Leier-jongboere hou oog op die toekoms

ʼn Jongboerkompetisie is nie ʼn grap nie. Beoordelaars sak soos ʼn klomp ouditeure op jou plaas toe. Hulle snuffel oral en hulle snuffel diep, tot hulle al die bedrywighede op jou plaas verstaan en daarvolgens vir jou ʼn puntetelling gee.

Die vyf finaliste in Vrystaat Landbou (VL) se Jongboer van die Jaar-kompetisie is almal deur hierdie proses, maar hulle besielende lewensuitkyk was een van die redes waarom hulle so suksesvol was. Hulle almal glo dat daar ’n toekoms vir landbou in Suid-Afrika is, mits jy bereid is om hard te werk en die uitdagings te trotseer.

Volgens prof. Pieter Fourie, sameroeper van die beoordelaars en hoof van die departement van landbou by die Sentrale Universiteit vir Tegnologie (SUT) in Bloemfontein, is die finaliste sterk kandidate wat sake sal uitspook om as VL se 25ste Jongboer van die Jaar aangewys te word.

Die finaliste is reeds in Februarie 2020 deur die beoordelaarspaneel op hulle plase besoek. Vanweë die Covid-19-pandemie was VL genoodsaak om die aanwysing van die wenner uit te stel en dus sal die jongboere nou op 13 April om die titel meeding.

Die vyf finaliste het elkeen ʼn baie besielende lewensuitkyk en dit gaan nie maklik vir die beoordelaars wees om ’n wenner te kies nie:

Annalea van Niekerk, ’n beesboer van Reitz, wil ’n verskil in mense se lewe maak en ook hoop vir ander jongmense in die landboubedryf bied.

 

Douglas Osler, ’n appelboer van Fouriesburg, glo wat jy insit, sal jy uitkry.

 

Jimmy Roberts, ’n vee-, saai-en-wildboer van Hertzogville, glo dat jy elke moontlike geleentheid moet raaksien en ten volle aangryp om die meeste daarvan te maak.

Louis de Jager, ’n veeboer van Wepener, meen die rol van jongboere in Suid-Afrika is die ontwikkeling van mense om landbou volhoubaar te maak.

Nant Yzel, ’n saaiboer van Marquard, glo jongboere se belangrikste take is om voedsel te voorsien, werksgeleenthede te skep en welvaart in die platteland te verseker.

Volgens Fourie is van die afdelings waarin deelnemers beoordeel word onder meer toekomsbeeld, begroting en finansies, produksie, bemarking, instandhouding, personeelbestuur en gemeenskapsbetrokkenheid.

Die wenner gaan wegstap met ’n VL-kontantprys, asook ander pryse van verskeie borge en sal vanselfsprekend aan die Toyota Agri SA Nasionale Jongboer van die Jaar-kompetisie deelneem.

Die vorige wenner, Herman Janse van Rensburg van Arlington, moedig jongboere aan om met passie te boer. “As jy jou passie verloor, verloor jy moed. Daarom: Doen wat jy moet en gryp die geleenthede aan wat oor jou pad kom.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.