Moringa: Die plant wat ander plante voed

Moringablare. (Foto: Hester Kinnear en Philip Fick)

Moringa is al geruime tyd ʼn huishoudelike naam onder gesondheidsbewustes en voorstanders van alternatiewe gesondheid. Hierdie “wonderplant” wat in tee of poeiervorm verbruik word, word deur sommiges gereken as die gewas met die hoogste konsentrasie voordelige voedingselemente en dus die gesondste plant aan die mens bekend.

Die plant het ook ʼn vastrapplek in gewasverbouing gekry en daar is ʼn boer en ʼn onderneming, Monutrix, in die verre noorde van die land wat moringasap vervaardig as organiese voeding vir bome, groente en gesaaides.

Hoewel 11 van die 13 spesies in Afrika voorkom, is dit een van die Indiese spesies, Moringa oleifera, wat die wêreld gaande het.

 Help boere om meer te verdien

 Sam Worthingzen en Gerhard Cronjé van die onderneming, Monutrix het oorspronklik die waarde van moringa besef en dit as organiese voeding vir bome en groente begin ontgin. “Deur die voordelige eienskappe van moringa vir immuniteit, gesondheid en groei, wat oorspronklik vir mense en diere bedoel is, te verstaan ​​en te ontsluit, het ons die waarde daarvan vir plante ontdek,” sê Worthingzen.

“Ons gebruik dus ʼn plantaardige inset om nuttige produkte te skep wat probleme oplos en ‘n beter en volhoubare oplossing vir voedselproduksie, -gehalte en -opbrengste lewer.”

Cronjé en Worthingzen boer in die ou Venda-tuisland in die Levubu-vallei, ʼn paar kilometer van die Limpoporivier. Hierdie streek is heeljaar warm, wat ideaal vir moringaboerdery is. Hulle het reeds meer as vyf miljoen bome aangeplant.

“Moringa word soos tee op ʼn hoëdigtheidskaal aangeplant. Ons hou die boompies laag en ‘struikagtig’ en laat dit eerder horisontaal sprei om so veel as moontlik blare aan sonlig bloot te stel,” sê Cronjé.

45 tot 52 dae nadat die saadjies geplant is, het die jong boompies hulle hoogste proteïen- en voedingswaarde. Dan word die eerste blare geoes. Daarna word die blare regdeur die jaar, elke ses weke, geoes.

Die plant bevat ʼn hoë konsentrasie sitokinien, wat selverdeling aanmoedig en groei dus baie vinnig. Saam met dié voordelige hormoon is daar ook 19 aminosure wat tydens die produksieproses onttrek word.

“ʼn Paar jaar gelede het ons die produk ingevolge die Landbouwet, no. 36, geregistreer en daarmee saam baie navorsing en proewe gedoen. Ons het 15 gewasse met die moringasap gevoed en die resultate was uitstekend. Dit sluit blaarslaai, soetpatats, mielies, murgpampoentjies, pampoene, ertjies, makadamia, boontjies, appelkose, tamaties, okra, lemoene en suurlemoene in,” sê Cronjé.

“Op aartappels spesifiek het ons ʼn 30% opbrengsverhoging gekry en op avokado’s oor die 65%.

“Ons is ook besig met koringproewe in Groblersdal en Villiers,” sê hy.

Dit kos ongeveer R100 000 om een hektaar onder moringabome te vestig, wat die aanlê van besproeiing en saad insluit. Dan moet die bome elke tien jaar vervang word.

“Soos tee is moringa arbeidsintensief, jy het vier mense per hektaar nodig terwyl die gemiddeld in landbou 1,5 mense per ha is,” sê Cronjé.

“Met ons moringa streef ons daarna om ʼn produk aan boere te lewer wat werklik waarde toevoeg en ‘n groot rol in volhoubare landbou speel, aangesien dit ook tot voedselsekerheid vir ‘n groeiende bevolking bydra,” sê Worthingzen.

“Ons het drie jaar lank ons prosesse gekalibreer en vervolmaak om die voedingseienskappe van moringa te maksimeer, om iets te lewer wat nie in enige ander plant in die wêreld voorkom nie, en ook nie deur kunsmatige plaasvervangers vermag kan word nie.”

