Merweville skep asem na voerskenking

Merweville se boere kon elkeen ‘n paar ton voer vanaf ‘n sentrale aflaaipunt terugneem plaas toe om die droogte vir nog ‘n wyle te trotseer. (Foto: Verskaf)

Die landbouvereniging op Merweville kon ʼn groot sug van verligting slaak toe Agri Wes-Kaap vir 55 van hulle lede ʼn droogtehulp-voerskenking afgelaai het.

Die organisasie het ʼn droogtehulp-inisiatief op die been gebring om boere in droogtegeteisterde streke te ondersteun. Verskeie landbouverenigings in die Wes-Kaap het reeds tot dié inisiatief bygedra en talle vragte sal die komende maand na verskillende dele van die Sentraal-Karoo vervoer word.

Merweville is in ʼn afgeleë gebied in die Sentraal-Karoo en die gemeenskap gaan al vir ʼn hele aantal jare onder ʼn siedende droogte gebuk. Hierdie voerskenking gaan noemenswaardige verligting aan dié boere bring en bestaan uit voergars, rog en garsbale.

Hierdie bepaalde skenking is deur die landbouverenigings van Heidelberg en Napier, wat ook lede van Agri Wes-Kaap is, gemaak.

Voer is op bakkies, trokke en sleepwaens gelaai wat geduldig hulle beurt afgewag het. (Foto: Verskaf)

Jannie Strydom, hoof uitvoerende beampte van Agri Wes-Kaap, sê dit is hartseer om te sien hoe die veld in dié gebied lyk, maar merkwaardig om te sien hoe boere hulp aan medeboere verleen.“Ons is so dankbaar vir elke skenking, en wil graag dankie sê aan elke boer, landbouvereniging en privaat skenkers wat hierdie inisiatief moontlik maak,” sê hy.

Charles Muller, een van die begunstigde boere het op sosiale media gesê dat hy baie dankbaar is en bevoorreg voel vir wat Agri Wes-Kaap vir hulle doen. “Geen boer in Suid-Afrika kan werklik voortbestaan sonder georganiseerde landbou nie.

Agri Wes-Kaap wil ‘n verskil in die Sentraal-Karoo maak met hulle droogtehulp-inisiatief. (Foto: Verskaf)

“Ons instansie dien ons op alle gebiede en selfs in die droogte staan hulle ons so ver as moontlik by. Baie dankie aan Agri Wes-Kaap, Jannie en die mense in die kantoor. Ek dink julle is almal wonderlik en werk baie hard en almal van julle het boereharte.”

Agri Wes-Kaap is ʼn federale vrywillige lede-organisasie wat kommersiële boere in die Wes-Kaap verteenwoordig. Skenkings soos ruvoer en voerpille, mielies en voergars, voedselkoepons of skenkings in die vorm van vervoer of diesel word verwelkom. Skakel Agri Wes-Kaap by 021 860 3802.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Hasie ·

Veen help ook mense met voer probleme Kyk You tube . Dit is mense wat goeie werk verrig met min finansieële skenkings . What up groep Voedings bystand .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.