Landbouskrywers-Noord vereer uitblinkers

Agter van links is Jaco du Preez, New Holland-landbou, Kobela Mokgohloa, nuwe toetreder tot kommersiële landbou Gauteng, Martiens du Plessis, landboukundige Noordwes, Natasha Snyman, Chemuniqué (het namens Rick Kleyn sy toekenning ontvang vir landboukundige Gauteng), Robyn Joubert, Chemuniqué/Distinct, Thys Joubert jr., namens ALS Boerdery, boer van die jaar KZN, en Thys van Zyl, Rijk Zwaan.
Voor van links is Danie Bester, boer van die jaar Mpumalanga, Liza Bohlmann, voorsitter Landbouskrywers SA Noord, Shaun Mockford, boer van die jaar Limpopo, Nicolene Smalman, NWK, en Pieter Joubert, landboukundige Mpumalanga.
(Foto: Landbouskrywers SA-Noord)

Die afwagting om te sien wie vanjaar die Landbouskrywers SA se drie topbydraers tot landbou is, bou op met die aanwysing van die noordelike streek se finaliste.

Die kandidate vir Suid-Afrika se boer, landboukundige en nuwe toetreder tot kommersiële landbou is amptelik tydens ʼn toekenningsgeleentheid in Pretoria aangekondig.

“Hierdie toekenning fokus op volhoubaarheid in landbou en die beoordelaars op nasionale vlak sal meer bepaald kyk na aspekte soos biologiese produktiwiteit, risikobestuur, bestuur van natuurlike hulpbronne, ekonomiese stabiliteit en die maatskaplike rol in die gemeenskap.

“Leierskap in die bedryf, bestuursvaardighede en besluite wat verder tot volhoubaarheid bydra, kom ook onder die vergrootglas,” sê Liza Bohlmann, voorsitter van die Noord-streek sowel as die Landbouskrywers SA se nasionale liggaam.

Tydens die nasionale toekenningsgeleentheid sal hulle teen die kandidate van die !Xhariep-streek, wat uit die Wes-, Oos- en Noord-Kaap afkomstig is, te staan kom, wat hierdie naweek aangewys gaan word.

Die nasionale Landbouskrywers SA-toekenningsgeleentheid word vanjaar op 11 November by Nampo Park buite Bothaville aangebied.

 

Landbouskrywers SA het sy uitblinkers tydens ‘n spoggeleentheid in die Summit-Place in Pretoria aangewys. (Foto: Du Preez de Villiers)

Die Noord-streek se kandidate vir die boer van die jaar-toekenning is:

  • ALS Groep Agri-Afdeling in KwaZulu-Natal – benoem deur Charl van Rooyen;
  • Danie Bester in Mpumalanga – benoem deur Magda du Toit en Gerrit Bezuidenhout; en
  • Mockford Farms in Limpopo – benoem deur Magda du Toit.

Die kandidate vir landbouvoorligters/landboukundiges uit die Noord-streek is:

  • Pieter Bruwer in Mpumalanga – benoem deur Charl van Rooyen;
  • Martiens du Plessis in Noordwes – benoem deur Nicolene Smalman; en
  • Rick Kleyn in Gauteng – benoem deur Robyn Joubert.

Die derde afdeling, nuwe toetreder tot kommersiële landbou, het een kandidaat uit die streek opgelewer. Die fokus val op boere wat in die afgelope 10 jaar die sprong van bestaansboer tot kleinskaalse boer, tot ʼn volwaardige kommersiële boer gemaak het en reeds sukses op verskeie vlakke behaal het en steeds vooruit boer.

Die nuwe toetreder is:

  • Kobela Mokgohloa in Gauteng – benoem deur Magda du Toit en Suzanne Oosthuizen.

Die geleentheid se hoofborge was Corteva Agriscience, New Holland‑landbou, NWK en Rijk Zwaan.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.