Nampo bied iets vir elkeen, en nog wat

Elke uitstaller op Nampo het iets nuuts of interessants gehad om te wys, of te sê. Maroela Media kon nie sy nuuskierigheid beteuel nie en moes net so veel as moontlik stalletjies besoek. Kyk ook hier en hier na ʼn verskeidenheid van die produkte en dienste wat ten toon gestel is:

Vrystaat Landbou het ʼn veldtog by sy stalletjie van stapel gestuur waar besoekers ʼn 25 kg sak teer vir R100 kon koop waarmee ʼn boer ʼn slaggat kan vul. Jack Armour, sakebestuurder, en Rudo Opperman, voorsitter van die jongboerkomitee, wil graag baie van dié swaar sakke op die plekke uitkry waar dit dringend benodig word.

Jack Armour en Rudo Opperman van Vrystaat Landbou (Foto: Du Preez de Villiers)

 

Karel Munnik, besturende direkteur van Lemken Suid-Afrika, sê die nuwe Karat 12 is ʼn groot verbetering op die Karat 9, omdat hy minder brandstof gebruik, meer doeltreffend is en meer materiaal kan werk, en steeds ʼn saadbed kan skep wat jou uitnooi om in te plant.

“Die Karat 9 het drie balke waarop die tande geplaas is met ʼn tandspasiëring van tussen 27 cm en 29 cm op ʼn simmetriese uitleg.

“Daarteenoor het die Karat 12 ook ʼn simmetriese uitleg, maar die tande is op vier balke geplaas, met ʼn tandspasiëring van 23 cm, so jou materiaalvloei is beter en hy trek ligter as gevolg van die getal tande.”

Karel Munnik van Lemken (Foto: Du Preez de Villiers)

 

Boere soek toenemend alternatiewe vir chemiese onkruidbeheer en Frank Niels, verkoopsbestuurder van Perfect in Nederland, het die antwoord vir boord- en wingerdboere.

Perfect se werktuie word deur Smith Power Equipment in Suid-Afrika versprei en hierdie RF-swaaiarmsnyer het vanjaar die eerste keer sy verskyning op Nampo gemaak.

“Hierdie werktuig beweeg outomaties rondom en tussen die bome en wingerdstokke en in een of twee veë kan jy ʼn hele ry skoonmaak,” sê hy.

Frank Niels van Perfect by Smith Power Equipment. (Foto: Du Preez de Villiers)

 

Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA, sê hoewel ons almal ongemaklik is oor die regering se Covid-19-regulasies wat op Nampo van toepassing is, moet ons nie onsself keelaf sny deur dit teen te gaan nie.

“Ek dink daar was onnodige bomme wat gebars het in die aanloop tot Nampo en dit is baie hartseer dat sosiale netwerke mense se gedagtegange en diskoerse so beïnvloed. Ons moet konteks en perspektief behou.

“Ek praat met ʼn boer wat uitvoer en wat sterk te velde getrek het omdat Nampo nie sy rug styf gemaak het teen die regering se regulasies nie. Ek vra hom toe, het jy die laaste keer toe jy produkte uitgevoer het, die fitosanitêre maatreëls, wat deurspek is van Covid-19 regulasies, geïgnoreer? Hy sê toe nee, hy kan dit nie doen nie. Is dit nie dubbele standaarde nie?

“Ek wonder nou of al die mense wat druk op Nampo geplaas het om die regulasies te geïgnoreer, teen die polisie sou opstaan as hulle opgedaag het om Nampo te sluit?

Daneel Rossouw, funksionele hoof van Nedbank se landbou-afdeling, is druk in gesprek met Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA, by laasgenoemde se stalletjie.

Daneel Rossouw van Nedbank en Bennie van Zyl van TLU SA (Foto: Du Preez de Villiers)

 

Ernstige jagters vervang nou hul infrarooi nagsigteleskope met termiese weergawes, wat tegnologies meer gevorder is.

“Dié Pulsar Thermion 2 RF kan ʼn voorwerp op 1 800 m optel en dit op 900 m identifiseer, terwyl die infrarooi lig op hierdie Digex C50 tot op 200 m doeltreffend is. Met ʼn bykomende namark-lig kan hy tot op 500 m sy werk doen,” sê Emile Kriek groothandelbestuurder van Ultranexus, wat onder meer Pulsar-produkte aan Hunters Warehouse verskaf.

Hy sê so ʼn termiese teleskoop is met ʼn uiters sensitiewe, millikelvin sensor toegerus wat temperature tot so laag as -25 kelvin kan registreer.

Kriek en Michael Beckley, eienaar van Hunter Warehouse, wys hoe lyk hul produkte.

Emile Kriek van UltraNexus en Michael Beckley van Hunters Warehouse (Foto: Du Preez de Villiers)

 

Kynoch se span het ʼn reeks kunsmisprodukte vir tuinmakers bekendgestel.

Karen Tietz, bemarkingsbestuurder, sê met Kyno Veg in hierdie een klein pakkie kan jy jou hele groentetuin onderhou en het jy niks meer nodig nie.

Jannie van Aswegen, ʼn agent in die Standerton-gebied, sê Kyno Shrub Flower & Fruit bevat al die nodige elemente soos natrium, fosfor en kalium, asook genoeg mikro-elemente om jou struike, blomme en vrugtebome optimaal te laat groei.

