Massey Ferguson verfris logo ná 63 jaar

Massey Ferguson se nuutste MF08. (Foto: Masseyferguson.com)

Massey Ferguson vier volgende jaar sy 175ste verjaardag en in die gees van die feestelikheid wat voorlê, het die maatskappy sy bekende “drievoud-driehoek”-handelsmerk ʼn nuwe voorkoms gegee. Daarmee saam het dié trekker-en-werktuigbouer, wat deel is van die AGCO-groep, sy slagspreuk na “Born to Farm” verander om die handelsmerk se identiteit verder te verfris.

“Massey Ferguson se drie driehoeke, wat sedert 1958 ons identiteit verpersoonlik, oorvleuel om die wedersydse verhouding en vertroue tussen boere, handelaars en die handelsmerk oor baie jare voor te stel,” sê Francesco Murro, Massey Ferguson se visepresident vir wêreldwye bemarking, verkoopsbemagtiging en vennootskappe.

Massey Ferguson se vorige logo: (Foto: cleanpng.com)

“Die nuwe logo stel die integrasie van ons sterk erfenis en nuwerwetse waardes voor en 2022 sal die jaar van Massey Ferguson se nuwe wêreldwye handelsmerk wees.”

Massey Ferguson se nuwe logo. (Foto: Verskaf)

Murro sê hulle het reeds sedert die MF Next-konsep by die Agritechnica 2019-skou in Hamburg, Duitsland, onthul is aan ʼn nuwe logo gewerk.

“Verder het die MF Nuwe Era in Julie 2020, met die MF 8S-trekkerreeks se bekendstelling, begin lewe kry. Dit is gevolg deur die bekendstelling van ʼn volledige reeks produkte oor die afgelope 18 maande, wat met ons “Born to Farm”- digitale geleentheid in September 2021 gepaard gegaan het.”

Murro sê November is ʼn ikoniese maand vir die bekendstelling van die nuwe handelsmerk en vind presies 63 jaar ná die skepping van die oorspronklike handelsmerk plaas. “Terwyl ons die 175ste herdenking van Daniel Massey se eerste plaastoerustingwerksessie in 2022 vier, het ons gevoel dit was die regte tyd om ons logo te verfris en terselfdertyd ʼn betekenisvolle slagspreuk in gebruik te neem.”

Die “Born to Farm”-slagspreuk vorm nou deel van Massey Ferguson se kommunikasie. (Foto: Verskaf)

Massey Ferguson sê die nuwe logo sal geleidelik wêreldwyd in sy fasiliteite, fabrieke en kantore aangebring word en verskyn reeds op sy digitale kanale. Dit sal ook op al sy bemarkingsmateriaal bygewerk word.

Volgende jaar sal dit op Massey Ferguson se handelaarsnetwerknaamborde begin verskyn.

“Deur eendragtig as die Massey Ferguson-wêreldspan saam te werk, is die doel om boerdery oor die hele wêreld makliker, meer winsgewend en meer volhoubaar te maak. Die nuwe logo sal gebruik word om boere meer as ooit te nooi om deel te word van die “Born to Farm”- Massey Ferguson-familie,” sê Murro.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.