Loskop-katoenpluismeule onder nuwe bestuur

katoen

Die katoenbedryf in Suid-Afrika is blakend gesond.

Die bestuur van Vaalharts Katoen, geleë in Hartswater, het amptelik op Vrydag 12 Maart vanjaar die bestuur van die Loskop-pluismeule in Marble Hall oorgeneem. Die pluismeule in Marble Hall sal voorlopig bekend staan as Vaalharts-Loskop Katoen, totdat alle onderhandelinge gefinaliseer is.  So sê Louis Olivier, besturende direkteur van Vaalharts Katoen.

Olivier en die hoof‑ finansiële beampte van Vaalharts-pluismeule, Johan Wolhuter, sal ook hierdie onderskeie rolle by Vaalharts-Loskop Katoen vervul.

“Alle verpligtinge tot en met 12 Maart 2021, wat onder die vorige bestuur beteken is, sal dienooreenkomstig op meriete bestuur word met oop gesprekke tussen die betrokke rolspelers,” sê Olivier. “Die pluismeule sal gewoonweg operasioneel wees sonder ʼn onderbreking in enige van die dienste. Gerugte wat tans die ronde doen dat Loskop-pluismeule hul deure toemaak, is dus ongegrond.”

Vaalharts Katoen en Vaalharts-Loskop Katoen sal as twee onafhanklike maatskappye bestuur word, elk met sy eie direksie.

Olivier sê hy is terdeë bewus van die historiese uitdagings wat hanteer moet word. Hy is egter positief oor die feit dat die Suid-Afrikaanse katoenbedryf kerngesond is en dat hulle met die toepassing van ʼn suksesvolle Vaalhartsbesigheidsmodel weer die pluismeule in Marble Hall tot nuwe hoogtes sal ontwikkel. Die Loskop-pluismeule is in 2018 opgradeer. Hierdie opgradering het sy eie uitdagings gebring, wat saam met Covid-19 die direksie genoop het om die bestuur van die pluismeule weer in oënskou te neem.

Johan Wolhuter, hoof- finansiële beampte; Jannie Terblanche, direksievoorsitter, en Louis Olivier, besturende direkteur, is gereed om Loskop-Vaalharts se nuwe uitdagings die hoof te bied.

“Die direksie is tevrede dat die prosesse om die probleme op te los, in plek is en dat verhoudings weer herstel sal word om die groei van die plaaslike katoenbedryf opnuut te stimuleer,” sê Jannie Terblanche, direksievoorsitter van Vaalharts-Loskop Katoen. Hy sê verder dat hy en die direksie dankbaar is vir die kundigheid wat Vaalharts Katoen toevoeg, en vir hul bereidwilligheid om die Loskop-direkteure by te staan met hul nuwe strategiese bestuursproses. Hy sien uit na die samewerkingsgeleentheid tot voordeel van die groter katoenbedryf.

“Ek glo in ʼn deursigtige bestuurstyl met oop kommunikasie tussen die pluismeule, die produsente en al die rolspelers in die katoenwaardeketting. Ek is oortuig daarvan dat samewerking en vertroue tussen rolspelers die basis is waarop die bedryf sy sukses moet bou.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.