Landbouskrywers vereer uitblinkers

Dr. Dirk Troskie, landboukundige van die jaar; Sophy Musabeni Litshani, nuwe toetreder tot kommersiële landbou en Dewald te Water, boer van die jaar. (Foto: Verskaf)

Uitnemendheid in landbou word elke jaar deur Landbouskrywers Suid-Afrika (AWSA) gevier met toekennings in drie kategorieë: boer en landboukundige van die jaar, asook ʼn nuwe toetreder tot kommersiële boerdery.

Finaliste uit verskeie provinsies het onlangs in Stellenbosch bymekaargekom om vereer te word vir hul bydraes en om die nasionale wenners aan te wys.

“Met die eerste AWSA-toekenningseremonie in 1977 het die geleentheid ontstaan om boere, die rol van landboudienste en later ook die belangrikheid van nuwe toetreders tot kommersiële boerdery ten toon te stel,” sê Liza Bohlmann, voorsitter van Landbouskrywers SA.

“Ons is trots om steeds die belangrike rol van die landbousektor te erken en erkenning te gee aan uitnemendheid in die bedryf.

“Tydens die seremonie vier ons nie net die prestasies en ambassadeursrol van die wenners nie, maar ook almal in die bedryf wat bydra om landbou in Suid-Afrika as ʼn baken van hoop te beskerm. Ons is dus ook verheug oor die vlak van inskrywings vir ons verskillende ledekompetisies.

“Lede van die landboumedia verbind hulself daagliks om die feite en stories van landbou aan hul gehore oor te dra. Hoe meer mense verstaan hoe wonderlik en belangrik landbou is, hoe beter om steun vir die bedryf te werf,” sê sy.

 

Dr. Dirk Troskie, landboukundige van die Jaar; Bertie Huggett, FNB hoof van landbou; Sophy Musabeni Litshani, nuwe toetreder tot kommersiële landbou; Liza Bohlmann, voorsitter van Landbouskrywers SA; Alan Winde, Wes-Kaapse premier; Dewald te Water, boer van die jaar en Niel Esterhuyse, Santam landbou. (Foto: Verskaf)

 

Omarm waardeketting

Die titel as boer van die jaar is aan Dewald te Water toegeken. Hy is die eienaar van Te Water Boerdery op die plaas Schurvekop naby Bethal en boer met mielies, sojabone, hawer en beeste.

Te Water het vyf jaar gelede die geleentheid gesien om springmielies na ʼn volgende vlak te neem en het 30 “springmieliekanonne” in ʼn aanleg op die plaas opgerig. Die kanonne span hitte en druk in om die springmielies in grootmaat te produseer. Die finale produk word ook onder Te Water se eie handelsmerk verpak, versprei en bemark.

Om nog meer waarde uit mielies te put, produseer hy ook kaaskrulle en ontbytgraan. Die skyfies en ontbytgraan word ook op die plaas verpak, daarvandaan versprei en landwyd bemark.

Te Water is ook ʼn beesboer en ʼn stoere ondersteuner van die Bovelder-ras, waarmee hy vir teel- en kommersiële doeleindes boer.

ʼn Volgende afdeling op sy plaas is die produksie van kuilvoer, hoofsaaklik vir uitvoere na die Midde-Ooste.

“Vir my is landbou gelyk aan genade en dankbaarheid,” sê Te Water. “Ek is baie dankbaar teenoor my familie vir hul begrip vir my passie vir landbou, my hele span en my Hemelse Vader vir oorvloedige genade.”

Holistiese navorser

Dr. Dirk Troskie, ʼn Wes-Kapenaar, is as AWSA se landboukundige van die jaar aangewys. Hy het sy loopbaan as ʼn boer begin, maar het later by die staatsdiens aangesluit. Hy is tans direkteur van sakebeplanning en strategie in die Wes-Kaapse departement van landbou.

Troskie is verantwoordelik daarvoor om raad en inligting oor strategiese kwessies aan die departement en die sektor te verskaf. Sake van strategiese belang word nagevors, ingrypings voorgestel en die impak en uitkoms daarvan geëvalueer.

Troskie stel veral belang in die wisselwerking tussen waardes, kultuur, gehalte, geografie en boerdery, die ontwikkeling van agrariese ekonomieë in ʼn globaliserende wêreld en die aanvaarding van die vierde industriële revolusie in die konteks van plaaslike werklikhede tesame met ʼn responsiewe en verantwoordelike regering.

Op internasionale vlak het hy as die Suider-Afrikaanse verteenwoordiger in die uitvoerende komitee van die Afrikavereniging van landbou-ekonome (AAAE) gedien en is ook deur die Afrika-unie genooi om deel te neem aan die proses om ʼn strategie vir geografiese aanwysers (GI) vir Afrika te ontwikkel, om gebiedsgebonde produkte soos Rooibos en Karoolam se handelsmerkregte te beskerm.

Spinasie skep droom

Sophy Musabeni Litshani uit Gauteng is as AWSA se nuwe toetreder tot kommersiële boerdery aangewys. Sy sê sy wou nog altyd ʼn boer wees en het as klein dogtertjie begin deur spinasie in haar ma se agterplaas te plant. Ná skool het haar lewe egter ʼn ander wending geneem toe sy as ʼn professionele verpleegster gekwalifiseer en ʼn paar jaar vir die Mediclinic-groep gewerk het.

Uiteindelik het sy die beroep verlaat om haar drome te volg en ná drie jaar se gesukkel om genoeg geld te in, het sy uiteindelik 14 ha in Mapleton naby Vosloorus aan die Oos-Rand bekom en haar eerste oes in 2020 afgehaal.

As ʼn spinasiekenner het sy begin om spinasiebeet (Swiss chard) te plant, wat ʼn baie algemene en gewilde blaargroente onder inwoners van die gebied is. Dit is maklik om te verbou en kan ryp verdra, ʼn uitdaging waarmee boere op die Hoëveld te kampe het. Daarna het sy ook ander gewasse soos pampoentjies, groenbone, kool, broccoli en blomkool geplant.

Weldra het sy die eienaar van ʼn maatskappy, Vhegies, geword wat vars groente aan die omliggende gemeenskappe en die Johannesburg- en Springs-markte verskaf. Sy boer ook op ʼn ander stuk grond in die Boksburg-streek en het verder uitgebrei om in Limpopo te boer.

Litshani rig tans ʼn verwerkingseenheid op om haar produkte te verwerk en te verpak om die raklewe te verhoog.

Haar leuse is “ons is wat ons eet en daarom moet ons kweek wat ons eet”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.