Monutrix versprei hul produk, Mobiostim plaaslik deur Laeveld Agrochem en voer dit ook uit na Holland en Duitsland, waar dit op aarbeie, kanola en aartappels toegedien word. In Holland gebruik hulle dit selfs op tulpe en ander blomgewasse.

Monutrix se produk se naam is Mobiostim, wat uit moringablare vervaardig word. (Foto: Gerhard Cronjé)

Ons is tans aan die begin van ons reis, en ons eerste produk, Mobiostim, is gefokus om voedingstowwe by die bron (die plaas) te verbeter. Ons reis het begin deur diegene te ondersteun wat ons almal voed – die boere,” sê Worthingzen.

 

Eksperimenteer is die beste geweer

 

ʼn Ander boer wat baie beïndruk met moringa as ʼn bron van plantvoeding is, is Philip Fick, wat buite Alldays met aartappels en droë suikerbone boer.

Hy het twee jaar gelede begin om dit aan te plant, uitsluitlik vir eie gebruik.

“Aanvanklik het ek dit onder spilpunte op ʼn oop land geplant omdat ek dit so natuurlik en organies as moontlik wou doen, maar die peste en plae het my daarvan laat afsien. Ek het toe nuwe aanplantings onder skadunet gedoen en drupbesproeiing aangelê,” sê hy.

“Aanvanklik het ek klein plantjies gekoop, maar die sommetjies het nie geklop nie. Derhalwe het ek die saad geplant wat baie goed werk.

“Weens die beheerde klimaat onder die nette presteer my moringa baie goed. In die somer oes ons elke vier weke en in die herfs en lente in ses weke intervalle. In die winter is hulle dormant.

“Daar word gesê dat moringa nie bykomende voeding nodig het nie, maar ek glo jy kan nie net onbepaald uit die grond haal nie, jy moet iets terugsit. Met die bemesting was dit maar ʼn probeer-en-fouteer besigheid, maar tans bemes ek my bome met 99% organiese kompos en bietjie opgeloste kunsmis.

Geoeste moringablare. (Foto: Hester Kinnear en Philip Fick)

“Moringa is droogtebestand en volgens die boeke aard dit in streke met ʼn gemiddelde reënval van 250 mm per jaar. Maar met daardie tipe water oorleef jou plant net en kan nie voldoende vir kommersiële doeleindes presteer nie. Ek besproei dus elke tweede dag, twee keer per dag vir ʼn halfuur sodat dit effektief 700 mm per jaar ontvang.

Prakties beteken dit dat hy deur elke sproeikop wat 30 cm uitmekaar is, twee liter water per dag toedien.

Moringa verkies ook goedgedreineerde grond.

Fick gebruik ʼn meganiese pers om die sap uit die blare te onttrek en kan ongeveer 1 500 liter per dag produseer as hy vyf tot ses mense in die lande en ses mense by die pers het.

Tans produseer hy net vir homself en doen ook heelwat proewe.

“Vir toediening word die sap in ʼn een tot tien verhouding met water gemeng anders brand dit die plant, maar ek doen nog toetse om te sien wat die verskillende reaksies op die verskillende stadiums van die plant is.

“Ek het al ʼn 20%-oplossing voor plant en nog 20% op my aartappels se blare gespuit. Minimale blaarbrand het voorgekom, maar die voordele het swaarder as die brandskade geweeg. Ek ondersoek ook die invloed van preserveermiddels, wat ook ʼn verskil maak.”

Die eerste toediening word teen 20 liter per hektaar, saam met die saad in die grond gesit. Daarna gebruik hy ʼn hoogloopspuit om dit nog drie keer per seisoen, teen 15 liter per hektaar as ʼn biostimulant vir blaarvoeding toe te dien. Daarmee saam meng hy voedingstowwe en gifstowwe om plantpatogene dood te maak.

“Ons het baie goeie resultate op die eerste boontjie-oes gekry en 900 kg per hektaar meer as normaal afgehaal. Dit was ʼn verhoging van 34%.

Die resultate van Philip Fick se moringasap op sy suikerbone. (Foto: Hester Kinnear en Philip Fick)

“Ons is nou besig met die eerste aartappeloes. Dit wat ons kan sien lyk reeds baie belowend en ek verwag om iets soortgelyk as die boontjies te sien, maar ek sal binnekort kan bevestig.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

OW ·

Baie interessante artikel en voorwaar ‘n belangrike produk vir die voeding van landbou gewasse vir die toekoms.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.