‘Loop lig vir verdagte vee!’

Sere vorm in hoefdiere se bekke wat bek-en-klouseer opgedoen het. (Foto: Wikimedia commons)

ʼn Ernstige waarskuwing is deur dr. Ivan Meyer, LUR van landou in die Wes-Kaap, aan veekopers gerig te midde van die huidige bek-en-klouseer-uitbreking wat soos ʼn veldbrand deur die land versprei.

“Ná die uitbrekings onder beeste in KwaZulu-Natal, Limpopo, Noordwes, Gauteng en die Vrystaat is daar ʼn hoë risiko dat dié siekte verder kan versprei deur die beweging van beeste en ander gesplete hoefdiere na ander dele van die land,” sê hy.

“Om dié rede waarsku ons boere en kopers om versigtig te wees vir vee van ʼn onbekende oorsprong.

Volgens dr. Vivien Malan, ʼn staatsveearts, is bek-en-klouseer ʼn ernstige, hoogs aansteeklike virussiekte onder beeste, varke, skape en bokke en diere kan die siekte versprei sonder om enige kliniese tekens te toon.

Sy sê die virus kom in alle liggaamsvloeistowwe voor, soos speeksel, urine, ontlasting, melk en die lug wat siek diere uitasem. “Diere doen die siekte op wanneer hulle voer eet wat in kontak was met besmette af- en uitskeidings, of die virus van hierdie liggaamsvloeistowwe inasem. Mense kan ook die virus versprei deur besmette klere, skoene, hande, toerusting en voertuigbande.”

Siek diere kry blase en sere in die bek en op die hoewe, wat dit moeilik vir die diere maak om te vreet en te loop. Aangetaste diere kwyl gewoonlik ook. Gevolglik verloor boere geld omdat siek diere gewig verloor, nie groei nie en minder melk produseer. Jong kalwers kan ook vrek.

Die departement sê boere kan hul vee beskerm deur biosekuriteitsmaatreëls toe te pas. Hier is  goeie beginsels om te volg om die uitbreking van enige siektes te voorkom:

  • Wees bedag oor waar nuwe diere vandaan kom. Moenie diere koop as jy nie hul oorsprong ken nie, of as hulle van ’n plek kom waar hulle kontak gehad het met ander diere van onbekende oorsprong. Koop slegs by eienaars met bekende, gesonde diere, verkieslik van verkopers wat ʼn gesondheidsertifikaat van ʼn veearts kan verskaf.

 

  • Hou nuwe diere vir twee weke apart en monitor hulle vir enige tekens van dié siekte, voordat hulle by die res van die kudde gejaag word. Besmette diere kan tot twee weke neem voordat hulle tekens van bek-en-klouseer toon, so diere wat gesond lyk, is nie noodwendig veilig nie.

 

  • Moenie toelaat dat jou diere in kontak kom met diere wat aan ander eienaars behoort of op buurplase wei nie.

 

  • Moenie onnodige besoekers op jou plaas toelaat nie.

 

  • Ontsmet hande, skoene, klere, voertuie en toerusting wanneer die plaas betree word en wanneer daar tussen groepe diere wat apart gehou word beweeg word.

 

  • Moenie siek diere skuif of verkoop nie.

 

  • Rapporteer enige tekens van die siekte onmiddellik by jou plaaslike staat- of private veearts.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.