‘Moenie landboumeesterplan afteken’ – TLU SA

Transformasie het tot dusver ‘n baie negatiewe uitwerking op landbou gehad. (Foto: JamesDeMers, Pixabay)

TLU SA waarsku dit sal ʼn groot fout wees indien die landboumeesterplan (AAMP) vandag tydens die landboubegrotingsdebat deur Thoko Didiza, minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling (DALRRD), afgeteken word. Dit is omdat die plan swaar steun op transformasie van die landbousektor.

Die begrotingsdebat word in Kaapstad gehou en DALRRD beplan om ná die tyd fees te vier in die lig van die aftekening van die AAMP, ná jare se werk wat daaraan afgestaan is.

Daar sal egter nie deur alle rolspelers in die landbou fees gevier word nie.

“TLU SA is ontnugter oor die hele proses wat rondom die AAMP se ontwikkelingsproses plaasgevind het. Daar is bepaalde ondernemings gegee ten opsigte van insette wat verreken en in ag geneem sou word. Om dié rede het TLU SA reeds op 21 Mei 2021 sterk standpunt ingeneem in ’n skrywe bestaande uit tien bladsye wat ingestuur is vir hantering. Daar was ondernemings gegee dat dit hanteer sou word, maar dit het nooit gebeur nie,” sê Bennie van Zyl, TLU SA se hoofbestuurder.

“Hier is ons nou aan die einde van die proses en nou word daar vir ons gesê as daar enige verdere probleme is, moet ons dit maar met die minister opneem, want hulle is nou klaar met die proses. Dit terwyl ons die gevaar van transformasie uitgewys het. Daar is ʼn paar aspekte in die plan waarmee ons kan saamstem, maar die plan is onderhewig aan transformasie en dít is ’n baie groot en duidelike rooi lig vir landbou se pad vorentoe.”

Van Zyl sê landbou is ’n ekonomiese proses en aan die einde van die dag moet die beginsel van ekonomiese markkrag die bepalende faktor vir volhoubaarheid wees. “Die prys van transformasie is rommelstatus en daarom is TLU SA uiters teleurgesteld dat daar enigsins iemand is wat bereid is om die regering se meesterplan vir landbou – die AAMP – af te teken.”

Hy sê die resultaat van transformasie is duidelik sigbaar regoor alle fasette van Suid-Afrika. “Die ANC se beleid omvat van die begin af reeds aspekte soos kaderontplooiing, SEB en daarmee saam al die korrupsie wat ons sien. Tans sit ons met ’n wankelende ekonomie wat nie funksioneer nie. Daar is nie meer gehalte opleiding in skole nie, die gesondheidsdienste laat ons in die steek en dan praat ons nog nie eens van die veiligheidsdienste of die ineenstorting van ons land se infrastruktuur nie. Plundering en sabotasie vier hoogty.”

Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA, waarsku dat die landboumeesterplan op ‘n swak fondament gebou is. (Foto: Maroela Media)

Volgens Van Zyl heers daar groot kommer dat die rolspelers wat die plan nou afteken, nie noodwendig primêre boere is nie.

“Ons is oortuig as ons as organisasie die AAMP afteken, versaak ons elke kommersiële boer in die land – swart én wit – want ons plaas hulle onder druk met die verkeerde soort beleidsontwikkeling, wat noodwendig hieruit gaan voortspruit. Die ANC maak alles ideologies in plaas van ekonomies en hiermee het ons ’n baie groot probleem.

“TLU SA stel dit onomwonde dat die dokument nie afgeteken mag word nie. Ons was bereid om saam te werk om seker te maak ons kom uit by ’n ekonomiesgedrewe landbouplan in belang van al die rolspelers, maar ongelukkig lyk dit asof die ANC en van die ander rolspelers anders gekies het.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Waarnemer ·

Dit help net mooi niks om te se “moenie afteken nie”….as die kaders alreeds besluit het om dit af te teken.

Andries ·

ek is bevrees hylle koppe gaan nie draai nie alvorens hulle ‘n slag ordentlik honger gely het soos in Etihopië of Midde Afrika nie – mag die VADER ‘n ander uitweg bestier.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.