol in landbou sien.

Volgens Zander Botha, die fondsbestuurder, is die fonds gemik op behoeftige studente wie se ouers se plase aangeraak is deur plaasmoorde, stropery en rampe soos droogtes en brande, asook op hulpbehoewende studente wat in natuurbewaring of landbou by enige geakkrediteerde tersiêre instelling wil gaan studeer.

“Ons wil die fonds ook volhoubaar maak deur die begunstigdes so ver te kry om eendag weer in die fonds terug te ploeg, om ʼn volgende behoeftige student te help.”

Botha het Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, aangehaal wat sê: “Elke student wat wil studeer moet kan studeer.”

Corné Liebenberg, Laeveld Agrochem se bemarkingsdirekteur, sê geleerdheid is oneindig belangrik vir boerdery-opleiding. “Vroeër jare het kinders op ʼn plaas groot geword. Die pa het geboer en die seuns het oorgeneem en so is daar vir geslagte lank op dieselfde plaas geboer. Later het die familie alles geweet en boer het instink geword.

“In ʼn stadium het sake in die landbou egter begin rof gaan en die seuns het eerder oorsee gaan studeer en sommer daar agtergebly. Sodoende het daar plaaslik ʼn kennisgat onstaan wat weer gevul moes word.

“Die oplossing is opleiding, om weer selfvertroue te kweek, om meer gemaklik besluite te neem.”

Francois Rossouw, hoof uitvoerende beampte van Saai, sê dat winsgewendheid op ʼn familieplaas die belangrikste is “anders hou die familie op boer en dan val daar ʼn belangrike steunpilaar in die gemeenskap om”.

“Die kinders wat op ʼn bepaalde plaas geboer het, is in die beste posisie, en weet hoe om daardie plaas winsgewend te boer. Hulle verstaan die grond, die klimaat en die mense. Dit gaan daaroor om ʼn nuwe geslag boere na vore te bring, wat weet hoe werk tegnologie, groot data en programmering. Dit is wat ons mededingend gaan hou.

“Daarom dink ek hierdie inisiatief is so krities, om nie net vir die outjie op die plaas te sê, kom gee jouself ʼn mededingende voordeel nie, maar om die skerpste en die beste [akademiese] breine daar buite te kry om vir hom te sê, kies landbou as jou beroep en gee hom dan ʼn kans dit uit te leef.

“Die tyd was dus nog nooit ryper vir ʼn vir ʼn inisiatief soos hierdie [studiefonds] nie.”

Danie Bester, 2020 se TLU Jongboer van die jaar, sê hy praat gereeld met jong manne wat wil boer “en ek kom agter daar is baie keer daardie kwessie van ek wil gaan leer, maar ek het nie toegang nie. Vrae word geopper soos, by wie gaan ek leer en waar gaan ek leer en wat kos dit? Outjies is skaam om hierdie vrae te vra, veral laasgenoemde.”

Bester sê op die plaas is elke dag ʼn leerdag. “Die gemiddelde boer het net 40 seisoene om te boer en as jy nie gaan weet hoe om elke situasie elke dag te hanteer nie, soos die politiek en insetkoste, gaan die volgende een dalk jou laaste wees.

“Ek het vroeër tegnologiese opleiding gehad en kon na skool gaan studeer. So kon ek baie kennis opdoen, maar dit het nie daar gestop nie. In die praktyk is dit die fisieke toepassing van kennis op ʼn boerdery wat ek elke dag toepas.”

Hannes Noëth, uitvoerende direkteur van Helpende Hand, sê die woord boer raak Afrikaners se harte regstreeks. “Al ons Afrikaners het so ʼn bietjie boerdery in ons wese. As ons net dink aan die taal, die Engelse gebruik die woord ‘yard’ en ons gebruik die woord agterplaas.

“Die impak wat boerdery op ons samelewing word deur baie mense onderskat as hulle dink dat voedsel vanselfsprekend is. By Helpende Hand is die stigting van hierdie studiefonds nie so vanselfsprekend nie, dit is ʼn belegging vir die toekoms.

“Om te dink, ná 27 jaar van korrupsie het ons nog nooit ʼn voedseltekort gehad nie. Selfs tydens die onluste in Natal en die droogte in die Karoo het die res van die land oorvloed voedsel gehad wat ons soontoe kon stuur.

“Sekere goed wat ons het, kan ons nog verloor, maar sekere goed [soos voedsel] se waarde is net te hoog om prys te gee.”

Hy sê die “Hier sal ek boer”-fonds is die 208-ste fonds wat Helpende Hand bekendgestel het. “Hierdie is ʼn doelgerigte fonds wat sê ons verstaan landbou en ons verstaan die dramatiese uitwerking van voedseltekorte en die belangrikheid van voedselverskaffing as dit nodig is, op die regte tyd en in die regte formaat.”

Botha het benadruk hoe belangrik dit is om so fonds op te bou. Hy sê die koste van studies is skrikwekkend hoog. “Volgende jaar gaan dit R52 000 kos om vir een jaar landbou aan die Universiteit Stellenbosch te studeer.

“Ons het in 2021 om en by R1,25 miljoen vir studente wat in landbou, natuurbewaring of veeartseny wil studeer, beskikbaar gestel. In 2022 wil ons ongeveer R2,5 miljoen bewillig vir behoeftige studente wat ʼn passie vir landbou en natuurbewaring het.

“Ons wil dus die gemeenskap daar buite oproep om met ons hande te vat en hierdie doelwitte te behaal.”

Daar is drie maniere vir donateurs om tot die fonds by te dra. Dit kan deur ʼn eenmalige skenking, deur maandelikse skenkings en deur testamentêre bemakings gedoen word.

Vir meer inligting oor die veldtog kan die webwerf besoek word, of bel Zander Botha by 083 254 0142.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.