Loopbaanskou spesiaal vir landboustudente

Foto ter illustrasie. (Foto: Maroela Media)

ʼn Goeie plek vir landboumaatskappye om gegradueerdes te vind, is by AgriCAREERConnect, wat vanjaar vanaf 19 tot 21 Oktober aangebied word.

Dit is ʼn eiesoortige virtuele landbouloopbaanskou en betrek ses universiteite wat landboufakulteite het. “Dit word aangebied met die doel om jongmense opgewonde oor die landboubedryf te maak, loopbaangeleenthede uit te lig en vir maatskappye die geleentheid te bied om wisselwerking met voor- en nagraadse studente te hê,” sê Marianne van der Laarse, ʼn organiseerder van AgriCAREERConnect en besturende lid van Agrijob.

Sy sê die landboubedryf het voortdurend uitdagings om gekwalifiseerde en ervare jongmense te vind, en tog vind pasgegradueerdes in landbou dit moeilik om ʼn eerste werk of internskap te bekom.

“Gooi nou ʼn pandemie soos Covid-19 in die pot, dan groei die uitdagings teen ʼn onrusbarende tempo. Gelukkig is die landbou- en voedselbedryf bekend vir sy veerkragtigheid, maar die bedryf het nou meer as ooit talentvolle en vaardige jongmense nodig, met vars denke en energie. ʼn Goeie begin is dus om gegradueerdes in diens te neem, deur onder meer internskappe en intreevlakposte.”

Die sentrale tema is loopbane in die hele landbouwaardeketting en daar is drie hoofstrome wat oor die drie dae van die skou gedek sal word:

  • 19 Oktober is die fokus op tuinboukunde/hortologie en agronomie/plantproduksie;
  • 20 Oktober op diereproduksie/veekunde; en
  • 21 Oktober op alle geïntegreerde dissiplines, bv. landbou-ekonomie, finansies, bemarking, handel, uitvoer, logistiek, voedsel en voedselveiligheid, ingenieurswese, bedryfstelsels, IT & databestuur.

Volgens Van der Laarse is maatskappye wel bewus van die tekort aan bepaalde vaardighede wanneer hulle kandidate werf, maar hulle maak steeds daarop staat dat hulle kan terugval op roofwerwing, wat gewoonlik meebring dat individue geteiken word wat by mededingende maatskappye werk.

“Dit kan maatskappye op lang termyn nadelig beïnvloed aangesien salarisse dikwels buitensporig hoog raak, en die werknemer dan ʼn reputasie as ʼn ‘werkspringer’ kry.

“Die sektore wat die ergste hierdeur geraak word, is plantproduksie en tuinbou, en maatskappye is voortdurend op soek na jong agronome en tuinboukundiges. Die oplossing hiervoor is vir maatskappye om hulle eie jong talent te ontwikkel, en die boompies te buig terwyl hulle nog jonk is.

“Dis juis waarom ʼn geleentheid soos AgriCAREERConnect so belangrik is, want dit bring maatskappye, gegradueerdes en studente met mekaar in verbinding.”

Al die maatskappyvideo’s of -voorleggings vir vanjaar se loopbaanskou sal vir minstens ʼn jaar op die AgriTV- digitale kanaal beskikbaar wees, wat baie waardevol vir voornemende studente sal wees.

Bywoning vir studente en lede van die publiek is gratis.

Vir meer inligting, programme en skakels na die onderskeie dae, besoek hulle webwerf.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Chantel ·

Dis wonderlik, ek wens net dat daar mense is wat kinders kan help op skool met Landbouwetenskap, veral as die onderwyser nie heeltyd in die klas nie. Dis ‘n bitter moeilike vak en die chemie vir die Gr 11’s is grieks.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.