‘Maak 2022 landbou se aksiejaar’

Foto ter illustrasie. (Foto: Maroela Media)

Deur dr. Theo de Jager, direksievoorsitter van Saai en president van die Wêreld-landbou-organisasie

Boere reg oor die wêreld het die ontwrigting van waardekettings, skakeling met markte en veranderende verbruikersvoorkeure as gevolg van die Covid-19-inperkings ervaar. Dit het hulle gedwing om hulle ondernemingstrategieë te hersien en ook in baie gevalle om hul ondernemings te herstruktureer, nie net om te oorleef nie, maar om te floreer.

Boere voel dit aan hul sakke as insetkoste soos die prys van kunsmis en landbouchemikalieë die hoogtes inskiet as gevolg van myne en fabrieke wat gesluit was weens die grootste verkeersknoop in menslike geskiedenis in ons oseane en hawens.

Boere het swaar gekry as gevolg hiervan, aangesien restaurante, kitskoswinkels, skoolvoedingskemas, kiosks en kantiens gesluit was en straatverkopers nie ʼn vinnige peuselhappie aan pendelaars kon verkoop nie.

Mense het nie gedurende die inperking ophou eet nie, maar hul eetgewoontes het verander. Hulle het weer teruggekeer na familiemaaltye, tuisgekookte disse, eie resepte en selfs hul eie groentetuine aangeplant in die weke en maande wat kantore en fabrieke gesluit was. Aan die een kant het dit tot surplusse op plase gelei en duisende tonne aartappels en liters melk wat nie op markte verkoop kon word nie, het opgehoop. Aan die ander kant het miljoene mense, veral in Afrika, Latyns-Amerika en Suidoos-Asië hul werke, lewensbestaan en huishoudelike voedselsekerheid verloor.

Die wêreld se boere produseer steeds genoeg kos om almal te voed, maar die kos is nie waar die honger mense is nie en hulle kan baie keer ook nie bekostig om daarvoor te betaal nie. ʼn Fundamentele oorsig van ons voedselstelsels, voedselproduksie en die impak daarvan op die natuur en biodiversiteit, sowel as van voeding en gesondheid, was die kern van die globale agenda by die VN en sy agentskappe vanjaar. Ons by die Wêreld-landbou-organisasie het gesorg dat die boer se stem by elkeen van hierdie debatte gehoor is.

In 2021 het ons dit reggekry om die boodskap aan beleidmakers en verbruikers oor te dra dat boere nie die probleem is nie, maar dat ons in werklikheid die enigste oplossing is wat hulle het. Daarom verdien ons ʼn plek aan die tafel.

In 2022 moet ons inhoud gee aan daardie stem en die oplossings wat ons voorgestel het, implementeer.

Ek wil elke boer in Suid-Afrika en in die wêreld uitdaag om 2022 ʼn jaar van aksie te maak. Ek wil jou uitdaag om ʼn verbintenis aan te gaan teenoor jou plaas en jou familie. Indien elke boer hom of haar daarop kan toespits om sy of haar klein deeltjie van hierdie planeet aan die volgende geslag, in ʼn beter toestand oor te dra as waarin hy dit gekry het, los ons 90% van ons probleme met betrekking tot biodiversiteit, bewaring, besoedeling, gronddegradasie en klimaat op.

Elke boer weet presies wat hy of sy beter kan doen – kom ons doen dit!

Dit alles begin by grondgesondheid.

En dit is in jou hande! Mag dit vandaar na julle harte klim! Mag 2022 vir jou al die hoogtepunte van jou boerderyloopbaan bring. Mag jy ʼn geseënde Kersfees vol liefde en omgee ervaar!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.