Renier Bothma, landboukundige van die Wes Vrystaat, sê Turbograss is ʼn grastopbemesting wat verskil van die res in dié sin dat dit fosfate en kalium, asook klein bietjie sink en mikro-elemente bevat. Die inhoud bevat geen vulstowwe nie en is suiwer plantvoeding.

Ian Bell, verkoopsverteenwoordiger in die Oos-Kaap, sê Kyno Garden is ʼn gebalanseerde 2:3:2 met ʼn  Kynoplus-bymiddel om die produk stadig vry te stel. Dit kan oral in die tuin gebruik word en bevat genoeg spoorelemente.

Die Kynoch-span by Nampo (Foto: Du Preez de Villiers)

 

Hinterland het sy verskaffers genooi om saam met hom uit te stal.

Cobus van Aswegen is ʼn verkoopsverteenwoordiger van Nduna-produkte. “Ons maatskappy se naam is Stitch Wise, wat oorspronklik veiligheidsklere vir die myne vervaardig het. Nou het ons gediversifiseer om ook geweersakke onder die Nduna-naam te vervaardig.

Lenel Janse van Rensburg is die assistent-takbestuurder by Hinterland Vryburg. Sy wys hoe lyk die bakkiehakkie, ʼn eiesoortige Suid-Afrikaanse patent wat uitstekend werk vir ʼn boer wat nie lus het om op sy langbak-bakkie te klim om daardie item wat buite bereik is te gaan haal nie. Bakkiehakkies word in lengtes van 1 320 mm en 720 mm vervaardig.

Lenel Janse van Rensburg van Hinterland en Cobus van Aswegen van Nduna (Foto: Du Preez de Villiers)

 

Sewe mense kan in die kajuit van hierdie dubbelkajuit EX6 Hyundai-trokkie sit, terwyl 3,5 ton agterop gelaai kan word. SD du Toit, nasionale kommersiële vlootbestuurder van Hyundai, sê dat die nuwe regulasies vereis dat plaaswerkers nie meer agterop mag sit nie, terwyl dit beteken dat jy meer vrag agterop kan laai.

Die EX6 is aan die begin van die jaar bekendgestel en het ʼn 4 ℓ viersilinderenjin wat aan Euro 3-standaarde voldoen. Die brandstoftenk het ʼn inhoudsmaat van 100 ℓ en as jy mooi ry kry jy 6 km/ℓ. Saam met die trokkie bied Hyundai ook ʼn vier jaar onbeperkte kilometer- waarborg

Die Hyundai-Nampo-span (Foto: Du Preez de Villiers)

 

In hierdie moeilike ekonomiese omstandighede in Suid-Afrika en wêreldwyd, waarin brandstof se pryse skerp styg, soek Shell na maniere om die enjins op die plaas langer aan die gang te hou.

“Ons wil ons boere meer winsgewend maak deur die waarde van die kommoditeite wat ons aan hulle bied te verleng,” sê Mpho Mokwena.

“Ons doen enjinmonitering en bied ʼn smeermiddel-opleidingsprogram wat wêreldwyd gesertifiseer is aan ons kliënte. Daarmee kan hulle hul werkers se vaardighede uitbou en hulle leer oor die evolusie van smeermiddels en die nuwe tegnologie wat op die mark is.”

Agter die modelplasie, wat verskeie plaasgeluide maak, staan Ntshimane Mochaki, smeermiddels-bemarkingsimplementeerder; Francois Costa, sake-ontwikkelingsbestuurder; Lucky Magakwe, sake-ontwikkelingsbestuurder; Riaan van der Walt, sake-ontwikkelingsbestuurder: landbou, voertuigvlote en OEM’s, en Mpho Mokwena, dienstebestuurder, almal werknemers van Shell.

Shell se Nampo-span (Foto: Du Preez de Villiers)

 

Hierdie groot sleepwerktuie van Agrico het vir die eerste keer hul verskyning op Nampo gemaak. Paul Burger, meganiese produkbestuurder, sê hulle verkoop deesdae meer daarvan vir rusperband- en die groter wordende trekkers. “Die kleiner werktuie kan op die trekker se driepunthyser gemonteer word, maar soos hulle swaarder word, moet hulle eerder gesleep word.”

“Van die sleepwerktuie word wel met dieptebeheerwiele toegerus sodat die werktuig hoër as die hoogte van die tande uit die grond gelig kan word. Die dieptebeheerwiele se ander funksie is ook om die werktuig te stabiliseer. Met die hidrouliese rollers agter kan die drukking op die grond in die ry verstel word.”

Hy sê hulle werk 400 mm diep en is ʼn goeie werktuig vir klipperige lande en om grondverdigtingslae op te breek. “Ons werktuie neig om ligter as die mededingers sʼn te trek en die tande help om die werktuig te rig deur te verhoed dat dit links of regs afwyk.

Langs hom staan ʼn T1250, T1000 en ʼn T800 en hul tande is 90 mm of 76 mm uitmekaar geplaas.

Paul Burger van Agrico (Foto: Du Preez de Villiers)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

SjN ·

Kan Nampo nie Saterdag sluit nie, daar is baie mens wat nie in die week verlof kan kry?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.