Landboutoerusting kry eie onlusversekering

Plaastoerusting is vrygeskeld van die skerp Sasria-verhoging. (Foto: Maroela Media)

Die versekeringspremies teen openbare geweld vir kategorie M8-swaarmotorvoertuie het die hoogte ingeskiet na afloop van verlede jaar se onluste in KwaZulu-Natal en Gauteng. Die Suid-Afrikaanse Spesiale Risikoversekeringsvereniging (Sasria) het nou die omskrywing van dié kategorie gewysig en landboutoerusting in sy eie kategorie geplaas.

Maroela Media het vroeër berig dat die premies op swaar kommersiële voertuie (HCV’s) soos vragmotors, wat teen vergoeding vir kommersiële vragvervoer gebruik word, tot 1 736% verhoog sou word.

Volgens ʼn kennisgewing wat Sasria in September verlede jaar uitgestuur het, val landbouvoertuie soos trekkers, stropers, spuite, planters en swaarvervoervragmotors wat op plase gebruik word, ook in die M8-kategorie.

Tariewe op hierdie voertuie is voorgestel om met 1 736% te verhoog – van R326,78 tot R6 000,98 vir ’n versekerde bedrag van R2 miljoen. Volgens die oorspronklike voorstel deur Sasria, sou die koers van 0,016% tot 0,35% verhoog.

Die landboubedryf het daadwerklik hierop gereageer.

“Graan SA het saam met ander landbou-rolspelers onderhandelinge met Sasria van stapel gestuur om landboutoerusting nie onder dieselfde kam as vragmotors te skeer nie,” sê Corné Louw, Graan SA se hoof van toegepaste ekonomie en lededienste.

“Na suksesvolle samesprekings het Sasria toegestem om landbouwerktuie as spesiale landboutoerusting te klassifiseer, met ʼn premie heelwat laer as dié waaronder vragmotors verseker word. Die nuwe tarief is vasgestel op 0,06%, wat op 1 Augustus vanjaar in werking sal tree.

Hy sê Graan SA is verheug oor Sasria se volgehoue verbintenis om te verseker dat risiko’s korrek geprys word en die herwaardering van die risikokoers vir voertuie in die landbousektor.

“Aangesien landboutoerusting baie min die plaas verlaat, het dit nie sin gemaak om dié tipe toerusting onder die M8-kategorie te plaas nie.”

Sasria het hom verder daartoe verbind om die koers effektiewelik terug te skryf na 1 Februarie vanjaar, op nuwe of hernude polisse vanaf dié datum.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.