Mpumalanga Landbou bekommerd oor ‘Kill the boer’

‘n Byeenkoms in Pretoria teen plaasmoorde. (Foto: Verskaf / European Press Agency)

Mpumalanga Landbou (ML) voel dat die hofuitspraak wat die EFF sedert twee weke gelede magtig om die “Kill the boer”-lied te sing, deur sommige as ʼn groen lig beskou kan word om sentimente oor “doodmaak” en “verbrand” uit te spreek.

Robert Davel, uitvoerende hoof van ML, sê hoewel hy die uitspraak van ʼn hof in ʼn grondwetlike staat, asook die appèl van AfriForum respekteer, is dit belangrik om te vra of hierdie soort retoriek ʼn politieke teater is wat Suid-Afrika kan bekostig.

“Ek wonder of enige ander beroepsgroep die twyfelagtige eer gehad het om die tema van ʼn politieke lied te word, of daardeur geteiken te word,” sê hy.

“Terence Corrigan van die Instituut vir Rasseverhoudinge het in 2018 geskryf oor die ‘brutale boerstereotipe’. Dit bied die idee van ʼn ‘boer’ of ʼn ‘Boer’ nie as ʼn medeburger wat besig is met ʼn sekere soort werk nie, maar as ʼn simbool van ʼn maatskaplike probleem.

“Corrigan het verder geskryf dat die konsep van die ‘boer’ ontplooi is as ʼn aanduiding van verdorwenheid en ʼn uitdrukking van mishandeling op die Suid-Afrikaanse platteland.

“Dit impliseer dat boere nie ʼn ware en integrale deel van ons land en ons gemeenskap is nie. Inderdaad, so ʼn retoriek dui daarop dat die bedreigings wat boerderygemeenskappe in die gesig staar ook verstaanbaar is, indien nie regverdigbaar nie.”

Volgens Davel is boere baie kwesbaar vir misdaad, dikwels buite bereik van vinnige hulp en het elke gemeenskap ʼn persoonlike ervaring van misdaad. “Ek sou sê, elke boer kan hiervan getuig en weet of weet altyd van iemand wat vermoor is.”

Werklike bedreiging

Agri SA het in 2017 ʼn studie van misdaadtendense van stapel gestuur om die koste en frekwensie van plaasmisdaad vas te stel. Oor die hele land het ongeveer 70% van plase onder die een of ander vorm van misdaad, soos diefstal, vandalisme of geweldsmisdaad deurgeloop. In Mpumalanga, was dit meer as 78%. Die algehele koste van misdaad beloop meer as R7,7 miljard.

Davel sê slegs ʼn kwart van dié getal boere het die moeite gedoen om elke misdaad wat hulle beleef het aan te meld, want baie voel dat dit ʼn mors van tyd is.

In ʼn verslag wat vroeër vanjaar deur AfriForum opgestel is, word daar aangedui dat die getal mense wat tussen 2016 en 2021 op plase en kleinhoewes vermoor is, wat boere, plaaswerkers, inwoners en besoekers insluit, op 364 te staan gekom het. (Dit verwys slegs na werklike moorde, nie na die hoër getal plaas-“aanvalle” nie.) Na gelang van die jaar, het tussen 8% en 22% van moorde met marteling gepaard gegaan.

“Of dit metafories bedoel is of nie, dit ondermyn die samehangende en verenigde toekoms waarna die oorweldigende meerderheid van Suid-Afrikaners streef.”

Die rasaspek

Davel beweer plaasaanvalle is nie ʼn “rasding” nie. “Die bedreiging van lewe en eiendom wat elke boerdery in die gesig staar, is net soveel ʼn gevaar vir swart as vir wit boere. Enigiemand wat dit betwis, het nie aandag gegee nie.”

Hy sê Dan Kriek, voormalige hoof van Agri SA, het eenkeer gesê: “Die hele narratief, die feit dat swart boere en plaaswerkers aangeval en vermoor word, verdwaal in die hele gesprek oor ras. Gegewe ons land se geskiedenis – hoe kan ons die samelewing oortuig dat dit ʼn probleem is wat ons almal die hoof moet bied?”

Maroela Media het by Ernst Roets, AfriForum se hoof van beleid en aksie, gaan hoor hoe hy die saak sien.

Hy sê plaasaanvalle is ʼn ingewikkelde verskynsel. “Mens moenie die kwessie tot eenvoudige gevolgtrekkings reduseer, soos dat ras nooit ʼn rol speel, of dat ras altyd ʼn rol speel nie.

“Daar is dikwels voorvalle waar daar nie bewyse is dat ras ʼn rol speel nie en aan die ander kant is daar wel voorvalle met bewyse dat dit ʼn rol speel.”

Hy sê ʼn belangrike punt om te onthou, is dat feitlik alle plaasaanvallers swart mans is, wat dus buite verhouding is, in ag genome dat statistieke wêreldwyd bewys dat die meeste moorde tussen mense van dieselfde ras plaasvind.

Hy voeg by dat ons op die toekoms moet fokus. “Ná 28 jaar, sedert 1994, waar versoening en bemiddeling bewerkstellig is, kan ons nie meer die verlede die skuld gee vir sulke gruweldade nie. Dit is tyd om aan te beweeg.”

In goeder trou

Davel sê dit is vir hom geen raaisel dat die landbou goeie verhoudings oor die verskillende belangegroepe heen nodig het nie. “Soos vir georganiseerde landbou én individuele boere is dit ʼn prioriteit vir ons.

“Geen ander bedryf is, soos landbou, verplig om verantwoordelikheid vir sy werknemers te neem nie, wat ons grootliks doen.

“Natuurlik is daar onvermydelike konflikte – soos wat in enige bedryf bestaan ​​– maar dit moet op die meriete van individuele gevalle hanteer word.”

Hy keur ook nie swak gedrag van boere goed nie en sê dat ML baie beslis is oor etiese optrede.

“Waar foute gemaak word, is ML se deur altyd oop om aandag daaraan te gee. Maar dit word ʼn groot frustrasie wanneer ons voor ongegronde bewerings te staan ​​kom wat as feite aangebied word, of vae aansprake sonder besonderhede gemaak word.

“Sulke gevalle is onmoontlik om te ondersoek, of wanneer verwikkelde eise en teeneise verminder word tot afgesaagde slagspreuke en uitdrukkings.

“Laat daar geen twyfel wees dat ons as boere hier is om te bly nie, om ons vaardighede en energie na Afrika en ons gemeenskappe oor te dra. Dit is ons aanbod, ʼn praktiese een, en dit is ʼn baie beter een as verdelende politieke retoriek,” sê Davel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Treurwilger ·

Robert Davel gebruik die uitsonderings op die reël om in ontkenning voort te ploeter.
Selfs Ernst Roets sê “feitlik” alle plaasaanvallers is swart.
Noem asseblief voorbeelde waar hulle nié swart is nie.
Totdat hierdie moorddadige aanslag op plase nie reguit genoem word wat dit is nie, sal dit voortduur.
“Bekommerd wees” is nie genoeg nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.